Kabouter-Spinasietert

Wie van ons het ons nie kleintyd verkneukel in die mooie Liewe Heksie-stories nie. Ons was groot aanhangers. My ma het altyd vir ons voorgelees, my jongste sussie se troetelnaam was tot Blommie en daar was selfs ‘n Mattewis-kat op die werf. Nou die dag verwyl ek bietjie tyd in die plaaslike Bargain Books in die Laguna Mall hier by ons. Buiten dat hulle my nuuste boek, Lekker & Goed, in die winkelvenster uitstal, is daar vele juwele te vind tussen die rakke. So tussen die ronddwalery deur, val my oog terloops op Liewe Heksie-boekies. En terstond koop ek weer vir my twee.

By die huis kan ek nie wag om die manewales van Liewe Heksie, Blommie Kabouter en Karel Kat opnuut weer te beleef nie. Hulle het altevol graag op die stoep gesit en kuier en allerhande slim? planne daar sit en beraam. My kabouteroor-koppies wat ek by Mervyn Gers gekry het, laat my opnuut weer terugdink daaraan en ek gebruik hul graag om koffie of tee in te bedien. Jarelange vriende laat weet onlangs hulle kom maak ‘n vinnige draai – lekker bok-vir-sports-pelle en ek besluit dadelik ons gaan uit die kabouteroor koppies tee drink. Die wintersonnetjie bak heerlik op die stoep, so die teegoed word daar gedek en ek bak vinnig die allerlekkerste spinasietert in die Airfryer wat ons toe sommer tersond ‘n kabouter-spinasietert doop.

SPINASIETERT

Maak ‘n medium tert
Bereiding: 20 min
Baktyd: 30 min

4—6 velle filodeeg, ontdooi
Gesmelte botter
VULSEL
2 uie, fyngesny
250 g sampioene, in skyfies gesny
olie
300 g spinasie, goed afgespoel en fyn gesny
Spatsel balsamieke asyn
4 eiers
180 ml (¾ k) volroommelk
5 ml (1 t) aangemaakte mosterd
Sout en peper na smaak
200 g sterk Cheddarkaas, gerasper
Paar baba-spinasieblare vir afrond

Spuit ‘n 20-cm losboompan goed met kossproei.
1 Stapel die filodeeg opmekaar en sny in 4 blokke. Smeer elke blok met gesmelte botter, stapel so 4 opmekaar en voer die pan rofweg met die filodeeg uit. Die punte kan maar so oor die rand van die pan steek. Hou eenkant.
2 Braai die uie en sampioene in bietjie olie tot sag, voeg die spiansie by en verhit tot dit verwerk het, sprinkel ‘n spatsel balsamieke asyn oor.
3 Kltis die eiers, melk en mosterd saam en geur na smaak met sout en peper.
4 Sprinkel ‘n laag kaas onderindie voorbereide pan, vervolg met ‘n laag spinasiemengsel. Herhaal die lae, eindig met kaas.
5 Giet die eiermengsel oor.
6 Skakel die Airfryer op bak aan en stel op 180°C.
7 Plaas die koekpan versigtig in die laaitjie en bak vir sowat 30 minute of tot die eiervlamengsel gestol is en die tert goudbruin bo-op is. (bedek die pan na sowat 14 minute met ‘n vel tinfoelie om te verhoed dat die bokant te donker word.
8 Laat effe afkoel in die pan en ontvorm dan op ‘n tertbord of koekstaander. Rond af met vars baba-spinasieblare en sit louwarm voor.

Leave a comment