Dis ‘n nuwe jaar en vir baie is beter eetgewoontes (ook met die idee om ‘n paar kilos te verloor), deel van hul nuwejaarsvoornemens. My inbox is ook gebombardeer met allerlei kitsdiete en produkte om te help om hierdie doel te bereik. Wat wel my oog gevang het, was ‘n storie op die gerekende gesondheidsorg-webtuiste, WebMD oor ‘n ranglys met beste dieetplanne wat uitskieters was.
Hiervolgens is die Mediterreense dieet (ses keer in ‘n ry) weereens aangewys deur die U.S News & World Report as die beste algemene dieetplan. Dadelik het die dieetkundige, Liezl Compion van True You Nutrition geraadpleeg sodat sy met ‘n kennersoog deur die lysie kon gaan en haar opmerkings neerpen. Sy onderskryf die aanbevelings van die Mediterreense dieet aangesien dit veilig en op die langtermyn volhoubaar is. “Jy is nie honger nie en dis baie meer gebalanseerd en fokus ook op die genot en sosialisering rondom eet.” sê sy.
En ek juig en jubel, want my nuwe boek, Lekker & Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid, is juis grotendeels geskoei op ‘n Mediterreense eetplan en dus is die grootste deel van die resepte dus geskik as jy so ‘n eetplan wil volg.
Hier’s ‘n paar redes hoekom die Mediterreense eetplan so gewild is:
1 Jy hoef geen kilojoules te tel nie
Jy hoef nie ‘n sakrekenaar byderhand te hou om kilojoules te tel nie, nee, jy ruil slegte vette uit vir hartvriendelike vette – soos olyfolie pleks van botter; geniet vis en hoender pleks van rooivleis. Geniet vars vrugte en bly weg van suikerbelaaide fênsie poedings.
2 Die kos is vars
Die fokus is op vars seisonale kosse, geensins geprosesseer of vinnige wegneem kitskosse nie. Bou ‘n smullekker slaai met spinasie, komkommer en tamaties saam met heerlike Griekse bestanddele soos olywe en feta kaas of maak ‘n verfrissende tamatie-gazpacho – die resep is in my boek.
3 Yé, jy kan brood eet!
Probeer brood met volgrane (sien die maklike volgraan-roerbrood en heerlikste volgraan muffins in my boek). Ek geniet veral deesdae die broodvierkante (Blue Ribbon squares) wat mens deesdae te koop kry. Die multi seed & oats een is veral vir my lekker. Geniet dit pleks van hamburgerrolletjies of pitabrood saam met iet soos hoemoes (daar’s ook ‘n maklike, bekostigbare resep hiervoor in die boek).
4 Vet is nie verbode nie
Kyk net uit vir die goeie soorte: jy sal dit vind in neute, olywe, en olyfolie. Hierdie vette (nie die versadigde of transvette nie) voeg geur by kos en help om siektes soos diabetes en selfs kanker te beveg. Kyk vir ‘n lekker pesto-resep in my boek.
5 Die spyskaartkeuses is grooot en eenvoudig om te maak
Mediterreense kosse sluit meer in as slegs Griekse of Italiaanse geregte. Marrokaanse, Spaanse en Turkse resepte val ook hierby in. Hou by die basiese: wees lig op rooivleis en volvet-suiwel, maar geniet baie groente en vrugte, olyfolie en volgrane. Sien bv. die Griekse bulgurslaai en Marokkaanse hoenderpastei in my boek.
6 Heerlik gegeur
Suurlemoen, lourierblare, koljanderblare, roosmaryn, tiemie, knoffel, peper, kaneel en koljander gee soveel geur dat dit eintlik nie eers nodig is vir sout nie. Baie bevat antioksidante en het ook gesondheidsvoordele.
7 Geen hongerpyne
Mediterreense kosse bv ‘n boneslaai, word stadig verteer, so jy gaan langer versadig voel. Tussendeur kan jy ook peusel aan neute, olywe of laevet kase – Halloumi en feta het minder vet as Cheddar, maar is net so lekker.
8 Dis hartvriendelik
Omtrent alles is hartvriendelik – olyfolile en neute help om slegte cholesterol te verlaag. Vrugte, groente en bone help om die are skoon te kry. Vis help om trigliseriede en bloeddruk te verlaag. Selfs ‘n daaglikse glasie wyn is goed vir die hart. Loer veral na die heerlike verskeidenheid visresepte soos die viskoekies en gebraaide vis in my boek.
9 Jou brein is skerp
Dieselfde goedheid wat jou hart beskerm, is ook goed vir jou brein. Jy eet nie slegte vette of geprosesseerde kosse wat inflammasie kan veroorsaak nie, maar anti-oksidantryke kosse wat hierdie eetstyl ‘n breinvriendelike keuse maak.
10 Jy kan gewig verloor
Die basiese Mediterreense eetstyl laat jou jou langer versadig voel, jy is dus nie geneig om aan ongesonde kosse te wil peusel nie en daarom is dit makliker om by die eetplan te hou en in proses ‘n paar kilojoules te verloor. Onthou egter ook om gereelde oefening deel van jou leefstyl te maak.
Liezl Compion: liezl.compion@gmail.com
Lekker & Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid word uitgegee deur Lapa en is beskikbaar in vooraanstaande boekwinkels soos Exclusive Books en Bargain Books asook by Checkers en aanlyn op die Carmién-webtuiste.