Op my verdere reistog met rys, gaan delf ek in die resepte wat ek oor jare ontwikkel het en wat vandag groot staatmakers in my kombuis is en onlosmaaklik deel van my huishouding geword het. Ek besef opnuut dat met die groot verskeidenheid ryssoorte wat daar in Spekko se koskas is, mens die mees uiteenlopende geregte kan optower – van ‘n supergesonde rysslaai met bruinrys of die heerlikste brejani’s, berei met basmati, wat met reg die koning van rys genoem word. Saam met Oosterse geregte soos ‘n geurige Thaise kerrie, is klewerige jasmynrys net die ding en dan is daar natuurlik my gunsteling, plein gewone rys-en-lensies, ‘n vegetariese gereg lieflik gegeur met malse Maleise geure wat geniet word saam met ‘n skeppie jogurt. Basmati of gewone langkorrelrys is geskik daarvoor. Daarvan kan ek bakke en bakke op my eie verorber. Ja nee, met rys is daar veel meer te doen as om dit gewoon net as bykos voorsit.
RYS-EN-LENSIES

Saam met hierdie geurige vegetariese gereg sit ek graag eiervrug- en uietjips voor wat mens sommer deesdae in die Airfryer kan braai.
Genoeg vir 4 mense
Bereiding: 15 min
Gaarmaak: 45—55 min
EIERVRUG-EN-UIETJIPS
- Sout
- 2 middelslag eiervrugte, in papierdun skyfies gesny
- 2 uie, geskil en in dun skyfies gesny
- Olie
RYS-EN-LENSIES
- 250 g swart of bruin lensies
- 45 ml (3 e) olie
- 10 ml (2 t) komynsaad
- 200 g SPEKKO basmati-rys
- 5 ml (1 t) fyn koljander
- 3 ml (ruim ½ t) borrie
- 5 ml (1 t) gemengde speserye
- 5 ml (1 t) suiker
- 1 kaneelstok
- Peper na smaak
- 1 blik (400 g) botterbone, gedreineer (opsioneel)
- 350 ml water
AFRONDING
- Koljanderblare
- Dik romerige jogurt
- Bietjie fyn komyn vir bo-oor sprinkel
Voorverhit die oond (of Airfryer) tot 200°C.
- TJIPS Sprinkel die sout oor die eiervrug en uie en laat staan 10 minute. Spoel af en druk droog.
- Versprei egalig in ‘n enkellaag op ‘n bakplaat of andersins in die AirFryer se laaitjie en besprinkel goed met olie.Oondrooster tot gaar en lekker bros, sowat 10 min. Roer gereeld met ‘n eierspaan sodat dit egalig kan gaar word. Hou eenkant.
- RYS-EN-LENSIES: Kook die lensies in water tot sag. Dreineer en geur goed met sout.
- Verhit 45 ml (3 e) olie in ‘n groot kastrol en roerbraai die komynsaad tot geurig, sowat 2—3 min.
- Voeg die rys, fyn speserye, suiker en kaneelstok by en meng deur sodat die rysmengsel goed met die speserye bedek is. Geur met sout en peper.
- Voeg die gaar lensies, botterbone, indien gebruik, en water by en bring tot kookpunt. Verlaag die hitte en laat sowat 15 min prut tot die rys sag en meeste van die vloeistof geabsorbeer is.
- Verwyder van die hitte, plaas ‘n skoon vadoek oor die pan en plaas die deksel op, laat 10 min, stoom.
- Roer die helfte van die tjips deur die rysmengsel, skep in bakkies en skep ‘n hopie tjips bo-op elk.
- Rond af met koljanderblare en ‘n skeppie jogurt. Sprinkel die komyn oor.
THAISE KERRIE

Die staatmaker is menige dag aandkos in my huis. Toe my kinders klein was, het hulle dit in klein bakkies geskep en ewe met Chinese stokkies geëet. Dié kerrie met sy klappermelkbasis kan met hoender, vark of seekos gemaak word. Klewerige jasmynrys is heerlik hierby, so maak seker jy maak genoeg daarvan gaar. (Enige oorskiet rys kan jy later sommer net so met ‘n sprinkel sojasous oor, geniet).
Genoeg vir 4 mense
Bereiding: 15 min.
