Nog nooit het ‘n eenvoudige gaar hoendertjie soveel reaksie uitgelok nie — ek was laas week bevoorreg om vir die eerste keer demonstrasies te doen by Nampo Kaap op Bredasdorp. Soos reeds voorheen genoem was familiekuiers en gesinsetes my eerste tema. Ek besluit om weer iets te doen met ‘n gaar rotisserie-hoender, want dis so gerieflik om altyd daarvan byderhand te hê. Die volgepakte vrouetent kyk en luister aandagtig hoe ek een hoendertjie vermeerder tot ‘n drietal geregte, amper soos die brood en vissies in die Bybel. Die volgende dag verneem ek dat al die gaar hoenders by Bredasdorp se Checkers binne ‘n ommesientjie kort daarna almal opgeraap is.
Tags: Nampo Kaap, PBromotions, Francios Boyce, Hoezit Samelewing, Cedarbergwyne, David Nieuwoudt, Nadine, CarmienTea, InstantPot
Die gras is nog nat van die dou toe ons langs die vrouetent by die nou al bekende Nampo-Kaap op Bredasdorp intrek. (Meer as 32 000 mense woon dit jaarliks by). Die gawe mense van Bpromotions wat die Afgri Vroueprogram vir die eerste keer vanjaar behartig staan reg om te help aflaai, want ons moet gou eers ‘n demonstrasie-kombuis in die kleine opstel voor ons kan wegval met die verrigtinge van die dag. My Snappi-plate, LeCrueset-panne, splinternuwe InstantPot AirFryer, met sy dubbele verstelbare laaitjie en groter ruimte kry staanplek op die tafels. Een tafel voor om op te dem, een agter vir neersit. Meeste van die prepwerk vir die roerbraai, natchos en schwarma het ek reeds die vorige aand gedoen en verpak in bakkies. Dit verg nogal kophou om te onthou watter bakkie hoort by elke gereg, maar gou-gou is ons uitgesorteer en alles staan in gelid in rytjies, net reg vir raakvat tydens die demonstrasie.
Francios Boyce van Hoezit Samelewing het van meet af die vrouens aan sy voete en gou-gou wieg (amper dans) hulle gesellig saam op sy vrolike musiek. My gemoed is ook lig en ek weet ons gaan sommer lekker pret hê. Die man kan maar. Vir my dem deel ek die hoender in twee, die een helfte gebruik ek vir ‘n roerbraai en die ander vir onderskeidelik natchos en ‘n schwarma. En daai bietjie hoender word net meer en meer (en ook gesonder) in die pot soos ek groentes in alle kleure van die reënboog, byroer. Maar dis veral die Oosterse sousie van baie sojasous en sesamsaad, koljander en knoffel wat dit so lekker maak. Ek skep dit uit in ‘n groot emaljebord en sit dit voor met jasmynrys, gekook in Carmien se Turkish Delight wat ‘n heerlike rooswatergeur daaraan verleen, net reg vir saam met die Oosterse geure van die hoender. Laastens strooi ek ‘n grondbone-dukkah oor.
By die ander helfte van die hoender voeg ek ‘n geurige marinade van baie knoffel, uiepoeier, paprika, fyn komyn, en fyn koljander. Daarmee maak ek onderskeidelik natchos en schwarmas. Iets waaraan die kinders veral sal hou en die schwarma is sommer ook lekker inpakkos.
Laastens verras ek die mense met brownies wat ek met gerasperde patat maak. Almal smul terwyl hulle hulle verluister aan David Nieuwoudt van Cedarberg Wyne se uitgebreide en praktiese wenke oor die gebruik en voorsit van wyn en MCC. Nadine sluit die dag af op ‘n vrolike noot nes sy kan.
MINMOEITE HOENDERNACHO’S EN SHWARMA

