Maak jou eie hangkaas

Dit was so ampertjies of ek moes my kaastande trek, want met hemelhoë kaaspryse is dit iets wat ek myself deesdae net so elke dan en wan mee bederf. Tot ek die besluit het om my eie (sagte) kaas te maak, want eintlik is dit soooo verspot maklik om te doen. Al wat jy nodig het, is ‘n moeseliendoek en ‘n sif of vergiettes. En nou peusel ons weer alte lekker aan ‘n romerige kasie saam met brosbeskuitjies of maak sommer vinnig ‘n soetdingetjie met bietjie heuning of konfyt of selfs gemmer by die kaas ingemeng. Saam met granola is dit hemels.

Na ‘n onlangse kosshoot vir Huisgenoot waar ek amasi in ‘n hoendergereg (sien Huisgenoot van 29 Augustus 2024) gebruik het, sit ek met ‘n houertjie oorskiet amasi oftewel suurmelk. Ma se karringmelkpoeding waarmee sy ons kleintyd bederf het, of die pragmooie skons waarmee sy altyd kon spog, sou korte mette van daardie half-liter maak. Maar, besluit ek, dis ideaal om vir my ‘n hangkaas mee te maak, want dis regtig min moeite, vra net ‘n dag se staantyd (jy kan natuurlik ook dik romerige jogurt gebruik). Dan is jy gewapen met kaas teen ‘n fraksie van die prys vir wanneer jy weer wil kaaskoek of souttert bak (ek vervang die room altyd met ‘n sagte kaas) of as basis vir ‘n groentetert (wat ek altyd binne-in ‘n filodeegkors skep). Sien my nuutste boek, Lekker & Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid (beskikbaar aanlyn by Carmién of by Carmién-winkel by DeTol-padstal) vir die allerlekkerste kaaskoek en soutterte. Met die warmer weer wat so pas aangebreek het en mens weer lus kry vir ‘n wyntjie saam met ietsie te peusel, is hierdie ideaal om op jou peuselbord uit te pak.

Hangkaas – so maak mens

  1. Spoel ’n groot moeseliendoek uit met water en droog dit uit.
  2. Sit die moeseliendoek in ’n sif of vergiettes met die punte wat oor die kante hang.
  3. Meng 500 ml (2 k) amasi of natuurlike romerige jogurt met bietjie sout (en peper en ‘n handvol kruie indien verkies).
  4. Plaas die mengsel in die moeseliendoek en laat die wei 2–3 uur lank deursyg. Sit dit in die yskas of ’n koel plek met ’n opvangbak onder.
  5. Bring dan die punte van die doek na mekaar toe sodat die amasi of jogurt ’n bol vorm en bind die doek met tou vas.
  6. Hang die bol oor ’n opvangbak (ek hang dit baie keer oor die steel van ’n houtlepel wat ek dwars oor die opvangbak plaas) of sit dit in ’n vergiettes in die yskas met ’n opvangbak onder. Laat staan vir 12 uur.
  7. Verwyder dan die moeseliendoek versigtig wanneer dit kompak maar steeds sag voel. Dit sal vir drie tot vyf dae goed hou in die yskas.

Voorgestelde kombinasies:

Vir ietsie souts:

  • ’n Handvol gekapte kruie soos basilie, suurlemoentiemie, origanum, gekapte grasuie, seesoutvlokkies en varsgemaalde swartpeper
  • Gedreineerde kappertjiesaad en gekapte gerookte forelstukkies
  • Rooiuie-marmelade
  • Gerasperde, gedreineerde komkommer met fyngedrukte knoffel en ’n bietjie dille
  • Enige pesto of salsa verde
  • Avokado, fyngekapte tamatie en gerasperde suurlemoenskil met ’n bietjie gekapte brandrissie
  • ’n Bietjie bloukaas of selfs fyngerasperde parmesaankaas
  • Ontpitte olywe, songedroogde tamaties, fyngedrukte knoffel en gerasperde lemoenskil of lekker tuisgemaakte piekels

Vir ietsie soets:

  • Heuning en gerasperde suurlemoenskil
  • Marmer-minder-suiker konfyte soos marmalade of bessiekonfyt (ek hou van Simply Truth) deur die hangkaas of kap gepreseveerde gemmer fyn en meng deur
  • Meng rooibospoeier wat kaneel of klapper in het, daarby

BROS SAADBESKUITJIES MET HANGKAAS

Ek word betower deur groot, bros en dun platbrode wat jy in stukke breek en saam met hangkaas en allerlei lekkerstes soos olywe of piekels op ’n uitpakbord geniet. Vir my bly dit die lekkerste manier van informeel saamkuier. Dit bring verskeie herinneringe terug van my kuiers hier teen die draai van die eeu oor die land heen: Ek onthou die skemeraandhappies langs ’n dam in die Sondagsriviervallei; Niel Stemmet se voorbroodjies op Upington; die platbrode by die familie-deli op Citrusdal wat ’n treffer is saam met ’n glasie granache, en die intieme saamkuier by Jan Hendrik se Innovation Studio in Kaapstad waar die groot velle platbrode so mooi regop skuins teen die bakke eetgoed opgedien is.

