Hierdie is die keurigste knibbelbord wat mens ooit bymekaar kan sit vir saampeusel met familie en vriende tydens die Feestyd. Elkeen van die kase en preserveerprodukte tot die wyn op hierdie bord is noukeurig met die hand uitgesoek, is bekroonde kampioene en simbolies van topgehalte en aandag aan detail.
Niemand anders as Agri-Expo en die bekroonde Franschhoekse wynplaas, La Motte, het vir my hierdie baie spesiale pakkie met wenprodukte afgelewer nie.
Op die bord:
Van voor, kloksgewys: La Motte se “signature” organiese volgraan-suurdeegbrood: La Motte Sémillon 2025 (wenner as 2025 SA kampioen-jongwyn): La Motte-groenvye en La Motte-kraakbeskuitjies; Compagniesdrift-piekeluie; Kloovenburg swart olywe in swartbessie-sous (kategoriewenner); Uit die bottel-kweperkonfyt (kategoriewenner); 18 maande verouderde Cheddarkaas; Italiaans geïnspireerde ricottakaas; Ina Lessing-uiemarmelade; Lulu Nellie-lemoenkrulle; Dalewood Fromage Languedoc (Qualité-toekenning); Ina Lessing-fyn vye; Mascarpone met neute en vye (Suiwelproduk van die Jaar); volvet-bok chevin met knoffel en kruie; Royal Ashton volvet semi-harde kaas; Goats & Cow’s Brie; Boland mediumvet semi-harde kaas; La Motte-biltongblatjang; Miami soet-en-pittige gherkins en Miami gekapte kersie-pepers.
Die SA Suiwelkampioenskappe is die grootste en oudste suiwelkompetisie in Afrika en word al vanaf 1834 deur Agri-Expo aangebied. Vanjaar is 114 produkte as SA Kampioene aangewys en 30 bekroon met die gesogte Qualité-merk. ‘n Ryk nageregkaas, mascarpone met vye en pekanneute, (spesiaal vir Woolworths vervaardig deur RFG Foods) is as die Suiwelproduk van die Jaar aangews.
Agri-Expo het ook vanjaar vir die eerste keer ‘n Suid-Afrikaanse preserveerkampioenskap gehou om erkenning aan topgehalte gepreserveerde produkte te gee (456 inskrywings is ontvang en uiteindelik is 70 produkte as Suid-Afrikaanse Kampioene aangewys met Makataan Chunks van Compagniesdrif (Stellenbosch) as die eerste SA Preserveerproduk van die jaar.
La Motte se sensasionele Sémillon het al oor die jare verskeie pryse ingepalm, maar in 2025 is dit as Jongwyn van die jaar bekroon en het met die gesogte Generaal Smuts-trofee by die oudste en gerekende SA Jongwynskou weggestap.
Dié wyn kom van ‘n unieke blok druiwe uit die Elim-omgewing, bekend vir sy koel kusterrior. Die wyn is deel van La Motte se versamelwyne en slegs 2400 bottels is gemaak. Die tradisionele wynpers op die etiket is simbool van die oorspronklike wynmaakproses en is tekenend van die detail, toewyding en unieke kwaliteit van hierdie wyn wat binnekort by La Motte se proelokaal vrygestel word teen sowat R450 per bottel.
La Motte se organiese volgraan-suurdeegbrood word met ‘n rogmeel-suurdeegplantjie gebak en is simbolies van wat brood vroeër jare was: vry van kiemdoders en byvoegings en eniggeiets kits. Die brood is beskikbaar op die plaas en jy kan ook suurdeegbroodbak-kursusse bywoon. Sien https://la-motte.com/blogs/news/la-motte-introduces-a-milling-bread-baking-experience?_pos=4&_sid=d8d8fdf50&_ss=r
Hierdie brood het ek op ‘n baie unieke broodplank voorgesit – dis gemaak van rou ashout en het ‘n pragtige akkervorm, daarby die pragtigste stel kaasmesse, mooi verpak in sy eie sakkie. https://la-motte.com/products/acorn-cheese-board.
Dit alles asook die La Motte-koelsak en LaMotte gepreserveerde produkte en beskuitjies is beskikbaar by The Farm Shop en Die Spens op La Motte. Pragtig vir geskenke ook.
