My eie teestel

Jare lank gebruik ek al die unieke keramiekware van die befaamde en bekroonde pottebakker, Mervyn Gers. Telkens het ek my vergaap aan hoe treffend en uniek dit enige foto laat lyk nie, maar ook hoe die kos ook sommer mooier en lekkerder daarin vertoon. Wat die lekkerste is, is dat ek vir enige fotografiedag net kon gaan kies uit die kleurryke verskeidenheid wat daar in sy studio en fabriek in Paarden Eiland is. Vir my nuutste kookboek het ek al die breekware daar gaan haal en hoe mooi het dit nie ingepas by my lapversameling en ‘n paar ougoed uit my eie huis nie. Modern en nostalgies mooi vermeng om unieke foto’s te maak.

Ek kon my geluk dus nie glo toe ek vroeër vanjaar die uitnodiging ontvang om my eie stel breekware te kom saamstel by Mervyn Gers nie. Na ‘n taamlike heen en weer, het my keuse uiteindelik op ‘n teestel geval, want daar is vir my niks lekkerder om ‘n mooi teetafel te dek en ‘n verskeidenheid tees saam met lekker eetgoed voor te sit nie.

Nou die dag kon ek die teestel gaan afhaal – ek, kinderlik opgewonde, het die pad Kaap toe gevat, die kar gelaai met sjokoladekoek, groentetert, saadbrood en hoemoes saam met ‘n verskeidenheid Carmién tees. Want ons gaan teepartytjie hou, alles mooi voorgesit in my nuwe teestel, net daar in Mervyn se dakstudio bokant sy fabriek in Paarden Eiland.

Met my aankoms is die stilis en befaamde redakteur, Sumien Brink, reeds daar. Die teestel staan ook netjies uitgepak – ek het die Provenςal-ontwerp met sy baldadige blou blompatroon gekies. Die koekstaander, hoog en statig, twee teepotte, bordjies en my gunsteling, die teekoppietjies sonder ore, met pierings wat ook as klein bordjies kan dien. Uniek en veelsydig. Ek gooi my nuwe tafeldoek, Mosbolletjies oor ‘n tafel in die studio en Sumien vind vir elke bordjie en koppietjie saam met die koekstaander en teepotte, ‘n spesiale staanplekkie. Mooi, mooi, mooi! Ek staar en kan nie ophou kyk nie, vir my is die eetgoed nou amper bysaak. Nadat ons ‘n paar mooi prentjies gemaak het, kan ons begin smul.

Mervyn, ek weet nie hoe om dankie te sê vir hierdie wonderlike geskenk nie.

Noudat ek heelwat kookklasse begin aanbied en die mooi blommeprag van die naderende lente mens weer lus maak om mense oor te nooi vir ‘n samekoms met lekker kos en wyn en tee, gaan julle hierdie unieke ware sommer nog baie sien. Die resep vir die sjokoladekoek en saadbrood het ek al verskaf, so hier is die een vir die groentetert. Die, en nog meer resepte is te kry in my nuutste boek, Lekker & Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid, beskikbaar by meeste boekwinkels en aanlyn by Lapa of Carmién Tea.

GROENTETERT IN BAIE GEDAANTES

Jare terug het ek ‘n groentetert met ‘n broodkrummelkors in Wenresepte 6 gepubliseer met basiese groentes soos wortel en kool as vulsel. ‘n Ware wenner vir heerlike aandetekos, wat dit inderdaad toe op my tuistafel geword het. Ek het die resep weer gaan afstof en dit tot al gemaak vir ‘n funksie op George waar die Van Kervel-skool ons gul ontvang het. En ek speel heerlik rond met vulsels – sit botterskorsie en patat in wat ek sommer in die Airfryer gaarmaak. Wanneer ek die ui braai gooi ek so teen die einde ‘n goeie skoot ongefiltreede appelasyn by – dit verleen ‘n heerlike smaak aan die uie en jy kry ook ‘n goeie skoot goedheid in. Die groot geheim egter vir my bly die songedroogde tamaties wat ek by die vulsel insny. Die eiervlavulsel maak ek met natuurlike jogurt, nie room nie. Sien ook die resep vir die koolvariasie – werklik heerlik saam met die boontjiespruite.

KORS
3 uie, gekap
Sowat 15 ml (1 e) ongefiltreerde appelasyn met heuning en gemmer (ek gebruik Safari s’n)
Olie
6 snye volkoringbrood, in stukke gebreek, korsies en al
Sowat 30 ml (3 e) botter
VULSEL
2 medium botterskorsies, geskil, ontpit en in blokke gesny
2 patats, skoongeskrop en in blokke gesny
Soutsprinkel vir groente (ek gebruik Ina Paarman s’n)
Olyfolie
200 g maer spekvleisstukkies
1—2 rooi of geel soetrissies, in blokkies gesny
100 g klaargewaste spinasie, in stukke gebreek
6 songedroogde tamaties in vinaigrette, kleiner gesny plus van die vinaigrette
EIERVLA
6 eiers
500 ml (2 k) volroom of andersins Lactolite ongegeurde jogurt
125 ml (1/2 k) melk
30 ml (2 e) mielieblom
Sout en peper
150 g wit Cheddarkaas, gerasper

Voorverhit die oond tot 190°C. Spuit 2 losboom-tertpanne, onderskeidelik 20 en 25 cm in deursnee goed met kossproei.

1 KORS Braai die ui in bietjie olyfolie tot sag, voeg teen die einde die appelasyn by en verhit tot verdamp. (hou twee derdes van die ui eenkant vir die vulsel).
2 Plaas die ander ui saam met die broodstukke in die bak van die voedselverwerker en kan goed fyn tot krummels, voeg die botter by en verwerk tot dit ietwat aanmekaar begin kleef.
3 Druk die krummels slegs op die bodem van die tertpanne vas en verkoel.
4 Meng die botterskorsie en patats, geur kwistig met die soutsprinkel en sprinkel bietjie olie oor. Werk die olie deur met jou hande.
5 Pak die groentemengsel in ‘n enkellaag in die bakkie van die Airfryer en braai sowat 30—40 minute lank of tot sag en bruingebraai buite-om.
6 Braai intussen die spekvleisstukkies in ‘n pan tot gaar, voeg die soetrissie by en braai effens. Voeg die spinasie by en verhit tot effe verwelk.
7 Meng die botterskorsie- en spekmengsel en verdeel tussen die tertpanne. Maak gelyk.
8 Klits die eiers, voeg die jogurt en mielieblom by, geur met sout en peper en klits goed. Roer die kaas by.
9 Giet oor die vulsel in die tertkorse en laat dit tussen die vulsel inloop.
10 Bak sowat 30—40 minute of tot die eiervla gestol is. Laat afkoel en sit voor saam met slaai.

Variasie: KOOLVULSEL Braai 2 gekapte uie saam met 4 fyngedrukte knoffelhuisies tot sag. Voeg 2 soetrissies, wat in blokkies gesny is by en braai effe. Voeg 250 ml (1 k) fyngekerfde kool en 3 grofgerasperde wortels asook 10 ml (2 t) fyngerasperde suurlemoenskil by en meng goed. Skep in die voorbereide korse en sprinkel 100 g boontjiespruite oor. Berei die vlavulsel soos beskryf en giet bo-oor. Bak tot gaar.

Wenk: Maak die quiches mooi met bondels vars kruie, radyse en mini-groente aan takkies, selfs spekboomtakkies kan bo-op gesit word.

Leave a comment