Woudkoek

‘n Koek wat uitspattig versier is met allerhande takkies vanuit die natuur maak die mooiste ‘centrepiece’ vir ‘n teetafel. Ek was nog nooit een wat groot was op koekversiering nie, selfs kinderkoeke versier het my nie eintlik aangestaan nie. Maar nou lees ek dat gepersde blomme en allerhande droë goed vanuit die natuur die nuutste tendens in koekversiering is. Toe ek nou die dag dus ‘n koek moet versier, nader ek dadelik my blomvriendin, Elmarie van den Berg van Soutbos. Sy kan nou waarlik waar toor met blomme. “Toe maar, los dit vir my”, is haar vertroostende woorde. En ek kan rustig aangaan om die koek gebak te kry terwyl ek weet Elmarie sal magic maak as dit by die versierdery kom.

Op d-dag laai ek vroegoggend die vierlaagkoek, wat ek toe al dik met ganache gesmeer het, in die kar, Vredenburg toe, Food Lover’s Market toe, daar waar Elmarie deesdae haar blommestalletjie in die hoekie naas die kasregisters bedrywe. Uit haar blomemmers haal Elmarie slangbos en nog so ‘n ander silwerige bossie asook ‘n paar gedroogde wilde vinkelblomme, daarby ‘n paar koringblommetjies en klokkies. Ons steek die takkies, nie te veel nie, versigtig vas met groot spelde, druk ‘n paar blommetjies tussen-in en die beskeie koek ontpop in ‘n pronkstuk – net reg om die ster van die tafel te wees.

Hawermoutsjokoladekoek
Vir ‘n vierlaagkoek

Glo dit of nie, maar die basis van hierdie sjokoladekoek, wat nie eiers in kry nie, is hawermout wat ek vinnig in Carmién se Turkish Delight-rooibostee kook voordat ek dit by die beslag inmeng. Die Turkish Delight verleen ‘n heerlike blomgeur aan die sjokoladekoek en die hawermout sorg dat die koek lekker klam is.

Bonus: kry 10% af op alle Carmién Tea aankope op www.carmientea.co.za met die kode carmenniehaus.

4 x 250 ml (4 k) koekmeel
250 ml (1 k) kakao
25 ml (5 t) koeksoda
2,5 ml (½ t) sout
500 ml (2 k) suiker
1 liter (4 k) Carmién Turkish Delight-rooibostee (gemaak met 8 teesakkies)
325 ml (1½ k) olie
60 ml (1/4 k) druiwe-asyn
20 ml (4 t) vanieljegeursel
500 ml (2 k) hawermout
500 ml (2 k) water
GANACHE
4 x 80 g donker sjokolade
250 ml (1 k) room

Voorverhit die oond tot 180°C. Voer die bodems van 4 20-cm-losboompanne uit met bakpapier en spuit met kossproei.
1 Sif die koekmeel, kakao, koeksoda en sout saam en voeg die suiker by.
2 Meng die rooibostee, olie, asyn en vanieljegeursel saam in ‘n groot glasbak en voeg die hawermout by. Kook 2 minute in die mikrogolfoond tot die hawermout effe versag het. Laat effe afkoel.
3 Voeg die water by die hawermoutmengsel en meng alles by die droë bestanddele in.
4 Verdeel die beslag tussen die 4 panne en bak sowat 30 minute of totdat die koek net gaar is en ‘n toetspen skoon uit die middel van die koek kom.
5 Smelt die sjokolade saam met die room in die mikrogolfoond ‘n minuut op ‘n slag en roer tot die sjokolade glad is.
6 Smeer bietjie ganache oor 3 van die koeklae en stapel die koeklae opmekaar. Smeer die res van die ganache bo-op en rondom die koek.
7 Versier die koek na goeddunke.

Leave a comment