Eers op dag 3 by Nampo op Bredasdorp sowat ‘n week of wat terug, het die lenteweer met ‘n luilekker sonnetjie eers regtig ingeskop, maar in die vrouetent het dinge kookwarm geloop en was dit die hele tyd stampvol van vroue (en heelwat mans) wat kom kyk en luister het wat ons alles daar aanvang. Weereens het Francois Boyce almal in die regte luim gekry met sy vlymskerp pittighede en musiek, ek het gekook dat die biesies bewe, veral toe Werner Westenberg van BPromotions, ‘n sjef in murg en been en voorheen van Babylonstoren, saam met my die potte geroer het en veral gehelp het dat die kookstasie nie te deurmekaar raak nie. Dankie, Werner!!!!!!!! Ons maak ‘n lente-ontbyt met ontbyttrifle met chiajogurt, ‘n groot tafelomelet met pesto en roerbraaigroente en sluit af met dadelstafies vir soetigheid.
Buiten kosdemonstrasies en teeproe by die Carmién-stalletjie, is die gaste daglank vermaak deur sangers soos Appel en Matthys Roets, het PG Engelbrecht hulle met toorkunsies vergas en Martelize Brink die mense op haar loopreis na ver plekke geneem. Nicky Lonte het vertel hoe sy borskanker twee keer oorkom het en terselfdertyd ook ‘n paar grimeerwenke uitgedeel terwyl Pierre van Niekerk van EcoHealth se lesing die belangrikheid van natuurlik leef om gesond te wees, benadruk het. Mense het nie net lekker ontspan nie, maar is ook geïnspireer met hope inligting en idees.
Op die laaste dag van ons Nampo Kaap besoek, is dit lieflike lenteweer, net reg vir die spyskaart wat ek beplan het: ‘n lente-ontbyt. Die mense is veral gaande oor die ontbyttrifle met chiajogurt wat ek in klein glaskoppietjies voorgesit het saam met vrugte wat in rooibostee geposjeer is. Die lekkerte hiervan is dat jy die glasies al die vorige aand kan maak en net die laaste afronding voor ontbyt hoef te doen; die groot tafelomelet kry ‘n streepsel tuisgemaakte groen pesto oor wat ek vinnig met al die oorskietkruie maak in die NutriBullet. Bo-op ‘n verskeidenheid geroerbraaide groentes wat ek aanklam met rooibos om te keer dat dit aanbrand terwyl dit braai. Ek rond dit af met lekker bros gebraaide rugspekvleis en heerlike romerige Deense fetakaas van Fairview. Vir soetigheid is daar dadelstafies wat ek afrond met bo-op ‘n bietjie granola, klapper en gesmelte sjokolade oorgesprinkel. Daarby voorgesit die Cold Brews van Carmien wat jy sommer met koue water aanmaak.
ONTBYTTRIFLE MET CHAIJOGURT

Ek gebruik ‘n tuisgemaakte granola vir hierdie glasies. Die granola is net so lekker saam met natuurlike jogurt en ‘n bietjie vars vrugte.
Maak 6 glasies
Bereiding: 10 min
GRANOLA
- 1 kg hawermout
- 500 ml (2 k) klapper
- 500 ml (2 k) sonneblomsaad
- 20 ml (4 t) fyn kaneel
- Knippie sout
- 80—100 ml bruinsuiker
- 250 ml (1 k) heel amandels
- 100 g pampoenpitte
- 160 ml (2/3 k) olyfolie
JOGURT
- 500 ml (2 k) natuurlike jogurt
- 45 ml (3 e) bruinsuiker
- 60 ml (1/4 k) chiasaad
VRUGTE
- 375 ml (11/2 k) Carmién Gut rooibos tea, gemaak met 4 sakkies
- Heuning
- 2 appels, ontkern, maar ongeskil in skywe gesny
- Halwe pynappel, in blokkies gesny
- 125 ml (1/2 k) bloubessies (bevrore)
- Gerasperde skil van 1 suurlemoen
- 1 houer grenadilla
Voorverhit die oond tot 160°C.
- Meng al die bestanddele baie goed en versprei op ‘n groot bakplaat. Bak sowat 30 minute of tot goudkleurig, roer elke nou en dan. Laat afkoel en skep in ‘n lugdigte houer tot gebruik.
- Skep ‘n lagie granola onder in elke glasie.
- Meng die jogurt, bruinsuiker en chiasaad saam en laat staan 30 minute. Skep 125 ml (1/2 k) bo-op elke lagie granola en laat staan minstens oornag.
- Trek die tee tot lekker sterk, giet in ‘n kastrolletjie, voeg heuning na smaak by en kook af tot lekker stroperig.
- Voeg die vrugte buite die grenadilla by, voeg suurlemoenskil en ‘n skoot suurlemoensap by en koel af.
- BYMEKAARSIT: Skep die vrugte net voor opdiening bo-op die jogurt en skep ‘n lepel grenadilla oor. Rond af met mentblaartjies.
OOPPAN-OMELET

