Oefening was nog altyd deel van my lewe en ek raak skoon omgeëllie as ek nie die dag ‘n goeie gymsessie ingewerk het nie. Sowat 2 jaar terug maak ek kennis met Crossfit en dadelik is ek “hooked” want buiten kardio is daar ook heelwat kragwerk in. Hier op Langebaan is ‘n spesiale Masterklas vir ons sestig-plussers waar ons kan (soms simpel) vrae vra wat baie keer die coach in ongeloof na sy woorde laat sluk. Maar ons oefen (en chat) en moedig mekaar aan en kom so deur die workouts. Toe sluit Christa Booysen, ‘n gesoute Crossfitter en kompetisie-deelnemer, by ons aan en die krane word omtrent oopgedraai en die grense verskuif. Die gewigte swaarder, die reps word meer, g’n gegeginnegaap meer nie. Ons oefen dat die sweet spat. Sy’s ‘n inspirasie en kort voor lank komandeer sy ons op om aan ‘n landwye kompetisie deel te neem wat hier op Langebaan aangebied word: GIRLS GONE RX. Dis nou vir diegene wat nog nie heeltemal RX (dis nou die cream of the crop in Crossfit) fiks is of al die verskillende “workouts” ken of kan doen nie. Die kompetisie is vir alle ouderdomsgroepe. Ons gaan beslis die oudste wees.

Ons is ‘n groepie van 3 – saam met Christa en ek, stem Annemarie, wat weer ‘n gesoute fietsryer is, ook in om deel te neem. Ons doop onsself toe sommer terstond ook die SIXTY PLUSSERS met ons slogan wat lees: STILL GOING STRONG. Carmién Tea is dadelik bereid om ons “skattige” (Annemarie se woord) blomhempies met passende sokkies te borg. Ons lyk tog te spoggerig. Van die begin af maak ek dit duidelik dat daar sekere goed is soos pull ups en box jumps wat ek net nie onder die knie kan kry nie (en boonop wil my knieë ook nie aldag saamwerk nie). So ek is doodbenoud en stel terstond vir my ‘n persoonlike afrigter vir die maand aan. Die box jumps kry ek lateraan gedoen, maar die pull ups bly sukkel en boonop moet ek tussendeur weg vir ‘n week Nampo toe en pla ‘n lastige griep ook nog. Dit voel asof alle odds teen my is.
Saterdag 21 September breek aan, my senuwees is klaar. Vroegoggend eet ek my oornaghawermout wat ook ‘n goeie skoot proteïenpoeier inkry – ‘n resep wat ‘n voormalige Crossfit-afrigter nog vir my gegee het.
En toe is ek vort om eers te gaan opwarm in die gym saam met Christa en later by Annemarie aan te sluit by die Crossfit box waar sy ons solank registreer en die goodie bags afhaal. Dit is altyd ‘n groot verrassing… en daar’s van gesigroomsamples, Crossfit-sokkies tot ‘n heerlike blikkie Carmién ystee en waterbottel met sakkies ColdBrews in.
Binne die box is dit reeds ‘n hele byenes van bedrywigheid. Die vloer is netjies uitgemerk waar elke groep moet deelneem, met die nodige toerusting uitgesit. Al klaar intimiderend. Die ander deelnemers is almal bloedjonk. As ons net eers deur die eerste workout kan kom wat die gewigte-afdeling is, sal die senuwees kalmeer. Ek’t gekies om die thrusters te doen en hoop om darem bietjie swaarder te kan gaan as wat ek geoefen het. By 42 kg roep ek halt. So werk ons deur die dag en die workouts met workout 2 wat 1500 m roei en 40 burpees oor die bar en 30 hang power cleans insluit. Vooraf het ons mooi uitgewerk wat en hoeveel elkeen van ons moet doen, meestal werk dit, maar soms moet ons maar aanpassings maak ook. Om alles gesinkroniseer te kry en kop te hou is moeiliker gedaan as gesê. Maar ons werk goed saam. So tussendeur teug ek aan my bottel Carmién Energize tee, wat nou al my grootste vriend in die Crossfitklas geword het. Workout 3 se deadlifts, ring rows, front squats en jumping pull ups is vinnig klaar en Christa vertoon indrukwekkend met 48 pull ups wat sy addisioneel doen. Dan’s daar ‘n stewige breek, tyd om aan ‘n energiestafie, (sien resep) te peusel. Workout 4, die groot een, wat ook ‘n stewige hardloopsessie met ‘n medisynebal insluit, lê voor. Ek’s benoud, want nadat my knieë begin moeilikheid gee het, het ek nie eintlik meer gedraf nie. Om ons koppe rondom die een te kry, stap ons die roete ‘n paar maal gedurende die dag, kyk hoe lank dit vat as ons hom dan nou ook moet stap, want nou’s dit een uur en die Weskus het een van die sy warm dae uitgestal.
Uiteindelik is dit ons beurt en ons beur die bultjie uit. Ek kry gelukkig beurt om die bal teen die afdraantjie af te dra. Om die draai en nog ‘n stewige opdraad en ons is daar. Wat ‘n verligting. Tyd vir die laaste wall balls, knee raises en devils presses. Die adrenalien pomp, want ons is net twee spanne op die vloer… wie gaan eerste klaar wees… en sowaar daar maak ons dit en “wen” hierdie klein vloerkompetisie. Ons het weliswaar nou nie gepodium nie, was vierde, maar gedagtig aan die groot ouderdomsverskil, is ons meer as tevrede. Sal ek dit weer doen… ek weet nie?

