
Laas week land hier ‘n pakkie, tot boordens toe gelaai met brood en wyn, konfyt en nog vele ander lekkernye by my. Dis van Arina du Plessis, kosredakteur van Landbou-Boerekos. Daarby die someruitgawe van die treffer-tydskrif, Landbou Boerekos, die someruitgawe. Voorop ‘n skottel frikadelle, die frikadelle wat Miriam Onewang, die ontslape Peter Veldsman se jarelange huishoudster, altyd spesiaal vir hom gemaak het. Dadelik kry ek my sit met ‘n stomende koppie koffie en begin deurblaai. Buiten die besonderse storie wat Arina skryf oor hierdie kos-ikoon is daar ook stories (en resepte) met ses boere wat hul toespits op herleweingslandbou en hul filosofie van “gesonde grond, gesonde kos” elke dag uitleef. Arina kuier op plase van die Wes-Kaap tot in Limpop en maak kos met die plaasprodukte, onder andere ook tamaties. Vanuit haar toetskombuis kom daar resepte vir kleinkoekies en dekadente nageregte, net reg vir die feestyd. Hul vier die trots Suid-Afrikaanse kultivar, Pinotage se 100ste verjaarsdag en maak ook ‘n draai by agt wynmakers. Selfs Suid-Afrika se eerste Michelen-sjef, Jan van der Westhuizen, vertel sy storie van plaaskind tot internasionale restaurateur en veelbekroonde sjef. Hy deel ook sy spesiale spyskaart vir die Kerstafel. Soos altyd hou Arina nie terug nie en die uitgawe is tjok en blok met 100 beproefde resepte. LandbouBoerekos is by supermarkte te koop teen slegs R105. Ek het ‘n paar smullekker tamatie-resepte gekies, net reg om die gul somer uitbundig te vier.
Resepte en stilering: Arina du Plessis
Foto’s: Lee Schwagele

Romerige chorizopasta met gebarste tamaties
- 1 chorizowors
- 125 ml (1/2 k) olyfolie
- 4 knoffelhuisies, dungesny
- 750 g kersie- of klein rosa-tamaties
- 125 ml (1/2 k) room
- Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
- 1 pak (500 g) spaghetti of ander lintnoedels
- 45 ml (3 e) grofgeskeurde basiliekruidblare
- parmesaanskaafsels, om af te rond
Trek die velletjie van die chorizowors af en kap die worsvleis fyn. Verhit 45 ml van die olie in ’n diep pan en braai die chorizo daarin tot bros en geurig. Voeg die knoffel by en braai verder tot die knoffel sag is, maar nie bruin nie. Skep die mengsel in ’n bakkie uit en hou eenkant.
Giet die orige olyfolie in die pan en verhit tot warm. Voeg die kersietamaties by en braai tot die skille bars. Verwyder van die hitte en voeg die chorizomengsel, room, sout en peper by. Meng liggies en hou eenkant warm. Kook die pasta in ’n groot kastrol met vinnig kokende soutwater tot net gaar. Dreineer en voeg dit dadelik by die warm tamatiesous. Geur weer na smaak met sout en peper, strooi die basiliekruidblare oor en rond af met parmesaanskaafsels. Sit dadelik voor.
Lewer 6 porsies.

Tamatie-plathoender
- 1 groot heel hoender
- Olyfolie
- 30 ml (2 e) fyn koljander
- 30 ml (2 e) paprika
- 30 ml (2 e) komyn
- 30 ml (2 e) swartpeper
- 10 ml (2 t) sout
Sous
- 250 ml (1 k) tamatiepuree
- 60 ml (1/4 k) vars suurlemoensap
- 2 knoffelhuisies, fyngerasper
- 45 ml (3 e) bruinsuiker
- 45 ml (3 e) worcestersous
- 45 ml (3 e) olie
- 45 ml (3 e) blatjang
- 15 ml (1 e) appelkooskonfyt
Gebruik ’n skerp skêr en knip die hoender van die borsbeen af tot onder oop. Vou die hoender oop, draai om en druk dit met jou hande plat. Bedruip met olyfolie. Rooster die speserye en sout in ’n droë pan tot geurig en laat afkoel. Vryf die hoender goed daarmee in. Sit die hoender in ’n plastieksak, druk al die lug uit die sak en verseël. Verkoel vir minstens 2 uur, maar verkieslik oornag. Meng al die bestanddele vir die sous.
Braai die hoender stadig in ’n toeklaprooster oor matige kole en draai gereeld om. Sodra die hoender halfgaar is, begin dit met die sous verf ná elke draai van
die rooster. Braai verder tot gaar. As jy twyfel of die hoender gaar is, wikkel aan sy boude. As dit los voel of dat dit maklik kan afbreek, is die hoender reg. Sit voor met slaaie of bykos van jou keuse.
Lewer 6 porsies.

Tamatie-en-fetaplatbrode
’n Lekker variasie op ’n pizza – heerlik vir ’n stoepkuier op ’n somersdag.
Platbrode
- 500 ml (2 k) bruismeel
- 5 ml (1 t) sout
- 310 ml (11/3 k) dik natuurlike jogurt
Fetasmeer
- 3 wiele fetakaas, grof gekrummel
- 250 ml (1 k) dik natuurlike jogurt
- Varsgemaalde swartpeper na smaak
- 3 ml (ruim ½ t) gemengde droë Italiaanse kruie
Geroosterde tamaties
- 500 g rosa- of kersietamaties
- 2 koffelhuisies, dun gesny
- 80 ml (1/3 K0 olyfolie
- Seesoutvlokkies en varsgemaalde swartpeper na smaak
- 10 ml (2 t) balsamiese asyn
- Jong basiliekruidblaartjies en goeie olyfolie, om af te rond
- Jong basiliekruidblaartjies en goeie olyfolie, om af te rond
Platbrood: Meng die meel en sout in ’n groot bak. Voeg die jogurt by en maak aan tot ’n deeg. As die deeg baie klam is, voeg ’n bietjie ekstra meel by tot dit nie aan jou hande vassit nie. Verdeel die deeg in 6-8 stukke en rol elke stuk op ’n meelbestrooide oppervlak plat uit in ’n reghoekige of ovaal vorm. Verhit ’n droë, kleefvrye riffelpan en braai die brood vir ongeveer 2 minute aan elke kant tot goudbruin buite en deurgaar. Haal dadelik uit die pan en verf die warm brood aan albei kante met ’n lagie gesmelte botter of olyfolie. Hou eenkant.
Fetasmeer: Verwerk al die bestanddele vir die smeer in ’n voedselverwerker tot romerig. Skep uit, bedek en hou eenkant.
Tamaties: Voorverhit die oond tot 220 °C. Sny die helfte van die tamaties middeldeur en hou die ander helfte heel. Pak die tamaties in ’n enkellaag in ’n oondbak. Meng die knoffel en olyfolie en sprinkel oor die tamaties. Meng deur. Geur goed met sout en peper en sprinkel die balsamiese asyn oor. Oondrooster die tamaties tot die skilletjies begin bars. Haal uit die oond.
Smeer die platbrode met ’n laag van die fetasmeer en skep van die geroosterde tamaties oor. Rond af met jong basiliekruidblaartjies en olyfolie en sit dadelik voor. Lewer 6-8 porsies.
