Twee bestanddele sjokolade-torte

Aanvanklik het ek dit met ongeloof bejeën toe die video van hierdie torte die rondte doen, maar nuuskierig soos ek is, het ek toe wel besluit om dit uit te probeer. En – dit werk!

Makliker en vinniger kan dit haas nie – slegs sjokolade smelt, eiergele byroer, eierwitte styfklits, invou en bak.

So tussen die Sondagmiddagete berei het ek hierdie koek gou vinnig aanmekaar geslaan en sommer in die Airfryer gebak. Binne 25 minute was dit klaar, en vir mooimaak en afronding was ‘n bietjie versiersuiker bo-oor gestuif meer as genoeg.

Heerlik en lekker en ideaal vir poeding tot ietsie soets by tee of na-ete koffie.

4 x 80 g donker sjokolade
5 eiers, geskei
Knippie sout
Versiersuiker vir bo-oor sprinkel

Voorverhit die oond of Airfryer tot 160°C. Voer die bodem van ‘n 20 cm losboompan uit met bakpapier en spuit goed met kossproei.
1 Smelt die sjokolade, roer die eiergele een vir een by die sjokolade in.
2 Klits die eierwitte styf saam met knippie sout en vou bietjie vir bietjie by die sjokolade in
3 Skep in die voorbereide pan en bak sowat 25 minute tot stewig maar steeds effe klam binne. Laat afkoel in die pan, ontvorm en plaas op ‘n dienbord. Stuif met versiersuiker.

Leave a comment