Na ‘n paar wonderlike fotosessies en kookklas of twee die afgelope tyd, was daar heelwat oorskiet bestanddele in my yskas wat vir my loer, al wagtende om verwerk te word in een of ander dis. So ‘n paar lang dae agter die kospotte en letterlik op jou voete dink terwyl jy mooi kosprentjies maak, bly een van my lekkerste lekkers en oorlaai my telkens met hope inspirasie. Maar die teenpool is dat alles na die tyd weer opgeruim, skoongemaak, opgepak en weer op hul plekke moet kom, om nie te praat van al die oorskiet wat ook ‘n plekkie moet vind nie. So ja, so opwindend soos dit is, tap dit nogals mens se energie. Dis daarom wat ek weekliks probeer om ‘n paar goeie oefenklasse in te kry om die fiksheidvlakke hoog te hou – net die ding om te help om hierdie wonderlike kook-en-fotografie-sessies met geesdrif te kan kafdraf.
Met die gaar oorskietkos is daar gewoonlik nie ‘n probleem nie, maar die bietjies rou oorskiet kan nogals baie gou jou yskas en koskaste tot boordens toe vol maak. Ek lê gewoonlik so ‘n dag of wat laag en doen net die nodigste in die kombuis (gewoonlik jaag die spertyd vir inhandiging van kopie my dan nogals rond). Met die kopie in die sakkie, kan ek daarna weer opnuut weer my fokus na die kombuis verskuif.
So wat was my ontdekking toe ek die yskas oopmaak: ‘n halwe pak filodeeg, halwe bakkie ricotta-kaas, ‘n pak gekapte spinasie, halwe pak koljanderblare, 2 of meer soetrissies en ‘n eiervrug of twee. In die mandjie neffens die yskas is daar ook altyd uie en baie knoffel met ja, ook ‘n suurlemoen of twee. Ek was nog altyd gek na spinasie en het reeds toentertyd al wat deeg is met filodeeg verruil. Nie net is dit heelwat gesonder met geen vet in die deeg nie, maar die superdun deegvelletjies bak wonderlik bros wat in dun-dun vlokkies breek as jy ‘n eerste happie vat, geen wonder sy naam beteken eintlik “blaar” nie. Dis toe wat ek besluit om ‘n weergawe van die Griekse lekkerny, Spanakopita te maak.
SPANAKOPITA
‘n Heerlike happie.
Maak sowat 10—12 happies
Bereiding: 20 min
Gaarmaak: 20—30 min
1 ui, verkieslik rooi, gekap
Sowat 4 knoffelhuisies, fyngerasper
1 of 2 soetrissies, in klein blokkies gesny
olie
1 eiervrug, in klein blokkies gesny, skil en al
200—300 g gekapte spinasie, goed afgespoel
30—40 g koljanderblare, gekap
1 suurlemoen se sap en fyngerasperde skil
Sout en peper na smaak
12 velle filodeeg, ontdooi
300 g ricotta-kaas
Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit ‘n bakplaat.
1 Braai die ui in ‘n bietjie verhitte olie in ‘n pan tot sag, voeg die knoffel en soetrissie by en braai effe. Voeg dan die eiervrug by en braai tot die eiervrug bykans opgebreek het.
2 Voeg die spinasie, koljanderblare en suurlemoensap by, verlaag die hitte en prut tot die spinasie verwerk is en al die vog verdamp het.
3 Sprinkel die gerasperde skilo or, geur met sout en peper en laat afkoel tot minstens louwarm.
4 Spuit elke vel filodeeg met kossproei en plaas twee-twee opmekaar. Sny elke pakkie in 4 lang repe.
5 Gebruik een lang reep per spanakopita: Plaas ‘n lepel van die spinasiemengsel met ‘n lepel ricotta bo-op op die onderste ent van die reep deeg en vou die punt oor sodat dit ‘n driehoekige sakkie maak. Vou die deeg nou al om en om sodat dit ‘n driehoekige pakkie maak. Smeer ‘n bietjie water aan die entpunt en plak vas teen die pasteitjie. Plaas eenkant. Herhaal met orige deegrepe en vulselmengsel.
6 Plaas die deegpakkies op ‘n bakplaat, spuit goed met kossproei en bak sowat 20—30 minute of totdat die deeg goudbruin is. Geniet louwarm of koud.
Wenk: Dis maklik om ook ‘n spanakopita-pastei te maak: Plaas 4 velle gespuite deeg in ‘n langwerpige pasteibak en skep die spinasievulsel in, vervolg met die ricotta-kaas. Plaas nog 3—4 velle gespuite filodeeg bo-op en spuit die bokors met kossproei. Bak en sny in vierkante of in diamante (soos mens baklava sal sny).
