Groente in ‘n ander gedaante

Die mandjie met pragtige groentes wat ‘n week of wat gelede by my afgelewer is, het my só geïnspireer dat ek nie anders kon as om weer ‘n paar lekker groenteresepte te gaan afstof nie. Die groot lekkerte is dat dit nie net as groente-bygereg en slaai instaan nie, maar net so heerlik is as ‘n tert, en ook ingespan kan word vir soetigheid (dink brownie); selfs om diens te doen vir ontbyt.

Net laasweek nog was dit bitterlik koud, reënerig en nat en was dit sop en brood en bakpoedings wat ons lekker snoesig en warm en gekoester gehou het. En nou, ewe skielik, as die oggendmis lig, het ons die mooiste dae met ‘n kleureprag van blomme wat ons oral langs die Weskus begroet. Ja, die blomme is hier al om ons en sit opnuut weer ‘n huppel in ons stap. En daarmee saam het die tyd vir ligter eet ook aangebreek. Dan is groente perfek – maar ek praat nou glad nie koue slaai met baie blare of so nie; vir slaai gebruik ek patat wat jou lekker vol en versadig laat voel en span die laaste van die lemoene in om slaaisous te maak (het juis net die naweek weer so 4 sakkies van die soetste sagtesitrus van die plaas af gekry). ‘n Groentetert, geur gegee met ingelegde sondroëtamaties is heerlike middagkos en vir ontbyt kom daar oondgeroosterde botterskorsie in die omelet. Dan natuurlik, tower ek daai allerlekkerste brownie op wat jou nie so skuldig laat voel as jy daaraan weglê nie.

BOTTERSKORSIE-SKUDOMELET

Geroosterde botterskorsie (wat jy sommer in die airfryer gaarmaak) is heerlik as vulsel in ‘n omelet saam met bietjie feta-kaas en avokado. Ek gebruik ‘n gesondheidskommelmaker om die eiers in op te skud en bak die omelet dan in ‘n pan met ‘n deksel sodat die omelet lekker hoog kan oppof.

Genoeg vir 1 persoon
Bereiding: 10 min.
Gaarmaak: 10 min. (oondbraai van botterskorsie uitgesluit)

OMELET

  • 5 eiers (3 eierwitte en 2 heel eiers)
  • 45–60 ml (3–4 e) melk

knoffel-en-kruie-speserye; sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

VULSEL

  • Handvol warm oondgeroosterde botterskorsieblokkies, vooraf gegeur met ’n bietjie kaneel, komyn, brandrissie en borrie
  • ½ wiel swartpeperfetakaas
  • ¼ avokado, in repe gesny
  • grasuie, gekap
  • roketblare
  1. OMELET Plaas die eiers, melk, speserye en sout en peper in ‘n plastiekhouer met ‘n deksel (‘n gesondheidskommelmaker werk ideaal). Skud baie goed tot lekker skuimerig.
  2. Bespuit ‘n kleefvrye pan met kossproei en giet die mengsel daarin. Plaas ‘n deksel op en verhit tot die omelet lekker hoog gepof en gaar is. (Dis onnodig om met ‘n eierspaan te sukkel om die omelet om te draai.)
  3. VULSEL Skep die gegeurde botterskorsie op die een helfte, sprinkel die feta oor, pak die helfte van die avokado op, sprinkel die grasuie oor, geur met die sout en peper en vou toe. Sprinkel die roketblare en orige avokado bo-op vir afronding. Sit dadelik voor.

PATATSLAAI

Lemoen en patat is ‘n heerlike kombinasie. Ek skil nie die patat nie, maar bak dit so met skil en al, want die gebakte skilletjie is vir my verskriklik lekker.

Genoeg vir 4 persone
Bereiding: 10 min.
Baktyd: 35 min.

  • 2 groot oranje patats
  • olyfolie
  • sout
  • 2 lemoene
  • groot handvol gekapte vars kruie soos pietersielie en basilie
  • 2 rolle van 100 g elk chevin (bokmelkkaas)
  • 100 g heel okkerneute
  • vars slaai soos roket, blaarslaai, ment en bronkors

SLAAISOUS

  • 125 ml (½ k) kanola-olie
  • sap en fyngerasperde skil van een suurlemoen
  • sap van die lemoene nadat jy die segmente uitgesny het
  • 15 ml (1 e) vars kruisement
  • 30 ml (2 e) wit druiweasyn
  • 15 ml (1 e) heuning
  • sout na smaak
  1. Voorverhit die oond tot 180 °C (jy kan dit sommer in die airfryer doen).
  2. Was en borsel die patats se skil, maar moenie afskil nie.
  3. Sny die patats in kwarte en pak op ‘n bakplaat of in die laaitjie van die airfryer. Vryf die skywe met die olyfolie en besprinkel met die sout. Bak tot die patat sag is, sowat 35 min.
  4. Skil die lemoene en sny die segmente uit. Hou tot benodig.
  5. Druk die sap van die lemoene uit die agtergeblewe segmente en hou vir die slaaisous.
  6. Kap die kruie fyn en rol die chevin daarin. Hou tot benodig.
  7. Slaaisous Meng al die sousbestanddele deur dit saam te klits.
  8. Plaas die okkerneute in ‘n droë pan en rooster tot donker.
  9. Samestelling Pak die blare onder in ‘n mooi slaaibord. Rangskik die patatskywe en lemoensegmente op die slaaiblare.
  10. Sny die chevin in dun skyfies en pak bo-op.
  11. Giet die slaaisous oor en sprinkel die geroosterde okkerneute bo-oor.