Met die resep hoef jy nie eers te sukkel om die omelet om te draai nie. Jy kan groente na goeddunke roerbraai hiervoor.
Genoeg vir 4—5 mense
Bereiding: 5 min
Gaarmaak: sowat 15 min
olie
- 10 eiers (6 heel en 4 eierwitte)
- Sout en peper
- 10 ml (2 t) groen-pesto (sien resep)
VULSEL
- olie en botter
- 2 uie, fyn gekap
- 4 fyngerasperde knoffelhuisies
- 1 soetrissie, in blokkies gesny
- 125 g murgpampoentjies, in skyfies gesny
- 125 g sampioene, in skyfies gesny
- 250 ml (1 k) bevrore ertjies, ontdooi (opsioneel)
- 125 g baba-spinasie
- 15—30 ml (1—2 e) groenpesto vir deurmeng
AFRONDING
- 4—6 repies spek, in die AirFryer gebak
- feta-kaas, in stukke gebreek
- Paar groen of swart olywe (opsioneel)
- Baba-spinasie vir garnering
- Groen-pesto vir voorsit
- Verhit die olie in ‘n groot pan met ‘n deksel.
- Skud die eiers en eierwitte saam in ‘n gesondheidskommelmaker (of klits goed), geur met sout en peper, roer die pesto by en giet in die pan. Plaas die deksel op en verhit tot die eiers borreltjies bo-op begin maak. Lig die kante van die omelet sodat die rou eier kan onder inloop.
- Maak intussen die vulsel in ‘n ander pan: verhit nog olie en botter en braai die ui en knoffel daarin tot sag, voeg die groente by en roerbraai vinnig tot net-net sag, voeg rooibostee, eerder as nog olie by as dit wil lyk of die groente droogbraai of wil aanbrand. Meng die ertjies en baba-spinasie by en meng net vinnig deur saam met nog ‘n skep of twee pesto.
- Skep die groente bo-op die omelet en plaas die spekvleis bo-op, sprinkel die feta-kaas en olywe oor en rond af met ‘n paar vars spinasieblare.
GROENPESTO
Maak sowat 180 ml
- 20 g pietersielie
- 20 g basieliekruid
- 20 g koljander of paar baba-spinasieblare
- Paar takkies mint
- Sowat 60 ml (1/4 k) Carmién Refresh (groen heuningbos met mint)
- 3 fyngerasperde knoffelhuisies
- 5 ml (1 t) fyngerasperde gemmerwortel
- Sap en gerasperde skil van 1 suurlemoen
- 100 ml olyfolie
- 100 g sonneblomsade, gerooster
Plaas die kruie in ‘n voedselverwerker en kap goed fyn, voeg van die tee by om die proses te vergemaklik. Voeg die knoffel, gemmerwortel, suurlemoen en olyfolie by en verwerk tot glad, voeg die sade by en kap tot grof fyn. Skep in ‘n houer met ‘n deksel en verkoel.
DADELSTAFIES

Heerlike geurige stafies is ‘n wonderlike gesonde versnapering en hou in ‘n lugdigte houer vir 5—7 dae.
Maak 12—14 stafies
Bereiding: 10 min
Gaarmaak: 20 min
Bestanddele:
- 250 g dadels, ontpit en fyngekap
- 100 g geroosterde amandels, fyngekap
- 100 g pampoenpitte
- 100 g sonneblomsade
- 75 g hawermout
- 70 g klapper
- 1—2 ml (tot ½ t) vanielje-ekstrak
- 100 g gesmelte donker sjokolade (70% kakao of meer)
- ‘n knippie sout
- Heuning na smaak (opsioneel)
Metode:
- Verhit die oond tot 180°C.
- Meng al die bestanddele in ‘n groot bak.
- Versprei die mengsel op ‘n bakplaat bedek met bakpapier. Maak dit gelyk en druk die mengsel plat.
- Bak vir 15—20 minute of tot ligbruin. Laat afkoel voordat jy in repies sny.
AFSLUITING
Dit was ‘n ongelooflike lekker en inspirerende ervaring om saam met almal by Nampo te wees. Die lente het beslis ‘n vars atmosfeer gebring, en dit was wonderlik om te sien hoe mense geniet het om saam te kuier, te eet en te leer. Ek hoop dat jy ook hierdie resepte sal probeer en die seisoen ten volle sal geniet!
