Ek sien so uit na my kuier op die bekende wynlandgoed, Beyerskloof, komende Saterdagoggend en kan veral ook nie wag om te kan aansit by die heerlike ontbyt wat die Red Leaf-restaurant vir ons gaan berei nie. Behalwe dat ek gaan wys hoe maklik dit is om ‘n gesonde gereggie of twee aanmekaar te slaan is my bydrae tot die spyskaart daardie ongelooflike muffinresep wat al wat leef en beef desjare terug so graag gebak het – al verskil is dat ek in die tussentyd heelwat getimmer het aan die resep en kon na vele probeerslae die suiker- en vetinhoud dramaties verminder kry sonder dat jy die lekkerte inboet. Byvoegings soos bosbessies, sultanas of dadels saam met neute en sade maak dit onbeskryflik lekker. Net soos van ouds, kan jy die mengsel aanmaak en in jou yskas hou en dan muffins bak soos jy benodig. Wat ek deesdae doen is om die muffins in miniatuur klein pannetjies te bak. Dan kry elkeen so ‘n lekker proehappie.
Hierdie is werklik ‘n trefferresep, my Crossfit-pelle, Christa en Peet, het altyd ‘n baksel daarvan in die vrieskas en vertel gereeld hoe hulle dit geniet as die lus vir ‘n lekker gesonder peuseldingetjie hul van tyd tot tyd oorval. Intussen sien ek baie uit na ‘n heerlike trippie Botswana toe einde September en ek begin ook al hoe meer wonder of ek nie maar ‘n klompie van die mini-muffins onder in die vrieskassie moet gooi vir tussen-in geniet en vir ‘n blitsige ontbyt nie. Maklik en sonder moeite.
ONGELOOFLIKE MINI-MUFFINS
Maak 32-40 klein muffins
Bereiding: 15 min
Baktyd: 15—20 min
BAKMENGSEL
6 x 250 ml (6 k) semels
500 ml (2 k) warm Carmién Citrus Chai-rooibostee (ek gebruik so 4 sakkies)
250 ml (1 k) saadmengsel-olie
160 ml (⅔ k) bruinsuiker
4 eiers, geklits
1 liter (4 k) natuurlike jogurt
25 ml (5 t) koeksoda
500 ml (2 k) klipgemaalde witbroodmeel
500 ml (2 k) klipgemaalde volkoringmeel
10 ml (2 t) sout
BYVOEGINGS
250 ml (1 k) bosbessies of sultanas of fyngekapte dadels
250 ml (1 k) geroosterde sonneblomsade of neute
125 ml (½ k) elk sesamsade en pampoensade
AFRONDING
Gekarameliseerde sonneblomsade vir oorsprinkel (sien wenk)
1 BAKMENGSEL Meng die semels met die tee. Voeg die olie by en laat effens afkoel. Voeg dan die suiker, eiers en 750 ml (3 k) van die jogurt by meng.
2 Meng die orige 250 ml (1 k) jogurt met die koeksoda en voeg by.
3 Voeg die droë bestanddele by en meng deur.
4 Skep die mengsel in ‘n groot bak of skoon flesse, maak toe en plaas in die yskas tot benodig.
5 BYVOEGINGS Voeg die byvoegings by net voor jy dit gaan bak – onthou as jy net helfte van die mengsel gaan gebruik om net helfte van die byvoegings by te voeg
5 VIR BAK Voorverhit die oond tot 180˚C. Smeer 12 holtes van klein patty pan pannetjies goed. Skep van die mengel in elk en sprinkel van die gekarameliseerde sade oor.
7 Bak sowat 15—20 minute tot gaar. Laat effens afkoel in die pan, keer uit en laat heeltemal afkoel. Sit voor met gerasperde kaas indien verkies.
HOE OM GEKARAMELISEERDE SONNEBLOMSADE TE MAAK:
Plaas sowat 250 ml (1 k) sade in ‘n warm pan en sprinkel sowat 30 ml (2 e) bruinsuiker oor. Roer totdat die suiker gesmelt het en om die sade vaskleef.
Giet dadelik uit op ‘n gesmeerde bakplaat of stuk marmer en laat afkoel. Breek in stukkies en gebruik soos nodig.
