‘n Groot handeklap vir die Citrusdallers, wat nou met die groot reën hande gevat, plan gemaak en skouer aan die wiel gesit het om hulself en andere te help. Ek het foto’s gesien van manne met trekkers wat die swaargelaaide Spar-lorries op dun agterpaatjies en deur diep modderpoele na hul bestemming help sleep het, ouens wat mense wat vasgekeer is op die skouer getel en in rubberbote na veiligheid gebring het en so kan die lys aangaan. Nou nie so groot in omvang nie, maar die Olifantsrivier het al voorheen ‘n paar keer die ingang na Citrusdal versper – ek onthou selfs ‘n keer hoe my pa, as kommandant van die plaaslike kommando, in ‘n rubberbootjie die rivier oor is om te gaan hulp verleen. Ja, as dit lekker begin reën het op die plaas, was daar ‘n groot opgewondenheid om te sien of die vlei al begin loop het en of die damme al water gevat het, maar daarmee saam ook die onderlangse spanning of ‘n uitloop of damwal gaan hou. En dan as dit nodig begin lyk, is daar sandsakke gepak, baie keer nagdeur, net om te keer dat die walle nie wegkalwe nie – daar het ek die krag van water eerstehans ervaar.
As dit so triestig en reënerig is buite, lus ek nie net sop en brood nie, maar verlang na soet trooskos soos my ma se souskluitjies, nog gemaak volgens my Ouma Carmen se resep. Dit was ‘n veerligte sponskluitjie, eerder ‘n tipe melkpap as kluitjie, wat versigtig met twee poedinglepels in klein hopies in ‘n soet kaneelstropie geskep is. Interressant, was dit ook die poeding wat Eunice van den Berg, tannie Ina de Villiers van Kook & Geniet-faam, vir my opgedis het toe sy ‘n proesel van haar ma se gewildste resepte vir ‘n Huisgenoot-artikel moes maak. Hare was net in ‘n gesmelte bottersousie met die kaneelsuiker dik oorgesprinkel, geskep.
Twee kookboeke wat ek soos ‘n kleinood bewaar is die van Mrs Van Tulleken se “Die praktiese kookboek vir Suid-Afrika” (ons eerste kookboek) en dan ‘n hoog-Hollandse kookboek, Oranje kook, koeken recepten boeken met binne-in ook ‘n verskeidenheid pragtige handgeskrewe notas en resepte. Verweerd en broos. Snaaks, ek kry nie ‘n resep vir souskluitjies in enige van hulle nie, wel een vir fluweelpoeding, wat eintlik net ‘n verwerking van hierdie sponsagtige souskluitjies is. Weer iets wat my Skoonma gereeld vir ons opgedis het.
Juis omdat julle so geesdrifting meegedoen het met die melksnysels, het ek gedink die souskluitjies sal net so gepas wees vir nou. Met die resep wat ek hier vir julle gee, kan jul nou souskluitjies sowel as fluweelpoeding maak. Die resep is wel heelparty minder soet as die oorspronklike een. Ek maak selfs somtyds ook ‘n kors van Post Toasties vir die fluweelpoeding – kompleet soos ons in die koshuis gekry het – kan jy nou meer!
SOUSKLUITJIES
Genoeg vir 4 mense
Bereiding: 15 minute
Gaarmaak: 20 minute
SOUS
500 ml (2 k) rooibostee, sterk getrek met 3 vanielje-teesakkies van Carmién (kry 10% af op alle Carmién Tea aankope op www.carmientea.co.za met die kode carmenniehaus.)
80 ml (⅓ k) suiker
5 ml (1 t) fyn kaneel
5 ml (1 t) botter
KLUITJIES
45 ml (3 e) koekmeel (ek het al glutenvrye meel ook gebruik en dit werk goed)
30 ml (2 e) mielieblom
15 ml (1 e) vlapoeier
1,25 ml (¼ t) sout
500 ml (2 k) melk
2 eiers, by kamertemperatuur, geskei
5 ml (1 t) vanieljegeursel
1 SOUS Plaas al die bestanddele in ‘n kastrol en laat goed kook. Giet daarna in ‘n opdienskottel.
2 KLUITJIES Meng die koekmeel, mielieblom, vlapoeier en sout met ’n bietjie van die melk om ’n slap pasta te vorm.
3 Kook die res van die melk en roer die pasta stadig daarby in. (begin deur eers bietjie van die warm melk met die pasta te meng voordat jy die hele lotjie dan met die melk meng)
4 Kook die mengsel 2 minute en roer aanhoudend tot dit verdik het. Pas op dat dit nie aanbrand nie.
5 Klits die eiergele en roer dit geleidelik by die kokende mengsel in. Voeg die vanieljegeursel by.
6 Haal van die stoof af. Klits die eierwitte styf en vou in.
7 Skep lepels vol van die mengsel in die sous in die opdienskottel. Sit die sponskluitjies warm voor.
FLUWEELPOEDING
Met die basiese souskluitjie-resep tower mens net so maklik fluweelpoeding op.
(1) Berei die basiese souskluitjies soos beskryf, maar verdubbel die resep. Vou net helfte van die styfgeklitste eierwitte in. Skep die vlapap in ‘n bak en bak 15 minute tot stewig by 180°C. Smeer ‘n lagie (sowat 10—15 ml) verminderde suiker-konfyt bo-oor (andersins kan jy net bietjie suiker by die melkpap inroer).
(2) Maak ‘n meringue met die eierwitte as volg: plaas die eierwitte saam met 125 ml (1/2 k) versoeter of suiker in ‘n glasbak wat oor ‘n kastrol kookwater staan, roer tot die suiker opgelos is. Verwyder van die hitte en klits die eierwitte tot styf met ‘n elektriese klister, sowat 10 minute. Skep bollings op die konfytlaag en skroei met ‘n kombuis-blaasvlam.
