Ek het laas naweek heerlik gekuier saam met ‘n oulike groep vroue by die Vredelust-gemeente in Boston in die Kaap. So tussen die lekker klets deur takel ons die uitdagings van beurtkrag en ek wys hulle wat mens alles met ‘n gaar rotisserie-hoender kan doen buiten toebroodjies en slaai. Van ‘n halwe hoender maak ek ‘n tamaaie hoender-en-groente-roerbraai met die lekkerste roerbraaisous oor, met ‘n bonus ook nog ‘n grondbone-sousie oor vir laaste lekkerte. Dit kan ‘n menigte voed.
Die ander helfte gebruik ek om ‘n Thaise kerrie met Chinese kool mee te maak. Dit sit ek voor met ‘n tipe Persiese basmati-rys wat ek in Carmién se Turkish Delight-rooibostee gaarkook om so ‘n subtiele roosgeur daaraan te verskaf. Saam met bietjie amandels daarby ingemeng, smaak dit hemels saam met die kerrie. Die velle en bene gebruik ek saam met al die groenteskille om ‘n geurige aftreksel mee te kook, reg vir sopmaak. So uit een hoender kan jy dus 3 geregte maak.
Daar’s ook verskeie ander resepte wat jy sommer weer in die Airfryer kan maak – giet ‘n blik Mexikaanse of Italiaanse tamatiesmoor oor hoenderstukke en rasper Mozzarella-kaas oor, of vryf die stukke hoender in met ‘n pesto of andersins ‘n heuning-suurlemoen-en-sojasousie (ek het die resep so ‘n tydjie gelede geplaas), pak in ‘n ronde of vierkantige koekpan wat in die airfryer sal pas en air-fry net tot die hoender deurwarm en die velletjie lekker bros is. Heerlik!
Ek vertel hulle ook toe sommer hoe maklik dit is om gesonder te eet sonder dat dit jou ‘n arm of been hoef te kos en dat jy steeds heerlik kan smul. Uit my Lekker & Goed-boek, heerlike kos propvol heilsaamheid, wys ek verskeie liplekker resepte – nostalgiese malvapoeding, wat geur kry met vanielje-rooibostee sodat jy die room en suiker minder kan maak en kaaskoek, gemaak met maaskaas en nie room nie; ‘n groente-lasagne en lensie-bobotie, so heerlik gekrui en gespesery, jy kom nie eers agter daar is nie vleis in nie; drieboneslaai, met ‘n boegoe-rooibosslaaisous – en so gaan die lysie aan en aan. En ek hoor hoe die vroue oe en aa. Die boek is steeds verkrygbaar by meeste boekwinkels soos Bargain Books en Exclusive Books of op Lapa en Carmién Tea se webtuiste. Gaan loer gerus.
Verlede week het ek ‘n paar navrae gekry vir die saadbrood-resep. Ek bak dit sommer vinnig in die Airfryer. Hier is dit nou ook. Lekker smul en bly warm! As julle voel ek moet daar by julle ook kom kuier, laat my gerus weet.
HOENDERROERBRAAI MET GRONDBONESOUS
Genoeg vir 6—8 mense
Bereiding: 20 min
Gaarmaak: 15 min
GRONDBONESOUS
125 ml (½ k) growwe grondbonebotter
60 ml (¼ k) heuning
60 ml (¼ k) sojasous
250 ml (1 k) lavet-klappermelk
Sap van 2 lemmetjies
ROERBRAAISOUS
4 knoffelhuisies, fyngerasper
5 cm stuk gemmerwortel, fyngerasper
125 ml (½ k) sojasous
60 ml (¼) vars lemmetjiesap
15 ml (1 e) soesji-asyn
30—45 ml (2-3 e) heuning of suiker of versoeter
45 ml (3 e) sesamsade
Klein handvol gekapte koljanderblare
ROERBRAAI
Olie
Halwe hoender, ontvel en ontbeen en in klein stukkies gesny
4 wortels, skoongeskraap en in dun repies gesny
2-3 klein soetrissies, in dun repies gesny
Halwe kop blomkool of broccoli, in blommetjies gebreek
Kwart kop kopkool, in dun repies gesny
2—3 stingeluie, gekap
Groot handvol koljanderblare, gekap
2—4 bondels eiernoedels, gaargekook
Ekstra koljanderblare vir afronding
1 GRONDBONESOUS Meng al die bestanddele saam. Hou eenkant.
2 ROERBRAAISOUS Plaas al die bestanddele in ‘n kastrolletjie en kook saam.
3 ROERBRAAI Verhit bietjie olie in ‘n braaipan en braai die hoenderstukkies tot effe bros, voeg van die roerbraaisous by.
4 Voeg die wortels by en roerbraai tot effe sag, maar nog baie bros, voeg die soetrissies, blomkool of broccoli by en roerbraai tot effe sag, maar nog baie bros. Voeg nog van die roerbraaisous by.
5 Roer die koolrepies by en braai net effe tot verwelk.
6 Roer die stingeluie, koljanderblare en noedels by.
Skep uit, giet van die grondbonesous oor en sprinkel nog koljanderblare oor.
