Smoothie teen inflammasie

Ek het nou vir ‘n geruime tyd gesukkel met ‘n baie seer knie. Te veel burpees en boks jumps het sy tol geëis en my knie het dik opgeswel gestaan van die inflammasie, soveelso dat ek by tye skaars een voet voor die ander kon sit. Toe het ek die term “gekniehalter” vir die eerste keer goed verstaan. Mens besef net nie hoe so ‘n basiese besering jou hele mensmees ondermyn nie. Kort storie lank, ek moes my toe maar verlaat op fietsry en alles stadiger vat. Na ‘n bietjie opleeswerk het ek ook besef dat dit wat jy eet ook inflammasie kan veroorsaak. Dadelik het ek baie meer krities begin kyk na wat ek eet en ook spesifiek probeer om kosse wat inflammasie help voorkom, in te neem. Dis toe wat ek opnuut die waarde van pynappel besef het: pynappel is anti-inflammatories en help veral om inflammasie in gewrigte en spiere te voorkom, verder bou dit die immuunstelsel op en verbeter bloedsirkulasie. Pynappel bevat ook baie bromelien, ‘n kombinasie van ensieme wat help om proteiene te verteer. Dis bv. waarom pynappel ingespan word as vleisversagmiddel, want die pynappel breek die proteien af en versag die vleis. In jou liggaam maak bromelien dit vir jou makliker om kos te verteer en te absorbeer. Die bromelien kan ook help dat jou spiere vinniger herstel na ‘n harde oefensessie en jy dus minder seer voel. Ek voeg ook graag ‘n goeie skoot rooibostee by, wat verdere antioksidante verskaf. Die inflammasie in my knie is iets van die verlede, hy buig weer ordentlik en ek kan sonder seer weer lekker oefen en beweeg.

Pynappelsmoothie

Ek dink ek het ook die manier gevind om te keer dat ‘n smoothie uitskei as dit ‘n tydjie staan: voeg ‘n lepel of wat chai-saadjies by. Die supersaad bevat ook baie vesel en antioksidante, maar het ook die voordeel dat dit uitswel, so iets soos ‘n smoothie sal bietjie verdik as dit ‘n tydjie staan en nie uitskei nie. Omdat hierdie smoothie so romerig smaak, voel mens glad nie dis te koud om selfs wintertyd te geniet nie. Ideaal vir ontbyt of nadat jy klaar geoefen het.

Maak 3 groot glase smoothie
Bereiding: 10 min

1 bevrore piesang
1 pynappel, geskil en in stukke gesny
Halwe suurlemoen, geskil en in stukke gesny
250—375 ml (1-1½k) volroom natuurlike jogurt
375 ml (1½k)
Sowat 30 ml (2 e) chia-saadjies
5—10 ml (1—2t) versoeter of heuning indien verkies

1 Plaas die vrugte in die voedselverwerker en pols tot heeltemal glad en verwerk tot ‘n puree.
2 Voeg die jogurt, chia-saadjies en versoeter by en verwerk tot goed gemeng.
3 Giet in glase en laat staan so 5—10 minute indien daar tyd is.

Leave a comment