Sop en brood

Dis Junie en amptelik winter. Soggens as ek nou die blindings vroegoggend ooptrek, staar ek nog in pikdonkerte in. Net sowat ‘n maand terug het die skynsel van sonopkoms my begroet en kon ek my eerste koppie koffie op die stoep geniet sonder veel warmgoed. Vir my is dit so ‘n groot lekkerte om die oggendstond met ‘n koppie koffie te verwelkom, dat ek nie hierdie oggendritueel wintertye stop nie. Ek wikkel my maar net lekker warm toe in ‘n dik baadjie en geniet die oggendstilte van die ontwakende dag terwyl ek die manewales van ‘n groepie tarentale dophou wat met sonsopkoms kom skrop vir ietsie te ete in die oop erf oorkant die pad.

Vir my is winter ook sinoniem met sop. Eintlik lief ek sop enige dag en kan net nie genoeg daarvan kry nie. So jy kan my verlei met ‘n koppie warm sop, en as daar nog ‘n snytjie varsgebakte brood ook by is, is ek letterlik in die koshemel.

Deesdae let ek ook nogals bietjie op watse kosse almal “gut friendly” is en probeer so ver as kan daarvolgens kook. Eintlik is dit heel maklik, want as jy van vars ongeprosesseerde kosse, soos onder andere groente en lensies hou, is jou kop so te sê deur. En watter makliker manier is daar dan nou nie om hierdie in ‘n heerlike ete te omskep nie – kook ‘n pot sop! Hierby maak ek die lekkerte saadbrood – sommer in die Airfryer gebak. Makliker kan dit nie.

Soos my ma is ek gek na tamaties, so vars tamaties vorm die basis van hierdie sop saam met rooibostee as aftreksel – beide vol antioksidante en anti-inflammatories, net wat jou “gut” wil hê. Hierby rooi lensies om die sop bietjie aan te dik, maar ook proteiene te verskaf.

Die lae koolhidraat saadbrood is die lekkerste koringmeellose brood wat ek tot nog toe beproef het. Proe na regte brood! Dit kry onder andere hawermout in en dié word deesdae ook op ‘n beperkte mate ingesluit in ‘n lae koolhidraat-eetplan. Hawermout is ook glutenvry, maar word in fabrieke verwerk waar koring ook verwerk word, so dit kan gekontamineer word. As gluten vir jou ‘n probleem is, gebruik glutenvrye hawermout daarvoor. Ek sien dit glutenvrye hawermout deesdae ook op Checkers se winkelrak. Kry die resep in die nuutste Huisgenoot van 1 Junie. Daar is ander hawermoutresepte ook.

TAMATIESOP

Maak sowat 3 liter sop
Bereidingstyd: 15 min
Gaarmaak: sowat 30 min

2 uie, gekap
2—4 knoffelhuisies, fyngedruk
olie
5 ml (1 t) elk vinkelsaadjies en komynsaadjies
7 ml (1½ t) paprika (gerook indien verkies)
300 g spinasie, goed afgespoel en stingel en al fyn opgesny
8 ryp tamaties, in stukke gekap
oorskiet groente soos beskikbaar: paar boompies broccoli, 4—6 sampioene, 1 rooi soetrissie, vars mieliepitte, alles fyn opgesny
250 g rooi lensies, goed afgespoel
2 liter (8 k) rooibostee-aftreksel gemaak van 4 sakkies elk Carmién Tea Rescue (met boegoe) en Revive (met brandrissie en gemmer), goed getrek in kookwater
2—3 groenteaftreksel “pods”
15—30 ml (1—2 e) bruinuiker
Sout en swartpeper na smaak
AFRONDING
volroom jogurt
Vars kruie

1 Braai die ui en knoffel in klein bietjie olie tot sag, voeg die speserysaadjies by en braai tot geurig. Voeg die paprika by en dan die spinasie, tamatie, oorskietgroente en lensies.
2 Meng deur en voeg die teeaftreksel asook die groenteaftreksel “pods” by.
3 Bring tot kookpunt en laat kook tot die groente lekker sag en die lensies papgekook is, sowat 20—30 min.
4 Geur met bruinsuiker en sout en peper na smaak.
5 Maak fyn met ‘n staafmenger.
6 Giet die sop in ‘n bak of bakkies en sit voor met skeppies lekker dik romerige jogurt (wat ook goed is vir jou gut) en sprinkel vars kruie oor indien verkies.

Kry 10% af op alle Carmién Tea aankope op www.carmientea.co.za met die kode “carmenniehaus“.

Leave a comment