Koekies vir die feestyd

En sowaar, voor ons alweer kom kry, lê die jaar op sy rug en is ons besig om reg te skud vir die feesseisoen. In my grootwordhuis is daar jaarliks ook verwoed koekies gebak sodat die blikke vol kon wees vir wanneer die familie arriveer. Brosbrood, koffiekoekies, gemmerkoekies, speserykoekies en vele meer. Later van tyd is ons bederf met die heerlikste verskeidenheid koekies wat skoonsus Martie jaarliks vir ons bak. ’n Groot verligting vir my, want in die media-wêreld beteken jaareinde ook dubbele saktye met min tyd te spaar vir jouself. As ek wel tog soms ’n afknyp-tydjie het, bak ek koekies waarmee jy sommer kortpad kan vat, soos die vrieskaskoekies; maak ook graag ’n glutenvrye koekie wat self ook nie veel mengwerk verg nie en dan is ek natuurlik versot op biscotti… heerlik vir ietsie soets na ete. Lekker bak en hou die koekblikke vol.


VEELSYDIGE BISCOTTI

Ek hou van biscotti wat sonder botter gemaak word. Hier is lekker baie variasies, van een met sjokolade, amandels en selfs gemmer. Geniet na ete saam met koffie of sit dit voor met tee.


Maak 15–20 biscotti
Voorbereiding: 15 min
Baktyd: 25 min
Uitdroogtyd: 20 min

  • 3 ekstra groot eiers
  • 160 ml (2/3 k) suiker
  • 5 ml (1 t) vanieljegeursel
  • 5 ml (1 t) bakpoeier
  • Knippie sout
  • 500 ml (2 k) koekmeel

Byvoeging

  • 100 g pistasieneute, grof gekap
  • 100 g bosbessies

Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n bakplaat.

  1. Klits die eiers en suiker tot lig en romerig. Klits die vanieljegeursel by.
  2. Sif die droë bestanddele by en meng goed deur die eiermengsel. Voeg enige van die byvoegings by (sien ook variasies).
  3. Vorm in ’n bol en plaas op ’n oppervlak wat liggies met meel bestrooi is. Werk met klam hande, want die deeg kan effe taai raak.
  4. Verdeel die deeg in twee gelyke dele en vorm in twee ovaalvormige broodjies. Plaas op die gesmeerde bakplaat.
  5. Bak 25 minute tot effens bruin en ferm. Laat omtrent 10 minute op die bakplaat afkoel.
  6. Sny dan in dun diagonale skyfies van omtrent 5 mm met ’n riffeltandmes.
  7. Verlaag die oondtemperatuur tot 160 °C. Pak die biscotti-skyfies in ’n enkellaag op ’n draadrakkie op ’n bakplaat. Bak 10 minute aan elke kant tot droog.
  8. Laat goed afkoel en bêre in ’n lugdigte houer.

VARIASIES
Sjokolade-biscotti: Vervang 125 ml (1/2 k) van die koekmeel met kakao en die pistasieneute en bosbessies met gekapte pekanneute.
Amandelbiscotti: Vervang die totale hoeveelheid neute en bosbessies met heel amandels.
Gemmerbiscotti: Vervang die totale hoeveelheid neute en bosbessies met gekapte ingemaakte gemmer.

VIR LAE KOOLHIDRAAT-BISCOTTI: Vervang die suiker met eritritol en die koekmeel met fyngemaalde amandels.


VRIESKASKOEKIES

’n Absolute staatmaker om in die vrieskas gereed te hê. Die deegmengsel word in ’n rol gerol en dan in die vrieskas gedruk. Soos jy lus kry vir koekies bak, sny jy skyfies van die rol af en bak die lekkerste koekies. Die resep het ook lekker baie variasies: van koffiekoekies, sjokolade- en gemmerkoekies tot neute-, amandel- en klapperkoekies.

Maak sowat 20 koekies per mengsel
Voorbereiding: 15 min
Baktyd: 12–15 min
Vriestyd: 24 uur

  • 600 g (5 k) koekmeel
  • 20 ml (4 t) bakpoeier
  • 2 ml (1 t) sout
  • 400 g botter, in blokkies gesny by kamertemperatuur
  • 250 ml (1 k) strooisuiker
  • 1 blik (387 g) kondensmelk
  1. Sif die koekmeel, bakpoeier en sout saam.
  2. Room die botter en suiker tot lig en romerig. Voeg die kondensmelk by en meng tot glad.
  3. Vou die droë bestanddele en enige van die variasies by die bottermengsel in.
  4. Rol in rolle van sowat 5 cm in deursnee elk. Rol toe in waspapier en plaas 24 uur in vrieskas.
  5. Voorverhit die oond tot 160 °C en spuit 3 groot bakplate met kossproei.
  6. Sny deeg in skyfies van 5 mm dik soos benodig. Sprinkel koekkonfetti of neute oor soos genoem by koekies. Pak op die bakplate en bak sowat 12–15 min. of tot ligbruin. Laat afkoel. (Hou res van deeg in vrieskas vir latere gebruik).

VARIASIES

  1. Klapperkoekies: Voeg 250 ml (1 k) klapper by die droë bestanddele en meng in by die bottermengsel.
  2. Sjokoladekoekies: Vervang 70 g van die koekmeel met kakao.
  3. Neutekoekies: Voeg 100 g elk bosbessies en gekapte pistasieneute by.
  4. Amandelkoekies: Voeg 100 g elk fyn amandels en rooikersies by.
  5. Gemmerkoekies: Voeg 15 ml (1 e) fyn gemmer by die basiese vrieskaskoekiemengsel en meng goed.
  6. Koffiekoekies: Voeg 10 ml (2 t) kitskoffiekorrels by die deeg.

MAKLIKE SJOKOLADE-EN-KLAPPERBOLLETJIES

Hierdie heerlike glutenvrye koekies bevat geen koekmeel of botter nie en die suiker is versiersuiker.

Lewer 20–30 bolletjies
Bereiding: 10 min
Bak: 20 min

  • 70 g kakao
  • 200 g versiersuiker
  • 300 g fyn klapper
  • ’n Knippie sout
  • 5 ml (1 t) vanieljegeursel
  • 4 eierwitte, effens geklits

Voorverhit die oond tot 160 °C. Voer ’n bakplaat met bakpapier uit.

  1. Plaas al die droë bestanddele in ’n bak en meng goed. Voeg die vanielje by.
  2. Voeg die eierwitte bietjies-bietjies by en meng liggies deur tot goed gemeng.
  3. Skep hopies met ’n roomyslepel (of ’n 15 ml-maatlepel) uit en druk die mengsel goed vas aanmekaar.
  4. Pak op die bakplaat.
  5. Bak 15 min. of tot gaar. Laat afkoel en bêre in ’n lugdigte houer.

Leave a comment