Met die verfilming van Lekker en Goed is daar geen moeite ontsien om dit weer pragtig mooi te maak nie.
Nie net vra dit lang ure vooraf beplanning en dinkwerk nie, maar met die fisiese bymekaarsit van alles is daar net so baie uitdagings wat oorkom moet word.
Die befaamde Herman Lensing is nie net ‘n uitstaande sjef nie, maar het ook gesorg vir die kombuis se dekor wat binne 24 uur moes klaar.
Kratte en kratte props het op ‘n Saterdagmiddag by een van die villas van Sharkbay Boutique Hotel opgedaag. Ja, ons het weer daar verfilm.
Daar was letterlik emmers en emmers blomme van Adene’s Farm Flowers wat teen die dak moes kom en die pienk werkbank was te lank om met die trappe te op.
Dié is toe opgehys (net met mannekrag) oor die balkon tot by sy staanplek in die kombuis.
Die magic het begin en teen Sondagaand was die kombuis ‘n towerbeeld van blomme en kleur en om elke hoek en draai ‘n ietsie om oor te oe en aa. Selfs die borge het hul staanplekkies gevind: ‘n oorgroot Lucky Star-blik op ‘n stoel, massas uie, beet en wortels van Wildeklawer in hul laaie, boksies Carmién tee en teepotjies op rakkies en Piekenierskloof se wyne netjies in die wynrak. Herman het sy ma se ou pienk Kenwood laat diens en die het ‘n spesiale plek in die kombuis gekry en is goed ingespan.
Die Langebaanmeer het ook sy beste kant gewys en weereens is die mooiste tafels daar gedek. Partykeer was ons letterlik omtrent in die diep water.
Daar is baie hard gewerk. Om van soggens voor sonop tot skemeraand elke dag te skiet vir bykans drie weke lank met net Sondae af, vra uithouvermoë en fokus. Dankie aan ‘n wonderlike span wat tot ‘n inbraak moes deursien.
Lekker en Goed is te sien vanaf 9 April op Donderdae om 17:30 op kykNet, kanaal 144.