Lewer 12 groot stukke of 36 beskuitjies
Bereiding: 15 min.
Baktyd: 1 uur

  • 180 g saadmengsel (sonneblom-, sesam- en vlassaad, asook pampoenpitte)
  • 45 ml (3 e) psilliumvesel
  • 15 ml (1 e) paprika
  • 2,5 ml (½ t) sout of roosmaryn-soutsprinkel
  • 400 ml water
  1. Voorverhit die oond tot 150 °C.
  2. Meng al die bestanddele en laat 10 minute staan.
  3. Plaas ’n Silpat-silikoonmatjie op ’n bakplaat en smeer die mengsel oor die matjie tot 2 mm dik. Maak seker dit is gelyk.
  4. Bak 1 uur tot bros en gaar (verhoog die temperatuur laaste 10 minute tot 190 °C).
  5. Breek in stukke terwyl die beskuitjies nog warm is.
  6. Koel af en bêre in ’n lugdigte houer.
  7. Stapel regop langs bakke met ’n verskeidenheid hangkaassmere, saadkonfetti asook olywe en piekels op ’n uitpakbord en sit voor met wyn.

Saadkonfetti

‘n Bekostigbare dukkah-weergawe met grondbone. Ideaal om saam met olyfolie en varsgebakte brood te geniet.

Bestanddele:

  • 80 ml (⅓ k) sesamsaad
  • 20 ml (4 t) komynsaad of 10 ml (2 t) fyn komyn
  • 250 ml (1 k) geroosterde grondbone
  • 5 ml (1 t) fyn koljander
  • 5 ml (1 t) paprika
  • 5 ml (1 t) geelsuiker (opsioneel)
  • 2,5 ml (½ t) sumac (opsioneel)
  • 10 ml (2 t) soutvlokkies

Instruksies:

  • Rooster sesamsaad en komynsaad in ‘n droë pan tot dit liggies verbruin en die komynsaad geurig is.
  • Voeg die res van die bestanddele by en meng goed. Stam dit effe fyn indien verkies.
  • Verpak in ‘n lugdigte houer.
  • Sprinkel oor slaaie of groente, of bedien saam met brood en olyfolie.

Hangkaas-Gemmertert

‘n Ongebakte tert met gemmer-hangkaas in ‘n granola-kors. Ideaal vir ‘n laat ontbyt of as ‘n peuselhappie.

Bestanddele:
Vir die muesli:

  • 1 kg hawermout (glutenvry indien verkies)
  • 500 ml (2 k) fyn klapper
  • 500 ml (2 k) sonneblomsaad
  • 250 ml (1 k) heel amandels
  • 100 g pampoenpitte
  • 20 ml (4 t) fyn kaneel en/of 10 ml (2 t) fyn gemmer
  • Knippie sout
  • 80–100 ml bruinsuiker
  • 160 ml (⅔ k) gesmelte klapperolie of botter

Vir die kors:

  • Ongeveer 625 ml (2½ k) van die bereide muesli
  • Ongeveer 125 ml (½ k) gesmelte botter of klapperolie

Vir die vulsel:

  • Ongeveer 250 g hangkaas
  • 80 ml (⅓ k) gepreserveerde gemmer + 30 ml (2 e) van die stroop
  • Ekstra gemmerstukke vir bo-op
  • Ongeveer 45 ml (3 e) muesli-krummels vir bo-oor

Instruksies:

  1. Meng al die muesli-bestanddele behalwe die klapperolie, botter of olie. Skep in ‘n dun lagie in ‘n groot oondpan en giet die klapperolie, botter of olie oor. Meng deur en bak vir 30 minute, meng gereeld.
  2. Plaas sowat 625 ml van die muesli in ‘n voedselverwerker en maak grofweg fyn. Voeg gesmelte klapperolie of botter by om die krummels aanmekaar te laat kleef. Druk die mengsel in die bodem en teen die kante van ‘n 20-cm tertpan. Verkoel tot benodig.
  3. Meng die hangkaas en gemmerstukke asook die gemmerstroop. Skep in die kors en versier met ekstra gemmerstukkies en muesli-krummels.

Leave a comment