Dis Kersfees

2024 lê bykans op sy rug en almal is besig om reg te skud vir die feesgety. Begin sommer vroegtydig beplan aan hoe julle Kersfeestafel vanjaar daar gaan uitsien. Dek dit uitspattig in helder kleure om sonnige Suid-Afrika te weerspieël.
Beplan ‘n buitetafel op die stoep of onder ‘n lekker koelteboom in die tuin. Gooi ‘n mooi tafeldoek oor, want vanjaar het ek ‘n helder mosterdkleurige een gekies met skokpienk servette en swart borde. Vir elegansie het ek verder gedek met kristalglase en silwer messegoed. Bloekomblare sorg vir die aardse gevoel.

Maak jou eie kandelaar met lint en gebreekte porselein (ek het stukke van my oudste borde, party wat geslagte terug dateer, gebruik) en hang dit bo-oor die tafel. Dit lok terselfdertyd ook lekker geselskap uit. En natuurlik kan daar nooit te veel kerse wees om die feestelikheid af te rond nie.

Maak ook seker dat die area rondom jou tafel mooi getooi is. Moenie skroom om van jou binnemeubels buitentoe te dra vir effek nie. Dit verskaf ekstra neersit- en uitstalplek. Vars blomme, optelgoed uit die natuur, (ek het ‘n paar vinknessies gebruik), selfs kruie in terracotta-potte of in kissies sorg vir interessantheid, groenigheid en sagtheid op die patio.

Die spyskaart wat ek vir vanjaar se Kersfeesete beplan het, kan warm of koud bedien word.
Vir voorgereg is daar ‘n vars nektarienslaai met prosciutto saam met ‘n heerlike vrugtige slaaisous, gemaak met Carmién se Passion Peach rooibos tee.
Lamsboud, gaargemaak in Carmién se Creamy Mint Green rooibostee en voorgesit met ‘n romerige sousie wat daarmee gemaak word, smaak voortreflik saam met roosmaryn-braaiaartappels.
Vir slaai is daar ‘n keurige broccoli-tamatieslaai wat alte spoggerig in ‘n kransvorm voorgesit word.
En vir poeding gaan jy jou ooreet aan die lekkerste Swartwoud-trifle, gemaak met sjokoladekoek wat saam met baie bessies in ‘n Floral Berry-jellie gestol word en bo-op soeterige romerige roomkaas afgerond met kersies. Mooi en lekker verby, maar glad nie so ryk dat jy ooreet voel nie.

Hou dop, want vanaf nou tot kort voor Kersfees gaan ek elke week video’s, foto’s en ook die resepte daarvoor vir julle deurgee.

Leave a comment