Smul aan oorskiet

Na die gewoontelike Saterdagaand-braai, tower ek baie keer daai orige braaivleis binne ‘n ommesientjie op in ‘n smaaklike uitpakete wat ons laterig op ‘n Sondagmiddag geniet. Geen mens sal eers weet dat dis eintlik oorskiet nie. Saam met ‘n slaaitjie of twee en ‘n varsgebakte suurdeegbrood is dit watertandlekker en so in pas met die nuutste tendens om niks te mors of verlore te laat gaan nie. Die kuns bly om dit net splinternuut te verpak. So het my onlangse spread, in Mediterreense styl by kamertemperatuur voorgesit, daar uitgesien:

  • Braaivleisrepies in vinaigrette
  • Boerewors- en hoendersosatiehappies met vinnige tartaarse sous
  • Ratatouille met avokado
  • Kool-en-beetslaai
  • Suurdeegbrood en sade-maaskaasbrood met gemmer-tamatiekonfyt

Met die heerlike sonskynweer wat ons tans geniet en die blommeprag regtig al rondom ons, ry ons graag ‘n draaitjie of twee op ‘n Sondag voor ons dan huis kry so namiddag se kant, ‘n groot gekokery is die laaste ding waaraan ek dan tyd wil spandeer. Dis wanneer die oorskiet-braaivleis handig te pas kom. Ons kom nie juis veel oor ‘n tafeldekkery nie, stapel net die borde en messegoed opmekaar met die kos in my kosbare ou-ou aangebrande bakke en platters geskep. Vir die mooi, het ek ’n pragtige bos blomme van Soutbos met proteas en blushing brides in wat my man van Vredenburg af saamgebring het, baie spesiaal vir ons, want dit was alles deel van my trouruiker.

Braaivleisrepies in vinaigrette

Oorskiet-braaivleis – dit kan lam- of varktjoppies of steak wees, in dun-dun velletjies gesny.

Vinaigrette gemaak met goeie olyfolie en balsamieke of appelasyn waarby ek Dijonmosterd, bietjie sout en heuning inmeng.

Giet die vinaigrette oor vleisrepies en laat staan so 20 minute of tot die res van die kos gereed is.

Wors- en hoendersosaties met tartaarse sous

Breek die wors in happiegrootte stukkies en sny die sosatiestokkies in die helfte deur. Pak uit op ‘n mooi bord.

Sit voor met ‘n vinnige tartaarse sous: kap ‘n groot handvol pietersielie fyn, voeg dit by goeie kwaliteit mayonnaise (ek gebruik graag Checkers se lite) saam met lekker baie gekapte agurkies en ‘n lepel of wat kappertjiesade en ‘n skeppie mosterd en asyn.

Ratatouille met avokado

Sny ‘n paar eiervrugte in blokkies en sout. Laat staan.

Braai intussen ‘n paar soetrissies wat jy in blokkies gesny het in bietjie olie tot sag, saam met ‘n paar skyfies murgpampoentjies (of sampioene). Skep uit.

Spoel die eiervrug af, druk droog en braai dan in olie tot lekker sag en bruingebraai. Voeg die soetrissiemengsel weer by en verhit tot geurig.

Voeg nou ‘n handvol gekapte gepekelde tamaties by, saam met bietjie van die pekelvloeistof (of andersins ‘n pakkie tamatiepasta saam met bietjie suiker en ‘n spatsel balsamieke asyn) en meng deur. Geur met sout en peper. Skep uit en sit louwarm of koud voor met avokadoskyfies. Sprinkel fetakaas en basilieblare oor.

Kool-en-beetslaai

Ek hou daarvan om sommer altyd ‘n pakkie van daardie klaargesnyde coleslaw in my yskas te hê. Dan meng ek by wat ook al ek in die yskas het, soos mieliepitte van die stronk afgesny en gaar ingelegde bete. Maak ‘n soeterige slaaisousie van bietjie oorskiet afgekoelde Carmién-rooibostee (ek het die Orange Camomile gebruik), olyfolie, bietjie rysasyn en sap van 1 suurlemoen. Voeg heuning of suiker by na gelang van hoe soet jy dit wil hê. Giet oor die koolmengsel en sprinkel bietjie koljanderblare asook neute oor.

Ten brode en te drinke

Soos genoem, het ek die suurdeegbrood – ek het veral die een met die sade in geniet – by Mondvol gekoop en daar was nog van die treffer-maaskaasbrood (sien video hier) in die vrieskas oor wat ek ook sommer bygesit het. Saam met avokado of die gemmer-tamatiekonfyt was dit ‘n wenner. Vir die keel het ons ‘n potjie Carmién-tee gebrou en louwarm daarmee geniet. Nou dat dit begin warmer word, kan julle ook weer opstock op die Cold Brews. Carmién het juis nou hul treffer Cold Brew, die Cranberry Hibiscus in ‘n familiegrootte verpakking verpak, so jy kan nou sommer ‘n groot beker vol op ‘n keer maak. Ek gebruik deesdae graag sprankelwater (sparkling water) om by te voeg.

Leave a comment