Rooibos MTB by Carmién

Die afgelope naweek het die eerste Carmién Rooibos MTB-bergfiets-wedren in sy nuwe formaat by die De Tol Deli, bo-op die Piekenierskloofpas teen die N7 naby Citrusdal plaasgevind. Self ‘n kranige fietsryer vir lank en plaaskind van daar, kon ek nie anders as om te gaan inloer nie. Drie sirkelroetes van verskillende afstande en uitdagings het die ryers deur asemrowende natuurtonele geneem, van indrukwekkende rotsformasies wat plek-plek nes kastele lyk, deur wingerde, vrugte-en-sitrusboorde of goudgeelblommende kanolalande en groen graanlande tot op die rand van ‘n plato waarvandaan jy ver oor die vlakte kon kyk en miskien selfs die see kon sien, of dalende in die diep klowe van die ontsagwekkende Olifantrivierberge met waterstroompies en pragtige plantegroei (ook reeds blomme) wat jou ooparms begroet, veral na die goeie reëns van die afgelope tyd.

Soos jy oor die nek van die Piekenierskloofpas gekom het, is jy geesdriftig begroet deur wapperende baniere en ‘n meer dan lewensgroot Carmién-wegspring “blok” waar die fietsryers kon aantree vir die verskillende roetes. Onder die bome en opgeslane tent op die groot grasperk het die vure gesellig gebrand met hope plek waar fietsryers en besoekers kon kuier en geniet wat alles oral by die veeltal stalletjies te ete aangebied is: De Tol se bekende roosterkoeke en hamburgers (met ‘n roosterkoekbun), sosaties, pannekoek wat die kerk se vrouens kom maak het, heerlike pizzas en natuurlik vir my die lieflike verskeidenheid gesonder eetgoed wat gewissel het van slaaie en wraps met groente tot kekerertjie-patties en smoothies wat Piekenierskloof Mountain Resort gemaak het. Om jou dors te les was daar velerei om van te kies: koffie in al sy formate, tee en rooibos cuppaccinos, en natuurlik van Piekenierskloof se pryswennerswyne.

En natuurlik kon jy gaan snuffel in Carmién Tea se oulike teewinkel waar al hul 40 plus tees, teepotte en allerlei ander toepaslike ware wat jou teedrink-ervaring net in iets unieks kan omskep, te koop is. My nuutste kookboek, Lekker & Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid, is ook daar te koop asook heelparty van my teelappe, voorskote en tafeldoeke. Langsaan, is die oudste wynkeldertjie in die vallei nou pragtig gerestoureer in ‘n proelokaal waar jy heerlike Piekenierskloofwyne kon proe en koop. Voor teen die pad, die ou tolhuisie waar jy nou heerlike plaasprodukte, tot vryloop steaks, droëvrugte en sitrusvrugte, varsgebak en konfyte kan kry.

Tussendeur kon jy meedoen aan ‘n verskeidenheid unieke ervarings: daar was tee-en-nibbelproeë, ginproeë en die kinders kon selfs ook tee proe saam met heerlike eetgoedjies. Ekself het ‘n wyn, tee en happieproe aangebied met Carmién-tee, Piekenierskloofwyne en De Tol-happies, alles verbou en gemaak op die familieplase en iets wat jy nie sommer êrens anders gaan ervaar nie.

Behalwe dat ek ‘n taamlike koffie-en-tee-rekening teen die einde van die naweek gehad het, kon ek nie wegbly van die heerlike eetgoed wat die stalletjies aangebied het nie. Die roosterkoek onverbeterlik – lekker lig en goed deurgebak, heerlik saam met ‘n pattie of die sosatie, die pizzas varsgebak net daar op die perseel en die gesondheidshappies almal lieflik vars. Terug by die huis gaan diep ek my souttertresep, wat as piekniekkos of selfs kosblikkos kan dien, op. En as ek terugverlang na die lekker van so ‘n onvergeetlike naweek, maak ek ‘n Piekenierskloofwyntjie, ‘n wittetjie, oop, brou daarby my gunsteling Carmién tee, en gaan sit op my stoep met ‘n souttertjie in die hand en terugdink aan die lekker terwyl ek die blomme geniet wat al om my Weskushuis baldadig hul gesiggies son se kant toe wys.

Volgende jaar se Rooibos MTB datum is reeds vasgemaak: 27 & 28 Julie 2024. Teken dit solank in jou dagboek aan en moenie uitmis op die mooi en fun nie!

SOUTTERTJIES

LEWER 5-6 MIDDELSLAG- OF 12 KLEIN TERTE
Bereiding: 20 min.
Gaarmaak: ongeveer 40 min.

VULSEL
500 ml (2 k) botterskorsie, in blokkies gesny
250 ml (1 k) patat, in blokkies gesny
1 ui, grofgekap
1 rooi soetrissie, in klein blokkies gekap
250 g spek, in stukkies gesny
sout en vars gemaalde peper na smaak
’n paar takkies tiemie, blaartjies afgestroop
45 ml (3 e) olie
15 ml (1 e) suurlemoensap
KORS
½ ui, fyngekap
45 ml (3 e) botter
6 snye volgraansaadbrood, verkrummel
EIERVLA
6 eiers
500 ml (2 k) volroom natuurlike jogurt
125 ml (1/2 k) volroommelk
30 ml (2 e) mielieblom
Paprika, sout en peper
SAMESTELLING
250 ml (1 k) verouderde cheddarkaas, gerasper

Voorverhit die oond tot 200 °C. Bespuit 4-6 middelslag-losboomtertpanne met kossproei of 12 holtes van ’n muffinpan.
1 Vulsel Plaas die botterskorsie, patat, ui, soetrissie en s pek in ’n oondpan.
2 Geur na smaak met die sout en peper en sprinkel die tiemieblaartjies oor.
3 Meng die olie en suurlemoensap en meng deur. Bak 15-20 min. tot die groente se puntjies net-net swart verkleur. Laat afkoel.
4 Kors Braai die ui in die botter in ’n pan tot sag. Voeg die broodkrummels by en braai ’n paar minute tot effens bruin.
5 Verdeel die krummels tussen die pannetjies en druk op die bodem vas. Laat afkoel.
6 Eiervla Plaas die eiers,jogurt, melk en mielieblom in ’n mengbak en klits tot gemeng. Maak seker jy het 1 liter vloeistof.
Indien te min, voeg nog melk by. Geur na smaak met die paprika, sout en peper.
7 Samestelling Verdeel die groente tussen die pannetjie se holtes. Giet die eiervla bo-oor. Sprinkel die gerasperde kaas bo-oor.
Verlaag die temperatuur tot 180 °C en bak 20-25 min. of tot die vla gestol het.
8 Haal uit die oond, laat ’n bietjie afkoel en haal uit die pan.
9 Sit voor as ’n ligte ete saam met ’n slaai of gebruik as piekniekkos of inpakkos.

Leave a comment