By die onlangse Lekker en Goed-kookklas wat ek op DeTolDeli aangebied het, is daar heerlik gekuier terwyl almal saam die spyse van die dag berei het. By aankoms het almal ‘n Rosé Sangria en verskeie Carmien Cold Brews geniet en hul verlustig aan ‘n geurige Persiese jogurtsop (laas week se resepte). Die tafel was ‘n bonte mengelmoes van Wonki- eetborde, ou beenhef-messegoed en onpaar servette met takkies loof en blare uit die tuin vir mooimaak in ou silwer.
Vir vooraf peusel aan tafel was daar ‘n glutenvrye hawermoutsaadbrood wat saam met ‘n geurige groentesalsa, voorgesit is. Piekenierskloof se vlagskipwyn, Grenache Noir met sy sweempie speseryegeure van komyn en anys het goed gepas by die bros saadbroodjie en gespeseryde salsa. Carmien se organiese natuurlike rooibostee het perfek gewerk as paletskoonmaker.
Na die hoofgereg van lamsblad met slaaie (volgende post) is die ete afgesluit met keurige klein dadelsjokoladeballetjies, mildadig gegeur met gemmer. Saam met PIekenierskloof se Grenache Blanc met sy sitrus aromas en sagte speserygeure saam met Carmien se Tropical Burst rooibostee met sy tropiese geurprofiel, was hierdie ‘n interressante, maar die perfekte drietal pasmaats.
Ek beoog om nog kookklasse en demonstrasies aan te bied, so indien jy belangstel, laat weet my by carmenniehaus@carmientea,co,za
SAADBROOD
Dié saadbrood bevat min koolhidrate en geen koringmeel nie, maar wel hawermout en sorghummeel. Dis plat en kry ook geen rysmiddels in nie. Lekker saam met ‘n die groentesalsa.
Lewer 3 klein plat broodjies
Bereiding: 10 min
Staantyd: 20 min
Baktyd: 50 min
250 ml (1 k) sonneblomsaad
250 ml (1 k) pampoensade
125 ml (1/2 k) lynsaad
250 ml (1 k) hawermout
125 ml (½ k) sorghummeel
30 ml (2 e) chiasaad
45 ml (3 e) psylliumvesels
5 ml (1 t) sout
15 ml (1 e) heuning of bruinsuiker
45 ml (3 e) klapperolie
375 ml (11/2 k) flou Carmien groen rooibostee (2 sakkies getrek in koue water)
Voorverhit die oond tot 180˚C. Spuit 3 klein pannetjies baie goed met kossproei, voer die bodem uit met bakpapier. Spuit weer.
1 Meng die sade, hawermout, sorghummeel en psylliumvesels en sout baie goed, maak seker dat die psylliumvesels goed deur die brood versprei is.
2 Meng die heuning of suiker, klapperolie en 125 ml (½ k) van die groen rooibostee. Verhit tot die suiker en klapperolie net gesmelt is. (moenie kook nie) Voeg res van tee by.
Voeg by die droë bestanddele en meng goed.
Druk vas in die voorbereide pan en bak 20 minute of die middelste oondrak.
Haal uit oond, keer brood uit en plaas onderstebo in die oond. Bak vir verdere 30 minute tot gaar – dis reg as dit hol klink as jy op die onderkant daarvan klop.
Laat heeltemal afkoel voor jy dit sny.
Hou vir 5 dae in ‘n lugdigte houer. Vries ook goed. Sit voor met salsa.
GROENTESALSA
Die sampioene word “gaar” in die sitrussap waarby ook allerhande ander lekkertes soos tamatie, avokado en mieliepitte ingemeng word, maw tipe cheviche.
GENOEG VIR 8 MENSE
Bereiding: 15 min.
Marineer: 30 min.
MARINADE
sap van 6 lemmetjies (3 suurlemoene) waarby 1 Carmien Revive-rooibosteesakkie gevoeg is (brandrissie en gemmer)
fyngerasperde skil van 1-2 lemmetjies
sout en peper
2,5 ml (½ t) komyn
2,5 ml (½ t) paprika
5 ml (1 t) fyngerasperde vars knoffel
GROENTE
625 ml (2½. k) bruin-en-knopiesampioene, in dun skyfies gesny
8-10 baba-Romatamaties, gehalveer
1 klein rooi en geel soetrissie, ontpit en in klein blokkies gesny
1 avokado, ontpit en in skyfies of blokkies gesny
1 middelslag-rooi-ui, geskil en gekap
125 ml (½ k) vars (rou) mieliepitte
125 ml (½ k) koljanderblare, gekap
1 MARINADE Meng al die bestanddele.
2 GROENTE Plaas al die groentebestanddele in ’n groot mengbak, giet die sous oor en meng goed.
3 Maak toe en verkoel sowat 30 min. in die yskas sodat die geure kan ontwikkel. Sit voor saam met die platbrode.
GEMMERDADELBOLLETJIES
Almal onthou kleindag se dadelbolletjies gemaak met die suikerbottersous waarby daar ook ‘n pak Mariebeskuitjies ingemeng is voordat die mengsel in klapper gerol is. Maar nou het ek hierdie gesonder weergawe bedink wat net so lekker smaak. Dadelbolletjies kan soveel variasies aanneem – voeg ‘n bietjie grondbonebotter en droëvrugte soos Turkse appelkose en bosbessies by en jy het heerlike energie-peuselkos waaraan jy kan weglê tydens of na ‘n oefensessie.
Net so, met ‘n goeie skoot gemmer in, is dit ‘n lekker soetdingetjie wat ek deesdae graag saam met tee of selfs koffie voorsit. Bowendien maak dit ook ‘n pragtige geskenkie wat jy mooi kan verpak
Maak 50 bolletjies
Bereiding: 20 min
500 g ontpitte dadels
1,25 ml (¼ t) koeksoda
125 ml (½ k) warm Carmien Focus-rooibostee (2—3 sakkies)
1 pakkie (200 g) suikervrye semelkoekies of 375 ml (11/2 k) hawermout, gerooster en effe fyner gekap
160 ml (⅔ k) kakao
250 ml (1 k) klapper
80 ml (⅓ k) klapperolie, gesmelt
30 ml (2 e) fyn gemmer
10 ml (2 t) vanieljegeursel
Klapper of kakao om in te rol
1 Plaas die dadels in ‘n glasbak en sprinkel die koeksoda oor. Giet die warm tee oor en verhit 1 minuut in die mikrogolfoond. Laat afkoel.
2 Plaas die dadels saam met res van die bestanddele buiten die klapper of kakao om in te rol, in die voedselverwerker en maak goed fyn.
3 Skep 12,5 ml (1 dessertlepel) van die mengsel uit en rol in bolletjies. Rol die bolletjies in klapper of kakao.
4 Sit voor saam met tee of koffie na ete of verpak in mooi houer.
Wenk: Jy kan ook bietjie fyngekapte Turkse appelkose en bosbessies, selfs ‘n bietjie grondbonebotter of sade by die mengsel inmeng vir ‘n heerlike energieballetjie, maak die klapper dan net minder.
