Ons het onlangs weer ‘n slaggie gaan ontbyt eet by Mondvol, in Pelgrimsrus net buitekant Paternoster. En soos ‘n menigte voorheen, was dit ‘n ervaring uit die boonste rakke. Die kos sonder fieterjasies, maar so keurig en geurig voorgesit, mens sien en proe die hand van die passievolle egpaar, Alexander en Charmaine Pieters wat nou al vanaf 2016 hier sake doen in die onopgesmukte, stylvolle skuur met sy groot oop ruimtes, knetterende kaggelvuur en mooi afgewerkte steierplanktafels.
Ons paadjie het al voor 2016 gekruis toe hulle nog op die grondpad na Trekoskraal buite Vredenburg ‘n padstal gehad het, en hulle selfs vir my ‘n Paasontbyt vir Huisgenoot berei het. Met hul trek Paternoster toe, het ons agterna getrek vir ‘n lekker mondvol elke nou en dan, hetsy vir ontbyt of vir ‘n ligte ete. Hulle probeer iets anders as die tipiese vis en tjips of hamburgers voorsit as ander eetplekke in Paternoster, vertel Charmaine, met hul fokus op vars en gesond eet met geregte wat hulle alles self maak en waarvan die hele familie gaan hou, van die kinders tot die oupas en oumas. (Omdat die plek so lekker ruim is, kan die kinders sommer op hul fietse rondry terwyl die ouers lekker kuier). En hulle is lekker besig, kry baie toeriste, stedelinge en veral buitelandse besoekers, maar die locals loer net so gereeld in. Vir baie word dit hul tweede huis of kantoor waar hulle tuis voel en sommer hul eie ete bymekaarsit, soos die plaaslike dominee vir wie Charmaine gereeld moet bederf met oatspap met geroosterde sade en neute oor. Charmaine is steeds die een in beheer van die kombuis terwyl Alexander van barista tot front of house hanteer.

Die spyskaart is kompak, byderwets en keurig. Vir ontbyt is daar ontbytbakkies soos onder andere vars bessies saam met muesli, jogurt en heuning of avo en geposjeerde eier op volroomjogurt met tamatiepesto, geroosterde sade en groenigheid. Dit was my keuse en dit was heerlik! Verder is daar ‘n hele verskeidenheid eiergeregte waarvan die eier benedict (my man se keuse) na al die jare nog steeds die gewildste is. Die kruie-frittata-omelet soos die Green Goddess met vars kruie, spinasie, feta en avokado op geroosterde suurdeegbrood is net so lekker. Dan is daar ‘n Mondvol-ontbyt met spek en eiers, Franse roosterbrood, ook een gemaak met tuisgemaakte piesangbrood, croissants en flapjacks om ‘n paar te noem.

Saam met die allerlekkerste koffie (Alexander is die barista) eet jy soos ‘n koning. Maar mens hou altyd ‘n plekkie vir ietsie soets agterna. Die rak met varsgebakte suurdeegbrood is besig om gou leeg te loop, so mens moet vinnig speel. Die sadebrood en olyfbrood is veral aan te bevele en word gebak deur hul bakkersvriende, Peet Steyn en Camilla Richter. Op die toonbank staan ‘n verskeidenheid koeke en terte onder glaskoepels en wag om jou te verlei; lemon meringue en wortelkoek is steeds groot gunstelinge en Alexander bak hulle self. Dan is daar die flesse en flesse vol koekies, beskuit en granola, gemaak sonder preserveermiddels en met minder suiker. Sy hou ook ‘n paar keurig uitgesoekte produkte van ander verskaffers aan soos Mies-badprodukte en LEA Rooibostee, elkeen pragtig verpak. Baie keer is dit juis die verpakking wat haar trek, vertel Charmaine.
Ons het nie net heerlik geëet nie, maar stap ook daar uit met ‘n hele paar kadoesakke volgepak met van brood tot meringues en badolie. Mondvol Coffee Shop in Paternoster is oop vanaf Woensdae tot Sondae vir ontbyt en ligte middagetes.
(Volgende week vertel ek watter heerlike ete ons vinnig vinnig berei het met al die lekkertes wat ons by Mondvol aangeskaf het.)
ONTBYTBAKKIE MET JOGURT EN AVO

Genoeg vir 1 persoon
Smeer sowat 100 ml dik, romerige, natuurlike jogurt op ‘n bord en druppel olyfolie oor. Streep ‘n teelepel of twee tamatiepesto daardeur en rangskik 2 geposjeerde eiers bo-op. Rond af met skywe avokado en ‘n goeie sprinkel geroosterde neute (waarby bietjie paprika gevoeg is terwyl jy dit rooster). Sprinkel laastens bietjie mikrokruie of roket of bronkorsblare oor en sit dadelik voor saam met ‘n snytjie geroosterde suurdeegbrood indien verkies.
