Nostalgiese poedings

So op Vrouedag dink mens onwillekeurig terug aan die vroue wat ‘n groot invloed op mens se lewe gehad het. Vir baie van ons is dit ons ma’s wat ons menswees en ons doen en late help vorm het. Soms doelbewus, maar meestal is dit die klein dingetjies wat mens bybly en later van jare koester. So was dit met Ma en haar manier van omgee wat meestal om kos, maar veral brood en poeding gedraai het.

Soos julle reeds weet, was ons koshuiskinders wat Vrydagmiddae dood van die honger die huis via die kombuis binnegestorm het waar die reuk van tuisgebakte soetsuurdeegbrood ons begroet het. Die hooguitgerysde brode het reeds almal netjies in gelid onder die linnedoek gelê, nog louwarm. Dan was dit die eerste gestoei wie die korsie gaan kry. Ons het ook geweet dat nadat daardie brode uit die oond gekom het, daar ook een of ander poeding oond toe gegaan het. Baie keer moes ons raai, maar meestal was dit karringmelkpoeding, wat nog in die oond was terwyl ons solank aangesit het vir ons middagete. Dit het altyd pofhoog uit die oond gekom en daarmee saam was die karamelsous wat Ma (en later ons) geduldig staan en roer het tot al die suikerkaramel in die melk opgelos was tot salige lekkerte. Ander kere was dit gebakte appels, met ‘n naeltjie of twee saam met ‘n stuifie kaneelsuiker en klontjie botter in die gaatjie gedruk waar sy die kern uitgesny het. Dié het ons saam met vla gekry; menigmaal ook Roly Poly in ‘n stroopsoet sousie gebak of soms gebakte vla saam met gouestroop. Wanneer die tyd haar ingehaal het, is ‘n bottel ingelegde perskes van die spensrak gehaal en ook saam met dun vla voorgesit. Sondae was daar baie keer fluweelpoeding, wat somtyds ‘n Post Toastie-korsie gekry het a la die koshuis. Andersins een of ander sjokoladepoeding (my pa het dit sommer modder gedoop); dié het ons geniet saam met haar legendariese roomys wat sy met dik plaasroom gemaak het. En so kan die lysie aangaan en aangaan…haar liefdesbriewe geskryf met ‘n happie soet om ons terug te verwelkom by die huis na ‘n strawwe week in die koshuis waar ons ons al van Donderdag af begin uithonger het om plek te maak vir die naweek se groot eet.

KARRINGMELKPOEDING MET SOUTKARAMELSOUS

Genoeg vir 4—6 mense Voorbereiding: 10 min Baktyd: 40 min

  • 180 ml (3/4 k) suiker
  • 15 ml (1 e) botter
  • 4 eiers
  • 60 ml (1/4 k) bruismeel
  • Knippie sout
  • 5 ml (1 t) vanieljegeursel
  • 500 ml (2 k) volroommelk
  • 250 ml (1 k) karringmelk

VOORSIT
Soutkaramelsous
Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n oondbak of 4—6 afsonderlike oondvaste bakkies.

  1. Verroom die suiker en botter saam.
  2. Voeg die eiers een vir een by en klits.
  3. Roer die meel, sout en vanieljegeursel by.
  4. Meng die melk en karringmelk en roer by die eiermengsel.
  5. Giet in die voorbereide bakkies. Plaas in ‘n oondpan gevul met kookwater en bak sowat 40 minute tot die karringmelkmengsel gestol is. Laat effe afkoel tot louwarm.
  6. Sit voor met soutkaramelsous.

Soutkaramelsous
1 pakkie (150 g) karameltoffies
125 ml (1/2 k) room
Knippie seesoutvlokkies (opsioneel)
Smelt die toffies, room en sout in die mikrogolfoond vir 2—3 minute op Hoog, roer gereeld tot die toffies gesmelt het.

