Nou die dag kry ek kommentaar oftewel eintlik ‘n vraag of ons dan nooit braai nie – ja ons doen en nogals baie en gereeld ook. Elke naweek brand daar ‘n vuurtjie en selfs somtyds ook op ‘n weeksdag, al braai ons net ‘n worsie. ‘n Tydjie gelede kom kuier vriende juis op ‘n weeksaand en ons braai. Vir bykos besluit ek om die immergewilde pampoentert te maak – my weergawe, wat ek in my Lekker & Goed-boek, heerlike kos propvol heilsaamheid, gepubliseer het, het heelwat minder suiker en botter, maar is steeds smullekker.
Ons het mekaar lanklaas gesien, so ons kuier en gesels altevol lekker, soveelso, dat die pampoentert in die oond bykans vergete bly en so ‘n lekker donker lagie bo-op bak, amper soos die heerlike Portugese melktertjies, pastis da nata. Dit laat my toe terugdink aan die storie wat my ma so graag vertel het van haar suster-hulle wat tydens ‘n braai ook so lekker gekuier het, dat die vleis eintlik bysaak was. Dit het goed laat geword voordat die vleis uiteindelik opdaag en toe is dit sulke verskrompelde, amper houtskool gebraaide tjoppies wat in die bak lê. Later die aand, by bedtoegaantyd, vra sy haar man wat dan nou eintlik gebeur het met die vleis. Sy antwoord: “Bokkie, ons het so lekker gebraai, toe braai ons sommer weer.” En ek verstaan heeltemal.
GEBAKTE PAMPOEN
In die groentetuin langs die plaashuis het die pampoenranke altyd geil gerank met hul oes wat skuil hou tussen die blare. Pampoen was daar baie op tafel – pampoenkoekies, broodpampoen, pampoentert en ons was lief daarvoor; maar nooit, so ver ek kon onthou, ‘n heel gebakte pampoen nie. Die het ek raakgeproe toe die wêreld sy koslappieskombers met al sy verskillende geure vir my kom oopgooi het. Dis veral Midde-Oosterse en Afrikageure waarby so ‘n bonkige pampoen aanklank vind – dink kaneel en komyn; ment en koljanderblare. Mooi genoeg om die centrepiece van jou tafel te wees.
Genoeg vir 6 mense
Bereiding: 30 min
Baktyd: 1 uur 15 min
1 heel pampoen
Sout, fyn kaneel, fyn komyn en bietjie suiker
paprika
VULSEL
60 ml (1/4 k) olyfolie
2 uie, gekap
4 knoffelhuisies, fyngedruk
7,5 ml (11/2 t) vinkelsade
7,5 ml (11/2 t) komynsade
15 ml (1 e) gerasperde fyn gemmerwortel
7,5 ml (11/2t) fyn kaneel
5 ml (1 t) fyn koljander
500 ml (2 k) botterskorsie- of pampoenblokkies
250 ml (1 k) patatblokkies
250 ml (1 k) blomkool- of broccoliblommetjies of murgpampoentjies, in ringe gesny
250 ml (1 k) murgpampoentjie-ringe (opsioneel)
2 rooi soetrissies, ontkern en in blokkies gesny
150 g mengsel van droëperskes en Turkse appelkosies, fyner gesny en in rooibostee geweek
1 blik (400 g) kekerertjies, gedreineer (opsioneel)
250—375 ml (1—11/2 k) gaar koeskoes, bulgurkoring, stampkoring of sorghum
40 g koljanderblare, gekap
20 g ment-en/of pietersielieblare, gekap
Sap en skil van 2 suurlemoene
Paprika en komyn
Ekstra koljanderblare vir oorsprinkel
Voorverhit die oond tot 190˚C.
1 Sny die kop van die pampoen af en verwyder die pitte en meeste vesels. Prik die pampoen aan onderkant, plaas op ‘n bakplaat saam met die deksel en geur die binnekant goed met sout, kaneel, komyn en bietjie suiker. Bak tot net sag en gaar, maar nie stukkend gekook, sowat 1 uur lank afhangende van die grootte van die pampoen.
2 Versprei die pampoenpitte op ‘n ander bakplaat, sprinkel bietjie paprika oor en plaas ook in die oond. Bak tot bros.
3 Verhit olie in ‘n pan en soteer die ui en knoffel daarin tot sag, voeg die heel speserye en gemmerwortel by en roerbraai tot geurig, sowat 1 minuut, voeg die fyn speserye by.
4 Rangskik die botterskorsie en patatblokkies, blomkool of broccoli of murgpampoentjies op ‘n ander bakplaat en giet die geurige uiemengsel oor. Meng deur die groente en plaas in die oond. Bak tot net sag, 40 min.
5 Meng die droëvrugte, kekerertjies, koeskoes, bulghur, stampkoring of sorghum, kruieblare en suurlemoen, sprinkel bietjie paprika en komyn oor en meng. Voeg by die groente en verhit tot warm, sowat 15 min.
7 VOORSIT Skep die groente in die gebakte pampoen. Sprinkel pampoenpitte en ekstra koljanderblare oor.
Pampoentert
As jy die pampoen met patat vervang, kan jy die suiker nog heelwat minder maak. Skep dit in muffinpanne om klein pampoenkoekies te bak.
Stoom 1 kg pampoen of oranje patat sag en plaas in die bak van ‘n voedselverwerker. Meng 250 ml (1 k) koekmeel, 10 ml (2 t) bakpoeier, 5 ml (1 t) fyn kaneel, 5 ml (1 t) sout en 180 ml (¾ k) bruinsuiker saam en voeg by die pampoen. Voeg 3 eiers, 250 ml (1 k) natuurlike jogurt, 45 ml (3 e) gesmelte botter en 5 ml (1 t) vanieljegeursel by en verwerk tot glad. Skep in ‘n gesmeerde oondbak of in die holtes van muffinpannetjies en bak sowat 30–50 minute tot gaar. Sprinkel kaneelsuiker oor.
Die resep vir die patatgnocchi wat ook op die foto is, is te kry in my Lekker & Goed-boek. Die boek is te kry by meeste boekwinkels soos Bargain Books en Exclusive Books, asook aanlyn by Lapa en Carmién Tea.
