Ek vat hande met ‘n dieetkundige

Lekker eet, maar gesonder eet daarby, het my nog altyd baie na aan die hart gelê. Daarom is dit vir my so ‘n riem onder die hart dat die eerste televisie-seisoen van Lekker en Goed so goed ontvang is en almal aanklank daarby kon vind.

As kosskrywer en resepontwikkellaar met ‘n 4-jaar Huishoudkundegraad gespesialiseer in voeding, het ek egter juis weer die afgelope tyd besef dat die miernes inligting oor beter eet en goeie gesondheid my net meer en meer verwar, juis omdat ek darem ‘n redelike kennis daarvan het. En wat ‘n verligting toe my pad begin vanjaar kruis met die geregistreerde dieetkundige, Janine Niehaus van WESKUS DIETICIAN (ons probeer nog agterkom of daar familiebande is). Sedertdien het daar nou al vir my ‘n lig opgegaan oor verskeie aspekte wat ek nog nooit mooi uitgepluis kon kry nie, veral as dit kom by menopouse, “gut” gesondheid en eetprogramme wat inpas by ‘n strawwe oefenprogram. Janine tiek al daardie boksies en tesame met ‘n InBody-skaal, besef mens al te gou dat gewig veel meer as net ‘n enkele nommer op die skaal is.

Buiten dat Janine persoonlike eetplanne ontwikkel, het sy nou ook ‘n eetplan geskryf in samewerking met ‘n gimnasium op Velddrif waar die lede die totale pakkie kan kry – nie net ‘n ordentlike oefenprogram nie, maar ook ‘n goeie eetplan, saamgestel deur ‘n dieetkundige. Nou waar pas ek in.

Wel, om suksesvol te wees met enige eetprogram moet die mense ook lekker kan eet. En Janine gebruik onder ander my boek, Lekker en Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid, vir verskeie van die resepte wat sy in haar eetplanne insluit. Die resepte ontleed sy dan noukeurig om van die energie-inhoud tot die aantal proteiene, koolhidrate en vette wat dit bevat, te bepaal.

Op ‘n Saterdagoggend ‘n week of wat gelede, was daar sommer ‘n goeie klompie mense wat oefen en gesonder eet, ‘n prioriteit gemaak het. By die bekendstelling van haar eetplan het Janine se insiggewende praatjie nie net beter eetgewoontes in die algemeen aangespreek nie, maar ook verduidelik wat gebeur tydens menopouse asook hoe om beter om te sien na jou “gut”. Ek het ek die heerlike vegetariese dahlresep, wat kan dien vir ontbyt of ligte middagete uit my boek demonstreer en ons het ‘n maaskaas-hawermoutbroodjie gebak wat gelaai is met proteien en heerlik smaak saam met die dhal. Almal kon heerlik proe.

Janine het ook ‘n “shake” wat as ‘n gebalanseerde maaltydvervanger kan instaan, bekend gestel. Die lekkerte is, jy maak die “shake” aan met van Carmien se heerlike funksionele rooibostees. Almal kon tog te heerlik proe aan ‘n klompie variasies en help bepaal wat die lekkerste is.  Mientjie Mouton, CEO van CarmienTea, het ook meer vertel oor Carmien se wye reeks hoogs funskionele tees wat perfek pas by ‘n gesonder eetplan.

Beste van alles was, die borde was nog nie eers koud nie, toe kom die eerste navrae reeds in van mense wat in iets soortgelyks belangstel. So laat hoor van julle by carmenniehaus@carmientea.co.za

Smullekker dahl

Die geurige lensiemoes is ‘n proteienryke vegetariese dis wat heerlik is vir ontbyt of as ligte ete.

Genoeg vir 5 mense (250 ml elk)

Bereiding: 20 min

Gaarmaak: 30–40 min

2 uie, gekap

3—4 knoffelhuisies, fyngekap

15 ml (1 e) vars gemmer, fyngerasper

1 brandrissie, ontpit en gekap (opsioneel)

olie

15 ml (1 e) brejani-masala of geroosterde masala of medium kerriepoeier

2,5ml (1/2t) borrie

2,5 ml (1/2 t) paprika

10 ml (2 t) fyn komyn

1 blik (400 g) tamaties in sap ingemaak

500 ml (2 k) rooi lensies, vir ‘n halfuur geweek in 1 liter (4 k) water

500—750 ml (2—3 k) groenteaftreksel of chai-rooibostee gemaak met 6 sakkies (ek gebruik Focus van Carmien)

Sout en peper na smaak

Strooisel suiker

Lemmetjiesap

Groot handvol gekapte koljanderblare

VOORSIT

skeppie natuurlike jogurt

geposjeerde eier (opsioneel)

Maaskaasbrood (sien resep)

1 Braai die ui en knoffel saam met die gemmer en brandrissie in bietjie olie tot sag. Roer die speserye by en roerbraai tot geurig, so 5 minute, pas op vir brand.

2 Voeg die tamaties by en bring tot kookpunt.

3 Dreineer die lensies en voeg saam met die aftreksel of rooibostee by. Bring weer tot kookpunt en laat prut tot die lensies sag en eintlik tot ‘n moes gekook is.

4 Geur na smaak met sout en peper asook bietjie suiker en lemmetjiesap en ‘n goeie handvol koljander. Laat prut tot geurig, weer so 5 minute.

5 Skep in borde op en sit voor met ‘n geposjeerde eier indien verkies en ‘n sny maaskaasbrood

NUTRITIONELE ONTLEDING

1 porsie = 250 ml elk en lewer

17,2 g proteien (2,5 ruile); 30,4 g koolhidrate (2 ruile) en 6 g vet (1 ruil)

Maaskaas-hawermoutbrood

HIerdie is ‘n heerlike proteienryke brood.

Maak 1 medium broodjie (19 snye van 50 g elk)

Bereiding: 10 min

Baktyd: 40—50 min

500 ml (2 k) hawermout

15 ml (1 e) bakpoeier

5 ml (1 t) sout

160 ml (⅔ k) gemengde sade (vlassaad, lynsaad, sesamsaad, pampoensaad, en sonneblomsaad)

3—4 eiers

30 ml (2 e) ekstra-suiwer olyfolie

500 ml (2 k) gladde maaskaas (of 250 ml (1 k) amasi en 250 ml (1 k) groen rooibostee

Sade en hawermout om bo-oor te sprinkel

Voorverhit die oond tot 180°C.

1 Meng die hawermout, bakpoeier en sout in ‘n groot mengbak. Voeg die sade by en meng weer goed.

2 Klits die eier in ‘n ander bak, voeg die olyfolie en maaskaas by en klits tot goed gemeng.

3 Voeg die nat bestanddele by die droë bestanddele en meng liggies tot deeglik gemeng. Moenie oormeng nie.

4 Skep die mengsel in ‘n medium broodpannetjie. Sprinkel hawermout en sade bo-oor.

5 Plaas op die middelste rak in die voorverhitte oond. Bak 40—50 minute tot gaar en ‘n toetspen skoon uit die broodjie kom.

6 Geniet saam met die dhal.

NUTRITIONELE ONTLEDING

1 sny = 50 g en bevat

7 g proteien (1 ruil), 9 g koolhirate (0,5 ruil) en 7 g vet (1,5 ruile)

Leave a comment