Julle het seker gewonder oor my stilswye die afgelope tyd. Nee, ek het glad nie ophou kook en woeker in die kombuis nie, in teendeel, die afgelope tyd is daar omtrent gewoeker om alles in plek te kry vir seisoen 2 van Lekker&Goed.
‘n Villa by Shark Bay Lodge teenaan die Langebaan-meer was vir so drie weke ons woonplek waar ons gewerskaf en getimmer het aan die nuwe seisoen. Ek is bevoorreg om gesoute tv-makers soos die produksiehuis, Homebrew, regisseur, Sanet Olivier, en kosvervaardiger, Herman Lensing, in my kookhoek te kon hê.
Die kombuis is prentjiemooi versier met blomme net waar jy kyk, ‘n skouspel van kleur en die regte palet om heerlik te kan kook op ‘n gesonder noot. Die gaste wat saamkook dié seisoen wissel van Hannes van Wyk van Kwêla-faam en Ewan Strydom van Bravo, en sanger Danie du Toit van Spoegwolf, tot gesoute akteurs soos Mila Guy en Rolanda Marais met ook ‘n paar koskenners soos Elmarie Berry, Mari-Louis Guy en Yolani Abrahams en Kokkedoor: Vuur & Vlam wenners, Johan de Villiers en Lorianne Heyns.
Ons het hope pret in die kombuis terwyl ons ou en nuwe geregte flair gee. Geregte soos saadlavash met beethoemoes en agurkie of gesonde proteïenbruintjies optower; lamsboud gaarmaak in rooibostee of sponskluitjies en melkkos maak en proe hoe bokkomrepies ‘n perskeslaai met aarbeivinaigrette in iets ongewoon lekker omgetower word. Telkens word my asem weggeslaan met die pragmooie tafels waar ons aansit teen die einde. Elke episode het ‘n unieke tema wat pas by die gas en kos van die dag. Ons kuier en klets terwyl ons smul aan geurige geregte, goeie wyn en heerlike rooibostee.
Julle kan regtig uitsien na nog ‘n unieke seisoen van Lekker&Goed wat vanaf 9 April om 17:30 op KykNet uitgesaai word.