GENOEG VIR 2 MENSE
Bereiding: 10 min.
Gaarmaak: 20 min.
MARINADE (x2)
- 15 ml (1 e) fyn gekapte vars knoffel
- 7,5 ml (11/2 t) uiepoeier
- 5 ml (1 t) elk paprika, fyn komyn en koljander
- 2,5 ml (1/2 t) rooipeper
- sout en pepper na smaak
- sap van een vars lemmetjie, sowat 15 ml (1 e)
- 75-100 ml olyfolie
- Helfte van ‘n klaargaar hoender, gepluis (of 4-6 hoenderfilette, in dun repies gesny)
BYMEKAARSIT
- 1 ui, in repe gesny
- 1 geel of rooi soetrissie, in repe gesny
- ’n bietjie olyfolie
- 1 x 250 g-pakkie oraganiese nacho-mielieskyfies (Santa Anna)
- 1 x 400 g-blik Mexikaanse styl-tamaties
- 250 ml (1 k) grof gekapte koljanderblare en -stingels
- paar stukkies ingelegde jalapeño’s na smaak, gesny
- 160 ml (⅔ k) gerasperde mozzarella-kaas
- 250 ml (⅔ k) gerasperde wit cheddarkaas
- ½ rooi-ui, dun gesny
- ’n hand vol gekapte pietersielie
VIR VOORSIT
- koljanderblare vir garnering
- fyngedrukte avokado
- romerige natuurlike jogurt
- MARINADE Meng al die bestanddele vir die marinade. Plaas die hoendestukkies vir 10 min. daarin.
- BYMEKAARSIT Braai die ui en geel soetrissie in olyfolie tot die ui deurskynend is. Voeg die hoenderstukkies saam met die marinade en braai tot geurig (deel in twee een helfte vir die pita).
- Plaas ’n laag nachoskyfies op ’n oondvaste eetbord. Gooi van die tamaties oor die skyfies en strooi gekapte koljander bo-oor. Voeg jalapeño’s by na smaak.
- Plaas die hoenderborsierepies egalig oor die nacho’s.
- Meng die kase en strooi bo-oor. Sprinkel die rooi-ui en pietersielie bo-oor.
- Plaas onder die roosterelement en rooster tot die kaas gesmelt het en begin borrel.
- Sprinkel koljanderblare oor.
- VOORSIT Rond af met avokado en romerige jogurt bo-oor geskep.
PATATBROWNIES

Ek het al na heelwat brownieresepte gekyk wat minder koolhidrate bevat, maar die een wat met rou gerasperde patat gemaak word, bly my gunsteling: Nie te soet of te ryk nie en gemaak met bekostigbare bestanddele wat jy altyd byderhand het.
BROWNIES
- 1 middelslag-patat (400 g) of 750 ml (3 k) wanneer dit gerasper is
- 2 eiers
- 10 ml (2 t) vanieljegeursel
- 125 ml (½ k) versoeter, bruinsuiker of heuning
- 125 ml (½ k) gesmelte klapperolie
- 250 ml (1 k) gesifte kakao
- 7,5 ml (1/2 e) bakpoeier
- 2,5 ml (1/2 t) koeksoda
- 30 ml (2 e) klappermeel
AFRONDING
- Kakao
- Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n vierkantige 18-cm koekpan en voer uit met bakpapier.
- BROWNIES Meng die patat, eiers, vanieljegeursel, versoeter, bruinsuiker of heuning en klapperolie goed in ’n groot mengbak.
- Meng die kakao, bakpoeier en koeksoda by. Voeg die klappermeel laaste by.
- Giet die mengsel in die bereide pan. Bak 26 minute of tot gaar maar steeds sag. Laat 5–10 minute afkoel.
- Verwyder die brownies versigtig uit die pan.
- AFRONDING Sny in vierkante en sif ’n bietjie kakao oor
HOENDERROERBRAAI MET SAADKONFETTI

Genoeg vir 6—8 mense
Bereiding: 20 min
Gaarmaak: 15 min
ROERBRAAISOUS
- 4 knoffelhuisies, fyngerasper
- 5 cm stuk gemmerwortel, fyngerasper
- 125 ml (½ k) sojasous
- 60 ml (¼) vars lemmetjiesap
- 15 ml (1 e) soesji-asyn
- 30—45 ml (2–3 e) heuning of suiker of versoeter
- 45 ml (3 e) sesamsade
- Klein handvol gekapte koljanderblare
ROERBRAAI
- Olie
- Halwe hoender, ontvel en ontbeen en in klein stukkies gesny
- 4 wortels, skoongeskraap en in dun repies gesny
- 2–3 klein soetrissies, in dun repies gesny
- Halwe kop blomkool of broccoli, in blommetjies gebreek
- Kwart kop kopkool, in dun repies gesny
- 2—3 stingeluie, gekap
- Groot handvol koljanderblare, gekap
- Jasmynrys, gekook in Carmien se Turkish Delight (4 sakkies)
- Saadkonfetti (sien resep)
- Ekstra koljanderblare vir afronding
- ROERBRAAISOUS Plaas al die bestanddele in ‘n kastrolletjie en kook saam.
- ROERBRAAI Verhit bietjie olie in ‘n braaipan en braai die hoenderstukkies tot effe bros, voeg van die roerbraaisous by.
- Voeg die wortels by en roerbraai tot effe sag, maar nog baie bros, voeg die soetrissies, blomkool of broccoli by en roerbraai tot effe sag, maar nog baie bros. Voeg nog van die roerbraaisous by.
- Roer die koolrepies by en braai net effe tot verwelk.
- Roer die stingeluie en koljanderblare by.
- Skep die rys op ‘n groot bord en stapel die hoender bo-op. Sprinkel saadkonfetti oor asook nog koljanderblare.
