Ek en Herman Lensing, Sariekos se kosredakteur en bekroonde kookboekskrywer en tv-persoonlikheid, kom al ‘n lang pad saam. Maar die afgelope tyd was ek so di teen groot lekkerte om heelwat tyd met hom deur te bring. Ons het saam gewerk aan my eerste televisie-program, Lekker en Goed waar ons hard gewerk maar net so baie pret gehad het. Daarna kon ons by verskeie geleenthede heerlik klets. Ek het nog altyd gedink as mens eers ‘n storie in SarieKos kry, dan het jy “arrive”. Nou ja, in die nuutste SarieKos (die herfsuitgawe) wat nou al ‘n geruime tyd op die rakke is, word daar ‘n hele 5 bladsye afgestaan spesiaal aan my en my kosloopbaan van oor die 37 jaar. Dankie Herman!
Met die herfsonnetjie wat nou tog te lekker bak op my Wesskusstoep, maak ek dié slag vir my ‘n heerlike koppie koffie (ja, ek drink dit ook nog), kry my sit in ‘n sonkolletjie en blaai weer ‘n keer deur hierdie treffertydskrif, gelaai met idees en inligting. Die storie oor jogurt interresseer my veral, ek kyk met nuwe oë na blikkiesvis (my koskas staan juis propvol Lucky Star-blikkies, want ai, hulle is dan so mooi), daar is ‘n storie oor sampioene en sop, smaaklik en maklik om te maak en my gunsteling herfskos; selfs idees vir heerlike brekfis in die bed – spesiaal vir Moedersdag en net sulke lekker resepte vir koekies. Tjok en blok vol inspirasie. Maak seker dat jy jou kopie kry – beskikbaar in meeste supermarkte teen sowat R130.
Op Netwerk24 se nuutste kyk-en-luisterprogram: Klankgolwe, gesels Herman in Kosstories ook met mense uit die koswéreld en ek is so bevoorreg om ook genooi te wees. Ons klets tog te lekker oor dit en dat, maar gesels veral oor my siening van kos, maklike, bekostigbare en gesonder resepte, maar ook hoe belangrik dit is om by mekaar te kan leer en te kan deel. Volg die skakel om die uitsending te luister.
Ek deel ook die resep vir pampoentert (en patatghnocchi) waaroor ons gesels het in Kosstories.

Die bekende pampoentert van ouds was gelaai met suiker en botter. Hierdie een maak ek met jogurt om dit lekker romerig te kry en omdat pampoen, veral botterskorsies reeds lekker soet is, het mens nie so baie suiker nodig nie. Jy kan ook ‘n suikerplaasvervanger gebruik. Ek verkies etythritol.
As jy die pampoen met oranje patat vervang, kan jy die suiker nog heelwat minder maak. Skep dit in muffinpanne om klein pampoentertjies te bak as jy sou wil. Jy kan selfs hierdie pampoentert saam met roomys vir poeding voorsit. Die pekanneute hieroor gesprinkel, is veral lekker.
1—1,5 kg pampoen of botterskorsie of oranje patat of ‘n mengsel daarvan
250 ml (1 k) koekmeel
10 ml (2 t) bakpoeier
7,5 ml (1½ t) fyn kaneel
5 ml (1 t) sout
180—250 ml (¾– 1 k) suiker of versoeter soos etythritol
3 eiers
250 ml (1 k) natuurlike jogurt
60 ml (¼ k) gesmelte botter (opsioneel)
5 ml (1 t) vanieljegeursel
Ekstra kaneelsuiker of gekapte pekanneute vir bo-oor sprinkel
Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit die holtes van ‘n mediumgrootte muffinpan goed met kossproei of andersins ‘n oondvaste bak.
1 Stoom die pampoen, botterskorsie en/of patat tot sag en plaas in die bak van ‘n voedselverwerker.
2 Meng die koekmeel, bakpoeier, fyn kaneel, sout en bruinsuiker of versoeter saam en voeg by die pampoen.
3 Voeg die 3 eiers, natuurlike jogurt, gesmelte botter en vanieljegeursel by en verwerk tot glad. Skep in die holtes van die muffinpan en bak sowat 30–40 minute lank of tot stewig. Die tert kan nog effe klam wees. Sprinkel kaneelsuiker of pekanneute oor. Sit voor saam met jogurt of roomys as jy dit vir poeding wil opdien.
PATATGNOCCHI
Wanneer dit by pastamaak kom, verkies ek om gnocchi te maak, want dis so lekker maklik met die dat daar geen grootskaalse uitrollery by betrokke is nie. En die oulike pakkies deeg wat ek meerendeels met patat en botterskorsie maak pleks van aartappels, is heerlik saam met die lekker vars smake van pesto of caponata. Die glikemiese indeks is ook laer as die van gewone aartappelgnocchi.
500 g patatblokkies
500 g botterskorsie-blokkies
Sowat 500 ml (2 k) witbroodmeel
Sout en peper
neutmuskaat
PESTO
2 knoffelhuisies, fyngerasper
40 g pietersielie
50 g okkerneute
Olyfolie
Sap en gerasperde skil van ‘n halwe suurlemoen
Sout
VIR AFRONDING
Pecorino-kaas en gerookte forelstukkies (opsioneel) of andersins caponata
Roketblare
1 Stoom die patat en botterskorsie sag, verkoel effe en maak fyn in die voedselverwerker tot glad, voeg meel by en meng goed, maar liggies tot ‘n stywe mengsel. Geur goed met sout en peper en neutmuskaat.
2 Verwyder uit die bak en knie liggies tot ‘n hanteerbare deeg.
3 Verdeel in 4 ewe groot stukke en rol elkeen in ‘n lang dun rolletjie. Sny in ewe groot skyfies. Bedek met ‘n klam doek.
4 PESTO Plaas al die bestanddele vir die pesto in ‘n voedselverwerker en verwerk tot ‘n effe loperige pasta wat steeds growwerige neute bevat. Skep die pesto op ‘n groot dienbord.
5 NET VOOR OPDIENING, kook ‘n groot pot water of groen rooibostee en voeg die gnocchi in twee sarsies by. Bring weer tot kookpunt en laat prut tot die gnocchi na die oppervlak styg. Verwyder met ‘n gaatjieslepel. Herhaal.
5 Skep die gnocchi bo-op die pesto en rond af met pecorino-kaasskaafsels en forelstukkies indien verkies
6 Garneer met takkies roket. Andersins sit voor met die caponata-sous.
CAPONATA
Hierdie geurige tamatiestowe bly lank goed en is heerlik by die gnocchi.
Sny 2 eiervrugte, in blokkies, sout, laat staan ‘n tydjie en spoel af. Braai in ‘n bietjie olie tot sag. Skep uit. Braai 6 selderystele, wat gekap is saam met 1 gesnyde ui in nog olie tot sag en voeg 250 ml (1 k) ontpitte groen olywe asook 125 ml (1/2 k) gedreineerde afgespoelde kappertjiesade by. Voeg die eiervrug asook ‘n blik (400 g) Mediterreense tamaties asook 60—80 ml (¼–⅓ k) appelasyn en sowat 30 ml (2 e) suiker of na smaak by en laat prut tot geurig. Hoe langer die gereg staan, hoe geuriger gaan dit word. Sit voor saam met gnocchi, sprinkel amandelsplinters oor indien verkies asook bietjie verouderde Cheddarkaas.
