Kortpad in die kombuis

Ek het laas naweek tog te lekker gekuier saam met die vroue uit die wynlande by Beyerskloof buitekant Stellenbosch tydens ‘n geldinsameling vir die Faith Fund van Beyers Truter wat fetale alkohol-sindroom onder plaaswerkers aanspreek.

Weer het ek ‘n gaar hoender ingepak om vir die vroue te wys hoe moeiteloos mens dit kan inspan om ‘n verskeidenheid heerlike geregte wat ook voedsaam is, binne ‘n ommesientjie te maak. Gekoopte gaar hoenders is nie net hier by ons gewild nie, maar ek het onlangs ook ‘n video gesien van ‘n Costco-werknemer wat binne minute die heel gaar hoender ontvel en ontbeen het. (ek demonstreer dit toe ook sommer vinnig by die vroueoggend) Ons het nou al geroerbraai, ‘n heerlike kerriehoenderslaai/waldorfslaai gemaak, thaise kerrie met ‘n klappermelksous, gebakte koljanderpesto-hoender en so kan die lysie aangaan en aangaan. Ek het toe ook sommer die geleentheid gebruik om hulle te wys hoe maklik ‘n mens jou eie pesto aanmekaar kan slaan.

Tuis by die huis bak ek weer die hoenderpastei waarvan ek die resep met julle vroeg Mei-maand gedeel het – die een wat jy sommer in die Airfryer maak (kry die resep hier). Maar omdat ek nooit ‘n resep mos twee maal dieselfde maak nie, braai ek eiervrug saam met die sampioene, meng ook ‘n handvol spinasie by en bak dit dan in ‘n filodeegkors. Binne ‘n ommesientjie is die ete klaar.

Ek sorg ook altyd dat daar ‘n boks of twee filodeeg in my vrieskas is, want dis darem net te maklik (en gesonder) as jy gou ‘n smullekker tert wil maak. Al wat jy hoef te doen om te keer dat die dun velletjies deeg breek, is om dit onder ‘n klam doen te hou terwyl jy daarmee werk. Dan droog dit nie uit nie en word ook nie bros nie. Ek gebruik dit ook graag wanneer ek groenteterte maak. Veral noudat ek na beter gutgesondheid kyk, verskyn dié deesdae gereeld in alle gedaantes op my etenstafel.

Beet is so ‘n gewillige groente en jy hoef glad nie net soetsuuur-beetslaai daarvan te maak nie. Ek sien ook deesdae klaargaar beet wat lugdig verpak is op die winkelrakke. Dié span ek graag in om ‘n vinnige beetslaai saam met feta en ‘n rooibos-lemoenslaaisous te maak – heerlik by braaivleis. Maar beet is net so lekker as jy ‘n souttert daarvan maak. ‘n Streepsel pesto daardeur gemeng, verhef dit tot nuwe hoogtes.

BEET-SOUTTERT

GENOEG VIR 4 MENSE
Bereiding: 30 min.
Bak: 25-30 min.

4 velle filodeeg, elk gesmeer met gesmelte botter of klapperolie en op mekaar gepak
VULSEL
420 g ingemaakte beet of beetslaai
olie
sout en vars gemaalde peper
1 rooi-ui, gekap
1 knoffelhuisie, fyngedruk
400 g baba-spinasie
2 wiele fetakaas
250 ml (1 k) romerige jogurt
3 eiers
30—45 ml (2—3 e) koljanderpesto (sien resep)

Voorverhit die oond tot 180 °C.
1 Voer ’n losboom-tertpan uit met die filodeeg. (As jy in die Airfryer wil bak, sal ‘n ronde een wat 20 cm in deursnee is, inpas)
2 Vulsel Dreineer die beet goed en sny in dun skyfies.
3 Braai die ui en knoffel in ’n bietjie olie tot sag. Voeg die spinasie by en verhit tot verwelk. Laat effens afkoel.
4 Skep die spinasiemengsel in die bereide tertpan, rangskik die beetskyfies bo-op en sprinkel die fetakaas oor.
5 Klits die jogurt en eiers saam, geur met die sout en vars gemaalde peper, meng ‘n lepel of wat pesto deur indien verkies) en giet in die tertkors.
6 Bak 25-30 min. of tot die vulsel gestol en die filodeeg ’n ligte goudbruin is.

KOLJANDERPESTO

3 x 20 g koljanderblare
2—3 knoffelhuisies, fyngerasper
Sap en gerasperde skil van 1 suurlemoen
100 ml olyfolie
100 g papmpoenpitte

Plaas alles in die NutriBullet en kap fyn.

Leave a comment