Gaarmaak: 20 min.
- 30 ml (2 e) olie
- 15 ml (1 e) gerasperde vars gemmerwortel
- 3-4 knoffelhuisies, fyngedruk
- 2 stingeluie of 1 klein ui, gekap
- 30-45 ml (2-3 e) Thaise groen-, rooi- of geelkerriepasta
- 1 blik (400 g) klappermelk
- 4 hoenderborsfilette of ontbeende, ontvelde dye, in stukke gesny
- 250 g groentes soos baba-eiervrug, gehalveer; Chinese blaarkool, in dun repies gesny; en/of ertjiepeule en babamielies
- ’n hand vol babaspinasieblare
- ’n hand vol koljanderblare, gekap
- 30 ml (2 e) sojasous
- ’n paar druppels vissous
- sowat 30 ml (2 e) lemmetjie- of suurlemoensap
- 5 ml (1 t) bruinsuiker
- ’n paar kersietamaties
- koljanderblare en sesamsade vir oorsprinkel
- Spekko-jasmynrys vir voorsit
- Verhit die olie in ’n pan en roerbraai die gemmerwortel, knoffel en uie tot sag en geurig.
- Voeg die kerriepasta by en roer deur.
- Voeg die klappermelk by en bring tot kookpunt. Laat goed kook.
- Voeg die hoenderstukkies by en laat 5 min. prut tot byna gaar.
- Voeg die groente en gekapte koljanderblare by en laat prut sowat 5-10 min. tot die groente net-net gaar maar nog baie bros is.
- Roer die soja- en vissous saam met die lemmetjiesap en bruinsuiker by. Meng deur.
- Voeg die tamaties by – moenie nog verhit nie – en strooi die koljanderblare en sesamsade oor.
- Sit voor saam met klewerige jasmynrys.
GROENTEBREJANI

Hierdie geurige groentegereg is ook baie maal middel-van-die-week aandkos in ons huis. Soms sny ek sommer ook hoenderborsfilette in repies of blokkies en braai dit vinnig bruin met ‘n spatsel sojasous oorgesprinkel. Dan voeg ek dit by sodra ek die ui begin braai. Sien ook die variaisie vir ‘n eenvoudige hoenderbrejani wat ek altyd maak. Maak seker dat jy basmati, wat so lekker uitswel tot dubbele lengte, hiervoor gebruik.
Genoeg vir 6 mense
Bereiding: 20 min
Gaarmaak: 60 min
- 500 ml (2 k) Spekko-basmati-rys
- Sout na smaak
- Olie
- 5 kardamompeule
- 5 ml (1 t) komynsaad
- 1 ui, gekap
- 1 elk rooi, geel en groen soetrissie, ontkern en in blokkie gesny
- 1 eiervrug, in klein blokkies gesny (opsioneel)
- 10 klein worteltjies
- 4 knoffelhuisies, fyngedruk
- 15 ml (1 e) fyngerasperde vars gemmer
- 230 g sampioene, in stukke gesny
- 1 kop blomkool, in blommetjies gebreek
- 10 ml (2 t) borrie
- 45—60 ml (3—4 e) fyn brejani-masala
- 10 ml (2 t) fyn gekapte mentblaartjies
- ‘n groot handvol elk koljanderblare en pietersielie, gekap
- 5 ml (1 t) elk mosterdpoeier en fyn komyn
- 1 blik (400 g) kekerertjies, gedreineer en in ‘n bietjie olie tot bros gerooster
- Vars koljanderblare vir voorsit
- Kook die rys 15 minute met ‘n bietjie sout volgens die aanwysings op die pak. Spoel onder koue water af en hou eenkant.
- Verhit ‘n bietjie olie in ‘n kastrol en roerbraai die kardamom en komynsaad effe.
- Voeg die ui, soetrissie en eiervrug by en roerbraai so 2 minute.
- Voeg die wortels by en roer die knoffel en gemmer by. Roer en verhit sowat 5 minute voordat jy die sampioene en blomkool byvoeg.
- Sprinkel die borrie en brejani-masala oor en geur met sout soos nodig. Meng deur en giet bietjie water by sodat dit nie aanbrand nie.
- Sprinkel die ment, koljander en pietersielie oor en voeg die mosterd en komyn by. Verhit ‘n paar minute, pas op vir oorgaarmaak.
- Voeg die rys en 125 ml (1/2 k) water by gevolg deur die kekerertjies.
- Bedek en laat sowat 20 minute oor hoë hitte stoom, verlaag die hitte tot baie laag en laat nog sowat 20 minute stoom tot lekker geurig.
- Sprinkel vars koljanderblare oor en sit voor.
HOENDER-BREJANI: Meng 5 ml (1 t) heel brejani-speserymengsel, 15 ml (1 e) brejani-masala, 10 ml (2 t) garam masala, 1 kaneelstokkie, 2 lourierblare en 125 ml (1/2 k) natuurlike jogurt. Voeg 8 hoenderporsies, kleiner gesny of 6 hoenderborsfilette, wat in stukke gesny is by en marineer ‘n halfuur lank. Braai 1 gekapte ui, 4 fyngerasperde knoffelhuisies, 15 ml (1 e) gerasperde vars gemmer en 1 groen soetrissie, wat in stukke gesny is in olie tot sag. Voeg 60 ml (1/4 k) gekapte koljanderblare by asook 180 ml (3/4 k) kookwater asook die gemarineerde hoenderstukke saam met die marinade. Verlaag die hitte, bedek en laat prut tot die hoender sag is. Voorsit: Skep ‘n laag gaar basmati-rys, dan ‘n laag gaar lensies (500 ml gaar rys en 250 ml gaar lensies) en dan ‘n laag hoendermengsel in die kastrol. Herhaal tot die bestanddele opgebruik is en stip met bietjie botter. Bedek en laat sowat 10 minute oor baie lae hitte stoom sodat die geure lekker kan deurtrek. Sprinkel nog koljanderblare oor en sit voor.
BRUINRYS-EN-QUINOA-SLAAI

Spekko se bruinrys is ‘n volgraanrys waarvan die buitenste lagie nie verwyder is nie. Dit het ‘n lae Glikemiese Indeks en is ideaal om te gebruik as jy vars (clean eating) en gesonder wil eet. Dit neem wel ietwat langer om sag te kook maar die heerlike neuterige smaak maak dit beslis die moeite werk. Die kombinasie saam met quinoa is heerlik en verskaf ook heelwat proteïen. Maak seker jy spoel die quinoa goed af voor jy dit gaarmaak (ek kook dit sommer baie keer vinnig op, dreineer en spoel af – sodoende raak jy van die bitter smaak ontslae. Pasop ook vir te lank kook, dan is dit ‘n pappery.
Genoeg vir 4-6 mense
Bereiding: 15 min.
Gaarmaak: 40 min.
SLAAI
- 250 ml (1 k) Spekko-bruinrys
- 125 ml (½ k) quinoa, goed afgespoel
- sout
- 80 ml (½ k) koljanderpesto (sien resep)
- 1 blik (400 g) kekerertjies, gedreineer
- 1 komkommer, gehalveer en ontpit en in klein blokkies gesny
- groot hand vol bloubessies of andersins druiwe, appel of nektariens, in blokkies gesny
- 1 rooi-ui, geskil en in klein blokkies gesny
- 1 suurlemoen se gerasperde skil
- hand vol roketblare
- geroosterde pampoen- en sonneblomsaad vir garneering
Pesto:
- 1 groot handvol koljanderblare
- 2 handvol vars basiliekruidblare
- 50 g gerasperde parmesan
- 75 g geroosterde sonneblomsaad
- 1 knoffelhuisie
- 125 ml (½ k) olyfolie
- sout na smaak
- Kook die bruinrys en quinoa saam met ‘n bietjie sout volgens die aanwysings op die pak. Dreineer goed en laat afkoel.
- Meng die afgekkoelde rys en quinoa in ‘n bak saam met die koljanderpesto, kekerertjies, komkommer, bloubessies, rooi-ui en suurlemoenskil.
- Strooi die roketblare oor en garneer met pampoen- en sonneblomsaad.
KOLJANDERPESTO
Meng die koljanderblare, basiliekruid, parmesan, sonneblomsaad, knoffel en olyfolie in ‘n voedselverwerker en verwerk tot ‘n gladde pasta. Meng sout in na smaak en gebruik sommer in ‘n slaai of ander geregte.
