Vir ‘n volle 31 jaar is ek nou al bevoorreg om deel te wees van die paneel beoordelaars wat jaarliks die nuwe Championship Boerewors van Checkers en Shoprite moet aanwys. Toe ek vir die soveelste keer die nou al bekende beoordelingsleêr vashou met kriteria wat ek nog help opstel het, het ek net weereens besef hoe wonderlik dit is dat ons as Suid-Afrikaners weet die oomblik as ons ‘n Boerewors braai, dit nie enige snaaksighede gaan bevat nie, maar pure vleis is, want daar is wetgewing wat bepaal wat alles in ‘n Boerewors mag wees – 90 persent vleis waarvan nie meer as 30 persent vet mag wees nie. Jy kan bees, vark of lamsvleis gebruik of ‘n kombinasie daarvan. Vir my moet ‘n Boerewors lekker sappig wees en nie te vetterig nie; maar dis veral die kombinasie van ‘n noukeurige mengsel speserye wat vir my die knoop deurhaak. Mens kan nie dink dat ‘n basiese mengsel speserye soos koljander, sout, peper en bietjie naeltjies met miskien ‘n titsel tiemie by, soveel gedaantes kan aanneem en die keurige verhouding daarvan ‘n groot rol speel in die wenwors aldan nie.
Vir ons beoordelaars, Zanele van Zyl, Martin Cobald, Zola Nene, Jeff Schueremans en James Koza, president van die chefs assosiasie, en myself is die beoordelingsproses ‘n ernstige storie en daar is ‘n lang stel kriteria waaraan die rou sowel as gaar wors moet voldoen en die hele proses word noukeurig geoudit. Elke wors het ‘n nommer, en dit is wat ons beoordeel, nie die deelnemer nie. Vir ons as beoordelaars is dit net so ‘n verrassing wie die wenner is.
Oor die jare het ek ook nou al geleer om so langs die kant aantekeninge te maak oor watter wors my smaakkliere prikkel en dan is dit baie interressant om te kyk of die rou wors wat jou oog gevang het, wel tot die reg gekom het nadat dit gebraai is en inderdaad toe die paal gehaal het.
Vanjaar se wennerswors het in alle opsigte weer alle boksies getiek. Die wenner, die 31-jarige Tyron Adams, ‘n boorling van Wellington, is immers ook ‘n sjef wat sy sjefskunsies en geurprofiele ken. Tweede was Eddie Hawkes van Brackenfell en in die derde plek Gustav Piek van Wellington. Die bemarkingsbestuurder, Ilze Bylos, het hul pryse oorhandig.
Nog ‘n verrassing by vanjaar se kompetisie was dat die Suid-Afrikaanse sjefs-assosiasie wat die beoordelingsproses en braaiery koordineer, Pieter Engelbrecht, Shoprite Checkers se uitvoerende hoof, as erelid ingelyf het van die assosiasie.
Shoprite Checkers laat ook nie op hul wag nie – teen so vroeg as 8 September kan julle al die nuwe wenwors op die winkelrakke verwag, net betyds om ‘n worsie op die kole te gooi as die Springbokke in die Wêreldbeker speel.
Hoe hou ek van my boerewors?
Net-net gaar gebraai, met ‘n lekker bros buitekant, maar sappig binne en daarmee saam ‘n geurige tuisgemaakte tamatiesous, oftewel sheba. Hier is my weergawe van sheba wat ek graag ook saam met phutu-pap voorsit.
SHEBA
1 groot ui, gekap
1 knoffelhuisie, fyngedruk
60 ml (¼ k) olie
250 ml (1 k) kombinasie van 1 eiervrug, 1 soetrissie en 2 klein wortels, in klein blokkies gesny
750 g ryp rooi tamaties, grof gekap
Paprika en rooipeper
50 ml appelkooskonfyt of suiker na smaak
Sout en skootjie rooiwyn en asyn na smaak
SOUS Braai die ui en knoffel in bietjie olie tot sag, voeg die groente by en braai tot sag. Voeg die tamaties by, geur met sout, bietjie paprika en rooipeper, verlaag die hitte en prut tot ‘n geurige sous. Roer die appelkooskonfyt of suiker by en geur na smaak met sout, rooiwyn en asyn en prut tot geurig.
