Weskusskatte

Die Weskus verras my van die dag meer en meer – soos die vele kosskatte wat daar is. Kosmarkies op Saterdae is mos geen snaaksigheid meer nie, en ek het lankal reeds geweet van die Hopefieldmark. Maar nou het hierdie mark en verskeie ander groot kokkerdore in die omliggende kosbedryf, soos onder andere die bekende Kokerboomkaas van Velddrif, Eat Artisanal (Ilze Mostert wat voorheen Hello gehad het op Hopefield), saamgespan en bedryf nou die byderwetse Foodie Hub vanuit ‘n pragtige ou gebou langs die Soutrivier in Rivierstraat, Hopefield. Hier kan jy nie net oor naweke nie, maar vanaf Dinsdae reeds sekere spesiaal uitgesoekte ambagskosse (Afrikaanse woord vir artisanal) by die deli koop. Saterdae, natuurlik, is dit meer gestapeld met plaasvars groentes, brode en varsgebak.
Ek het ‘n Saterdag of wat terug gaan inloer en was van die voordeur tot agter by die knus ingerigte stoep met sy voëlnessie-muur, waar jy by tafeltjies jou aankope kan geniet, veel meer as beïndruk. Dis nie sommer net so nie – dis mooi en keurig ingerig, die uitgesoekte produkte en kosse mooi verpak en interessant uitgestal – die vryloop-eiers in ‘n sifraamkas, die vars biet en wortels met hul loowe aan sit knus in ‘n sinkbad. Vir die suurdeegbrode kry jy ‘n klaargebruikte meelsak om hom in huis toe te vat….om elke hoe en draai voel jy om net nog iets in jou boks te wil pak waarmee jy by die voordeur toegerus word as “inkopiesak” En die beste, in elke kamer was daar iemand wat jou meer kon vertel oor elke produk, en jy kon proe ook!

Die Jimny se kattebak is tot boordens toe gelaai met die varsste groente: waterblommetjies en veldkool, selfs krulkool asook Moorrees se varsgebakte (nou befaamde) suurdeegbrode; ‘n verskeidenheid Kokerboomkase, onder andere ook die nuutste toevoeging, die romerige ligte bloukaas-camembert en dan verskeie deli-produkte, wat met kwaliteitprodukte en die grootste sorg en keurigheid gemaak is (dink clean eating) waaruit ek ‘n moeilike keuse moes maak, maar ek ‘n heeeerlike lemmetjie-preserve; die mooiste, grootste Majool-dadels, dadelsmeer, wat geen suiker bevat nie; eiervrugblatjang, hoemoes met ‘n skeutjie gemmer in; ‘n Chilli Crisp, wat gekarameliseerde uie in ‘n brandrissie-olie is en my gunsteling, ‘n Dhania-blatjang in my “inkopiesak gepak saam met ‘n heerlike tuisgemaakte botterskorsie-quiche met van die Kokerboom-bloukaas in. Regtigwaar produkte wat jy nie sommer op elke hoek en draai gaan uitskop nie. En dis nie al nie; mens kan ook bespreek vir kookklasse by die mark se kosmentor, Marieza van Zyl, wat jou van dumplings leer maak tot waterblommetjies kook; of jy kan gaan aansit by Ilze Mostert se opspringtafels waar sy telkens die lekkerste spyskaarte uitrol. ‘n Heerlike hub waar mens net lekker kan proe en beleef.
Vir meer info: 084 3055258
Met my proviand het ek toe inderdaad vir ons die geurigste waterblommetjiebredie, met lemmetjie-preserve en ‘n skoot Chilli Crisp in gemaak en dit voorgesit met die Dhal-blatjang. Die Moorrees-suurdeegbrode saam met al die kase, hoemoes en preserve was die vooraf lusmakers.

Waterblommetjiebredie

Genoeg vir 4—6 mense
Bereiding: 20 min
Kooktyd: 1½ uur

  • Olie
  • 2—3 uie, in stukke gesny
  • 4 knoffelhuisies, fyngerasper
  • Carmién se groen rooibostee om mee aan te klam
  • sout
  • 1 kg skenkelvleisstukke, eerste vet afgesny
  • 4—6 klein aartappeltjies, skoongeskrop en gehalveer
  • 2 kg waterblommetjies, effe laat leïn in soutwater en dan goed afgespoel
  • 4 lemmetjie-preserve, in stukke gekap
  • 15 ml (1 e) Chilli-crisp-olie
  • Basmati-rys en Dhania-blatjang om mee voor te sit
  1. Verhit bietjie olie in ‘n groot pot met ‘n deksel en braai die ui en knoffel daarin tot sag; voeg ‘n bietjie groentee by om die mengsel meer te smoor as braai.
  2. Sout die vleis en braai in ‘n lotte in die uiemengsel tot effe bruin buite-om. Voeg ‘n goeie skoot groentee by, maak toe, verlaag die hitte en laat prut tot die vleis amper sag is.
  3. Voeg die aartappels by (en nog tee soos nodig) en prut tot die aartappels halfpad sag is.
  4. Pak dan die waterblommetjies op, voeg die preserve by, maak die deksel toe en laat stoom tot die waterblommetjies heerlik sag en stukkend gekook is.
  5. Geur met nog sout soos nodig en sit voor met die rys en blatjang.

Leave a comment