Wenk: Pleks van bokkaas kan jy ook geroomde maaskaas gebruik, dit in bolletjies met ‘n lepel uitskep en dan in die kruie rol.

OOP GROENTETERT

Vir hierdie tert gebruik ek my staatmaker olyfoliekors wat jy sommer in die voedselverwerker kan aanmaak en maak sommer so ‘n vryvormkors op ‘n bakplaat wat jy so effe om die vulsel toevou. Die songedroogde tamaties verskaf ‘n heerlike geur.

Genoeg vir 4 mense
Bereiding: 30 min
Baktyd: 30 min

BROSDEEG

  • 160 ml (⅔ k) yswater
  • 60 ml (¼ k) olyfolie
  • 500 ml (2 k) klipgemaalde witbroodmeel
  • Knippie sout

VULSEL

  • 125 g songedroogde tamaties in vinaigrette
  • 12—14 swart olywe
  • 1 rooi soetrissie, ontkern en in klein blokkies gesny (opsioneel)
  • 200 g baba-spinasie
  • 125 g geroomde maaskaas
  • 1 eier, effe geklits
  • Paar baba-spinasieblare vir afronding
  • 100 g feta-kaas met swartpeper, in stukke gebreek

VOORSIT

  • babatamaties en basilieblare
  1. Voorverhit die oond tot 200˚C. Plaas ‘n bakplaat in die oond om te verhit (dit help dat die kors lekker deurbak).
  2. DEEG Meng die water en olyfolie.
  3. Plaas die koekmeel en sout in die bak van ‘n voedselverwerker met ‘n plastieklem.
  4. Giet die watermengsel deur die tuit by en verwerk tot ‘n stywe deegbal vorm in die bak – meng vir ten minste 5 minute en laat 10 minute rus.
  5. Plaas ‘n vel bakpapier op die werkoppervlak en plaas die deeg bo-op. Druk en rol die deeg in taamlike dun rowwe sirkel uit. Prik die deeg goed.
  6. VULSEL Meng al die bestanddele buiten helfte van die baba-spinasieblare en feta-kaas, geur goed met sout en peper.
  7. Plaas die vel bakpapier met uitgerolde kors op die verhitte bakplaat en skep die vulsel op die kors, maar hou ‘n rand van 3 cm reg rondom oor. Sprinkel die orige baba-spinasieblare oor en krummel die feta-kaas oor.
  8. Vou die rand skoon deeg effe oor die vulsel. Verf olyfolie oor die kors.
  9. Plaas in die oond en bak sowat 30 minute of tot die kors gaar en die vulsel stewig is.
  10. Plaas op ‘n dienbord en rond af met baba-tamaties en basilieblare bo-op. Sit louwarm voor.

PATATBROWNIES

Die kersie op die koek. Patat maak werklikwaar die lekkerste brownies. Ek het na heelwat brownieresepte gekyk wat minder koolhidrate bevat, maar die een wat met rou gerasperde patat gemaak word, bly my gunsteling: Nie te soet of te ryk nie en gemaak met bekostigbare bestanddele wat jy altyd byderhand het. Die 26 minute baktyd is in my oond die perfekte tyd om die brownie se tekstuur net reg te kry – nie droog nie, maar nog so effe klam en nat van binne.

BROWNIES

  • 1 middelslag-patat van 400 g, of 750 ml (3 k) wanneer dit gerasper is
  • 2 eiers
  • 10 ml (2 t) vanieljegeursel
  • 125–160 ml (½–⅔ k) bruinsuiker of heuning
  • 125 ml (½ k) gesmelte klapperolie of botter
  • 250 ml (1 k) gesifte kakao
  • 7,5 ml (1½ t) bakpoeier
  • 10 ml (2 t) koeksoda
  • 30 ml (2 e) klappermeel

AFRONDING

  • Kakao of versiersuiker of gesmelte donkersjokolade
  • Aarbeie en soutvlokkies (opsioneel)
  1. Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ‘n vierkantige 18-cm koekpan en voer uit met bakpapier.
  2. BROWNIES Meng die gerasperde rou patat, eiers, vanieljegeursel, bruinsuiker of heuning en klapperolie of gesmelte botter goed in ‘n groot mengbak.
  3. Meng die kakao, bakpoeier en koeksoda by. Voeg die klappermeel laaste by.
  4. Giet die mengsel in die bereide pan. Bak 26 minute lank of tot gaar maar steeds effe klam van binne. Laat 5–10 minute afkoel.
  5. Verwyder die brownies versigtig uit die pan.
  6. AFRONDING Sny in vierkante en sif ‘n bietjie kakao of versiersuiker oor of giet die gesmelte donkersjokolade oor. Sit voor saam met aarbeie en sprinkel soutvlokkies oor.

Wenk:

Meet die klappermeel mooi af; dit is geneig om al die vloeistof op te suig en sal die brownies baie droog maak as jy te veel byvoeg, maar help om die brownie “bymekaar” te hou.

Leave a comment