FLUWEELPOEDING
(Post Toastie-tert, sagopoeding en ryspoeding)

Dis min dat mens kon sê dat jy van koshuiskos gehou het, maar soms het ons in Huis Brandwag op Citrusdal fluweelpoeding op ‘n Post Toastie-kors vir poeding gekry. Hemels! Fluweelpoeding vorm die basis vir sago- en selfs ryspoeding.

Genoeg vir 6—8 mense Voorbereiding: 15 min Baktyd: 25 min

  • 125 ml (1/2 k) suiker
  • 200 ml koekmeel
  • 2 ml (1/2 t) sout
  • 4 eiers, geskei
  • 1 liter (4 k) warm volroommelk
  • 10 ml (2 t) vanieljegeursel
  • 25 ml (5 t) appelkooskonfyt
  • 125 ml (1/2 k) strooisuiker

Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n groterige oondvaste bak met botter of spuit met kossproei. (Andersins spuit 6—8 oondvaste bakkies).

  • Meng die suiker, koekmeel en sout.
  • Klits die eiergele tot lig, voeg die melk en geursel by, voeg die koekmeelmengsel bietjie vir bietjie by en klits tot goed gemeng.
  • Giet in ‘n dikboomkastrol en verhit oor lae hitte terwyl gedurig geroer word tot die mengsel begin prut en gaar is.
  • Giet in die voorbereide bak of bak(kies) en maak gelyk bo-op. Bak 15—20 minute.
  • Smelt die konfyt in die mikrogolfoond en smeer bo-oor.
  • Klits die eierwitte tot skuimerig, voeg die strooisuiker lepelsgewys by en klits tot styf.
  • Skep bolle oor die vla en bak sowat 5 minute by 220°C of tot die meringue net effe verbruin bo-op.

Wenk: Berei ‘n kors met 200 g Post Toasties wat fyngedruk is en met sowat 100 g gesmelte botter gemeng is. Druk vas onderin die bak(kies).

Variasie: Sagopoeding: week 200 ml sago in bietjie water tot sag. Kook in 750 ml (3 k) melk tot sag. Laat effe afkoel en roer die suiker, sout en eiergele by. Skep in die bak(kies) en berei verder soos beskryf.

Ryspoeding: Gebruik 500 ml (2 k) melk en 250 ml (1 k) room. Los die meel uit en voeg die suiker, ongeskeide eiers en 2 ekstra eiergele, sout by en klits goed. Voeg 500 ml (2 k) gaar rys en 3 ml (ruim ½ t) kaneel of die gerasperde skil van 1 lemoen by. Skep in bakkies en bak sowat 40 minute tot gestol.

SUURMELK-CRÈME BRULEE

Hierdie crème brulee is amper ‘n tipe korslose kaaskoek met sy bruleelagie bo-op.

Genoeg vir 4—6 mense

  • 2 bakkies (230 g elk) geroomde maaskaas
  • 125 ml (1/2 k) strooisuiker
  • 4 eiers
  • 60 ml (1/4 k) suurlemoensap
  • 250 ml (1 k) suurmelk of jogurt

Voorverhit die oond tot 160°C. Smeer 4—6 oondvaste bakkies.

  1. Meng die roomkaas, strooisuiker, eiers, suurlemoensap en suurmelk of natuurlike jogurt goed saam en skep in die gesmeerde ramekinbakkies of dariole-vormpies.
  2. Plaas in ‘n oondpan, halfpad gevul met kookwater en bak 30—40 minute of tot gaar en ‘n mespunt net skoon uit die poedings kom.
  3. Koel oornag af, sprinkel strooisuiker oor en skroei met ‘n blaasvlammetjie.

Variasie: GEBAKTE VLA Verhit 375 ml (1 1/2 k) volroommelk (of helfte daarvan room) en 5 ml (1 t) fyngerasperde lemmetjie- of lemoenskil. Koel effe af. Voeg 80 ml (1/3 k) strooisuiker by en roer tot opgelos. