Verlede week is ek werklikwaar mildelik geseën – ‘n groot mandjie groente saam met sakkies vol IMBO-produkte, van bone en lensies tot gort, sago en klapper, is by my afgelewer. Daarby was daar ‘n veelsydige Instant Pot Duo Crisp & Air Fryer. Hierdie alles-in-een apparaat kan as drukkoker, slow cooker, sous vide, lugbraaier, bak- en roosterapparaat gebruik word, en het dadelik ‘n permanente plek op die werksoppervlak in my Weskuskombuis gekry. Die kosmandjie was soos die weduwee se kruik wat nooit leeg raak nie, oorloop van lekkernye waarmee ek heerlik kan kook! Baie dankie aan IMBO en Wine&Roses.
Groentelensiesop

Sopbene:
- 2 kg sopbene, gesaag
- Sout en peper na smaak
- 125 ml (½ k) tamatiepuree
- Olie vir braai
- 3 uie of preie, gekap
- 4-6 knoffelhuisies, fyngedruk
- 6 selderystele, in stukke gesny
- 5 wortels, skoongeskraap en gerasper
- 400 g spinasie, gekap
- 4 L groenteaftreksel, gemaak van 8 aftrekselpotjies
- 100 g tamatiepasta
- 500 g bruinlensies, goed afgespoel
- Sout en peper na smaak
Vir Voorsit:
- Gerasperde skil van 1 suurlemoen
- ’n Handvol pietersielie of koljanderblare, gekap
- Voorverhit die oond tot 200 °C of stel die Instant Pot Duo Crisp & Air Fryer op AirFry. Geur die sopbene met sout en peper. Pak op ‘n bakplaat en oondbraai sowat 20 minute tot effens bruin, of gebruik die AirFryer-deksel om te rooster tot effens verbruin.
- Verhit olie in ‘n groot kastrol of die Instant Pot. Voeg die uie of preie, knoffel en seldery by, en soteer tot sag en geurig.
- Voeg die wortels en spinasie by en meng goed deur. Voeg die gebakte sopbene by.
- Meng die aftreksel en tamatiepasta, en voeg dit saam met die lensies by die bestanddele in die kastrol of Instant Pot. Vir drukkook, plaas die drukpotdeksel op en drukkook sowat 15 minute tot die lensies sag is. Geur met sout en peper, en sprinkel gerasperde suurlemoenskil en gekapte pietersielie of koljander oor.
Persiese Bonestowe

Bestanddele:
- 500 g gemengde droëbone (rooi gespikkelde, nierbone, klein witbone, en swartbekbone indien verkies)
- Sout en peper
- 80 g botter
- 2 uie, dun gesny
- 10 knoffelhuisies, fyngerasper
- 2-3 stele sopseldery
- 500 g stowelamsvleisblokkies
- 7 ml (1½ t) fyn borrie
- 5 ml (1 t) fyn komyn
- 65 g tamatiepasta
- Sowat 1,5 liter (6 k) groenteaftreksel
- 30 g koljanderblare, gekap
- 150 g babaspinasie
Vir Voorsit:
- Natuurlike volroom jogurt
- Basmati-rys
- Week die bone soos op die pakkie aangedui – vir 60 minute of oornag. Dreineer en spoel goed af.
- Plaas die bone in ‘n kastrol, bedek met koue water, bring tot kookpunt, verlaag die hitte en kook tot sag. Dreineer en geur met sout en peper. (Die bone kan ook in die Instant Pot gedrukkook word.)
- Verhit botter in ‘n groot kastrol en roerbraai die uie, knoffel en seldery tot sag. Geur die vleis liggies met sout en peper, voeg by, en braai tot geurig.
- Voeg speserye en tamatiepasta by, meng deur, en voeg die aftreksel by. Laat prut tot die vleis amper sag is. Voeg meer aftreksel by indien nodig.
- Voeg die bone by en laat prut tot die vleis heeltemal sag is.
- Voeg spinasie en koljanderblare by en laat prut nog sowat 10 minute tot geurig. Geur met sout en peper indien nodig.
- Sit voor saam met basmati-rys en jogurt.
Smullekker Dahl

Bestanddele:
- 2 uie, goed fyngekap
- 3–4 knoffelhuisies, fyngerasper
- 15 ml (1 e) vars gemmer, fyngerasper
- 1 brandrissie, ontpit en gekap (opsioneel)
- Olie
- 15 ml (1 e) geroosterde masala of medium kerriepoeier
- 2,5 ml (½ t) borrie
- 2,5 ml (½ t) paprika
- 10 ml (2 t) fyn komyn
- 1 blik (400 g) tamaties in sap ingemaak
- 500 ml (2 k) rooi lensies, geweek in 1 liter (4 k) water
- 500–750 ml (2–3 k) groenteaftreksel of chai-rooibostee (gebruik Focus van Carmién Tea)
- Sout en peper na smaak
- Strooisel suiker
- Lemmetjiesap
- Groot handvol gekapte koljanderblare
Vir Voorsit:
- Skeppie natuurlike jogurt met fyngekapte komkommer
- Geposjeerde eier (opsioneel)
- Geroosterde suurdeegbrood of gepofde poppadum
- Braai ui en knoffel saam met gemmer en brandrissie in olie tot sag. Roer speserye by en roerbraai tot geurig, pas op vir brand.
- Voeg tamaties by en bring tot kookpunt.
- Dreineer lensies en voeg saam met aftreksel of rooibostee by. Bring tot kookpunt en laat prut tot lensies sag en moesig.
- Geur met sout, peper, suiker en lemmetjiesap, en voeg koljanderblare by. Laat prut tot geurig, sowat 5 minute.
- Sit voor met ‘n skeppie jogurt en gekapte komkommer of ‘n geposjeerde eier indien verkies, saam met suurdeegbrood of poppadum.
Variasie:
As jy sop wil maak, braai 2 stele gekapte seldery, 2 wortels en 1 gerasperde aartappel saam met die uie in olie tot sag. Verhoog aftreksel tot 2 liter (8 k) en kook verder soos aangedui.
Ginger-Lensie Slaai

Hierdie slaai het die bekroonde sjef en restaurateur, Jacques Erasmus, jare gelede vir my gemaak. Sedertdien is dit een van my gunsteling slaaie wat ek gereeld aan gaste voorsit. Gebruik vrugte soos wat dit in seisoen is—somertyd sal pruime en nektariens goed werk, terwyl lemoene, soos die mooie rooivleis Cara Cara-lemoene, weer wintertyd die ding sal doen.
Genoeg vir 4 mense
Bereiding: 15 min
Staan: 20 min
Ginger-Lensie Slaaisous
- 2 cm-stuk gemmerwortel, fyn gerasper
- 2 knoffelhuisies, fyngerasper
- 1 suurlemoen se gerasperde skil en sap
- 15 ml (1 e) gekapte mentblare
- 30-45 ml (2-3 e) bruinsuiker of heuning
- 5 ml (1 t) elk soja- en vissous
- 5 ml (1 t) geroosterde sesamsade
- 30 ml (2 e) water
Slaai
- 750 g bruinlensies, saggekook en goed gedreineer
- 60 ml (¼ k) fyn gekapte piekelgemmer
- 125 ml (½ k) elk grof gekapte pietersielie en koljanderblare
- 6 ryp swart pruime of 3 Cara Cara-lemoene, in skyfies gesny
- Koljanderblare en piekelgemmer vir bo-oor
- Ginger-Lensie Slaaisous: Meng al die bestanddele en hou eenkant.
- Slaai: Giet die sous oor die lensies terwyl nog warm en laat staan vir minstens 20 min. tot afgekoel en sodat die geure lekker kan intrek.
- Meng die gekapte piekelgemmer en kruie deur die lensies. Skep in ’n slaaibak.
- Rangskik die vrugteskyfies bo-op en sprinkel die koljanderblare oor. Rond af met die ekstra skyfies piekelgemmer.
Maklike Vierboneslaai

Hierdie slaai herinner aan destyds se gewilde drieboneslaai, maar dis heelwat gesonder met ‘n heerlike geurige slaaisous. Baie keer, as ek die tyd my inhaal, maak ek sommer ‘n slaaisous met rooibostee—dan gebruik ek Carmién se groen rooibostee met boegoe. Maklik en heerlik!
Genoeg vir 6 mense
Bereiding: 10 min
Gaarmaak: 5 min
Slaaisous
- 80 ml (⅓ k) olyfolie
- 15 ml (1 e) elk komyn- en vinkelsaad
- 4 knoffelhuisies, fyngerasper
- 60 ml (4 e) suurlemoensap
- 2 suurlemoene se skil, gerasper
- 1¼ ml (¼ t) droë brandrissievlokkies
- 10 ml (2 t) bruinsuiker
Slaai
- 250 ml (1 k) elk verskeidenheid gaar bone soos klein witbone, nierbone, rooi gespikkelde bone en swartbone
- 3 wortels, in julienne-repies gesny
- 1 rooi-ui, in dun repies gesny
- 2-3 stukke fetakaas, grof opgebreek
- Koljander of pietersielie vir garnering (opsioneel)
- Slaaisous: Verhit die olie in ’n pan en voeg die sade en knoffel by. Braai en verhit tot geurig, sowat 3 min. Roer die suurlemoensap en -skil, brandrissievlokkies, en suiker by.
- Slaai: Plaas die bone in ’n bak, giet die slaaisous oor en laat afkoel. Voeg die wortelrepies by en meng deur.
- Skep in ’n slaaibak, sprinkel die ui oor en rond af met die fetakaas en ’n takkie kruie (indien gebruik).
Rooibos-Slaaisous
Maak sowat 300 ml slaaisous
- 80 ml (⅓ k) olie
- 250 ml (1 k) groen rooibostee met boegoe, gemaak met 3 sakkies (ek gebruik graag Carmién Tea se Rescue)
- Fyngerasperde skil en sap van ½ halwe suurlemoen
- 30–45 ml (2–3 e) appelasyn
- 1,25 ml (¼ t) seesoutvlokkies
- 30–45 ml (2–3 e) suiker