OORNAG TEEMARISU-HAWERMOUTPOTJIES

‘n Resep wat een van ons voormalige Crossfit-afrigters, Manta Huisamen, vir my gegee het. Die mengsel word regtig in ‘n kits gemeng en dan oornag geweek – dan is dit honderd persent vir môreoggend se ontbyt. Deesdae is hawermoutmelk ook te kry in supermarkte en ek gebruik dit graag in hierdie resep. Jy kan enige tyd koffie gebruik, maar vir ekstra goedheid verkies ek rooibostee waarby daar egte koffieboon-stukkies ingemeng is (Carmién se Red Mocha). Dan kry die hawermout so ‘n heerlike tiramisusmaak. En vir die eerste keer was daar geen rou smaak te bespeur nie. Die hawermoutmengsel word afgewissel met lagies jogurt. Noudat kollageen ook deesdae op almal se lippe is, is hierdie ook die ideale plek om ‘n bietjie daarvan in te meng, maar dit is heeltemal opsioneel. Ek gebruik die rooibospoeier waarby daar kollageen asook kakao en kaneel ingemeng is. Die kollageen help dat jou gebeente, gewrigte en vel gesond en in goeie kondisie bly. Die hawermoutmengsel word afgewissel met jogurt waarby ek ekstra wei-proteïen inmeng.
Wenk: Die hawermoutmengsel kan jy ook in glasies skep en as inpakkos saamneem werk toe.
Maak 4—5 glase
Bereiding: 15 min
Staantyd: oornag
HAWERMOUTMENGSEL
- 250 ml (1 k) hawermout
- 15–20 ml (3—4 t) chiasade
- 45 ml (3 e) kakao
- 45—60 ml (3–4 e) bruinsuiker of versoeter soos Erythritol
- 30 ml (2 e) rooibospoeier met kollageen (opsioneel)
- 180 ml (¾ k) hawermoutmelk
- 125 ml (½ k) sterk rooibostee, red mocha, gemaak met 2—3 sakkies
JOGURTMENGSEL
- 250 ml (1 k) natuurlike jogurt
- 30 ml (2 e) proteïen whey-poeier, vanielje- of aarbeigeur
- Bloubessies vir afronding
- HAWERMOUTMENGSEL Plaas die hawermout, chia-sade, kakao, suiker of versoeter en rooibospoeier, indien gebruik, in ‘n groot bak en meng goed.
- Meng die hawermoutmelk en rooibostee.
- Voeg die teemengsel by die hawermoutmengsel en roer goed. Bedek en laat staan oornag om te week.
- JOGURTMENGSEL Meng die jogurt en wei-proteïen.
- Skep lagies van die hawermoutmengsel en jogurtmengsel in klein glasies of andersins skep in bakkies en roer die jogurtmengsel liggies deur die hawermoutmengsel.
- Sprinkel bessies oor vir afronding.
SAAD-EN-NEUTE-STAFIES

Die stafies is ideaal om aan te peusel as mens vir lank op jou voete besig gaan wees of na ‘n oefensessie. My weergawe gaan weliswaar nie so perfek lyk nie, maar smaak hemels. Dit kry slegs ‘n klein bietjie heuning en klapperolie in wat ook die hele lotjie bymekaarhou. Vir ekstra goedheid roer ek graag ‘n lepel of twee rooibospoeier, wat ook kollageen in het, hierby in (ek gebruik Carmién se rooibospoeiers). Ook lekker vir die kinders se buitelug-kospakkies.
Maak 8–10 stafies
Bereiding: 10 min
Baktyd: 40 min
- 50 g heel amandels
- 125 ml (½ k) hawermout of klapper
- 125 ml (½ k) pampoenpitte
- 45 ml (3 e) chia-sade
- Knippie seesout
- 10 ml (2 t) groen rooibospoeier met kollageen (opsioneel)
- 45 ml (3 e) heuning
- 30 ml (2 e) klapperolie
- 1 plak (80 g) donker sjokolade, suikervry, gesmelt
Voorverhit die oond tot 170 °C. Voer ‘n klein bakplaatjie met bakpapier uit en spuit baie goed met kossproei.
- Meng die amandels, hawermout of klapper, sade, sout en rooibospoeier saam.
- Verhit die heuning en klapperolie saam tot die klapperolie gesmelt is. Voeg by die neutemengsel en meng goed.
- Skep in die voorbereide bakplaatjie en druk stewig vas.
- Bak 40 minute.
- Verwyder uit die oond en koel effe af in die bakplaatjie. Lig versigtig uit die bakplaatjie en plaas op ‘n houtplank. Trek die bakpapier af en sny in sowat 8 stafies, gebruik ‘n groot geriffelde mes en snysaag; moenie druk nie, dan gaan die stafies breek.
- Draai die stafie om en smeer gesmelte sjokolade onder elkeen.
- Bêre in ‘n lugdigte houer met bakpapier tussen-in elk om te verhoed dat hulle aanmekaar vassit.
Wenk: jy kan ook sowat 180 g geweekte en fyngekapte dadels hierby inmeng.
