Hoender was nog altyd ‘n bekostigbare proteïen en ek het altyd ‘n pak of twee daarvan in die vrieskas. Hoenderstukke, veral boudjies en dye braai heerlik, want nee, al gaan dit hoe broekskeur, braai sal ons braai. Hoenderborsfilette weer, is nie net lekker gesond nie, maar werk vir my ook bekostigbaar uit aangesien jy dit op soveel maniere kan rek en aanvul. Die groot geheim is om dit steeds sappig te hou en nie te lank gaar te maak dat dit droog is nie.
Ek span dit veral baie keer in om heerlike wegneemetes mee te maak wat boonop baie lekkerder is as dit wat jy by die kitskoswinkel kan gaan koop.
Net laas Vrydagaand het ons lekker weggelê aan nacho’s wat ek met hoender gemaak het en hoendershnitzchels is sommer gereeld op ons tafel. Die oorskiet gebruik ek om hoenderburgers mee te maak wat dan ingepak word as kospakkie. Met die oorskiet-braaihoender maak ek ’n heerlike eenpanhoendergereg met Mexikaanse geure. Op die manier sit jy Januarie se koskopsere sommer lekker ore aan.
MINMOEITE HOENDERNACHO’S
Nacho’s kan gou ryk en vetterig wees, maar ek span hoender (nie maalvleis nie) in, verminder die kaas heelwat envervang ook suurroom met jogurt wat dit lekker lig maak, maar ook heelwat goedkoper.
GENOEG VIR 4 MENSE
Bereiding: 10 min
Gaarmaak: 20 min
MARINADE
5 ml (1 t) fyn gekapte vars knoffel
5 ml (1 t) vars tiemie en origanum
5 ml (1 t) gerookte paprika
5 ml (1 t) rooipeper
sout en pepper na smaak
sap van een vars lemmetjie, sowat 15 ml (1 e)
75-100 ml olyfolie
4-6 hoenderfilette, in dun repies gesny
BYMEKAARSIT
1 ui, in repe gesny
1 geel soetrissie, in repe gesny
’n bietjie olyfolie
1 x 250 g-pak nacho-mielieskyfies
1 x 400 g-blik Mexikaanse styl-tamaties
250 ml (1 k) grof gekapte koljanderblare en -stingels
paar stukkies ingelegde jalapeño’s na smaak, gesny (opsioneel)
160 ml (⅔ k) gerasperde mozzarella-kaas
125 ml (½ k) gerasperde wit cheddarkaas
½ rooi-ui, dun gesny
’n hand vol gekapte pietersielie
VIR VOORSIT
koljanderblare vir garnering
fyngedrukte avokado
romerige natuurlike jogurt
1 MARINADE Meng al die bestanddele vir die marinade. Plaas die hoenderrepies vir 10 min. daarin.
2 BYMEKAARSIT Braai die ui en geel soetrissie in olyfolie tot die ui deurskynend is. Voeg die hoenderborsierepies by; roerbraai tot die hoender net-net goudbruin is.
3 Plaas ’n laag nachoskyfies op ’n oondvaste eetbord. Gooi van die tamaties oor die skyfies en strooi gekapte koljander bo-oor. Voeg jalapeño’s by na smaak indien verkies.
5 Plaas die hoenderborsierepies egalig oor die nacho’s.
6 Meng die kase en strooi bo-oor. Sprinkel die rooi-ui en pietersielie bo-oor. Plaas onder die roosterelement en rooster tot die kaas gesmelt het en begin borrel.
Sprinkel koljanderblare oor.
8 VOORSIT Rond af met avokado en romerige jogurt bo-oor geskep.
HOENDERSHNITZELS
Hoendershnitzels uit die boonste rakke – heerlik bros buite-om en sappig van binne. En ‘n heerlike gereg om in die Airfryer te doen.
Die geheim om te keer dat die krummels loskom is om die filette eers goed te verkoel voordat jy dit gaarmaak sodat die krummels goed kan vaskleef. Dan besprinkel jy dit liggies oraloor met ‘n dun-dun lagie olie. Belangrik ook is dat die filette in ‘n enkellaag in die laaitjie moet lê sodat dit eweredig goudbruin kan braai. Ons geniet graag braai-aartappels, wat jy ook in die Airfryer gaarmaak saam met ‘n slaaitjie daarby.
Genoeg vir 4 mense
Bereiding: 10 min
Verkoeling: 30 min
Gaarmaak 10 min
HOENDER
4 hoenderborsfilette
Sout en peper
Mengsel van bruismeel en mielieblom
1 eier, geklits
Broodkrummels-en-sesamsaadmengsel
Olie
BYKOS
12 baba-aartappels
Gerasperde suurlemoenskil
1 HOENDER Sny ‘n paar kepe in die hoenderfilette en kap platter met die agterkant van jou handpalm. Geur met sout en peper. Rol in die meelmengsel, doop in eiergeel en rol dan in die broodmengsel. Plaas die hoender vir te minste ‘n halfuur in die yskas sodat die krummelmengsel goed kan kleef aan die hoender.
2 BYKOS Meng intussen die aartappels met ‘n klein bietjie olie en plaas in die laaitjie van die Airfryer. Lugbraai vir 20 minute of totdat die aartappels bros en gaar is, draai om in die middel van die gaarmaaktyd. Rasper ‘n suurlemoen se skil oor.
3 Besprinkel die hoendersnitchzels alkant met olie en plaas die filette langs mekaar in die laaitjie van die Airfryer. Lugbraai vir 10 minute of tot die hoender net gaar en brosbruin buite-om is (draai halfpad om).
4 Sit die hoendersnitchzels voor met die brosgebraaide aartappeltjies.
MEKSIKAANSE EENPANHOENDER
60 ml (4 e) olyfolie
1 groot ui, gesny
4 groot knoffelhuisies, grofgekap
3 jalapeño-brandrissies, pitjies verwyder en in dun repies gesny
5 ml (1 t) fyn komyn
15 ml (1 e) gedroogde origanum
2 vars tamaties, ontvel en in blokkies gesny
6 gaar stukke oorskietbraaihoender of 1 heel gaar braaihoender, bene en vel verwyder, in stukke geknip
1 L (4 k) hoenderaftreksel
1 suurlemoen, gehalveer
500 ml (2 k) gaar witrys
gaar oorskietmielies, pitte van stronk afgesny (opsioneel)
sout na smaak
koljanderblare vir oorsprinkel
romerige jogurt en geroosterde tortillas vir voorsit
1 Verhit die olie in ’n pan en braai die ui en knoffel daarin tot sag. Voeg die brandrissies by. Voeg die komyn en origanum by en verhit 1-2 min. Voeg die tamaties, hoenderstukkies en aftreksel by. Laat prut ongeveer 20 min.
2 Druk die sap van die suurlemoen oor die hoender uit en voeg die uitgedrukte skille ook by die hoender in die pan.
3 Voeg die witrys en pitmielies by en laat nog 5 min. prut. Verwyder die suurlemoenskille.
4 Geur met die sout.
5 Skep in bakkies, sprinkel die koljanderblare oor en sit voor saam met die jogurt en tortillas.
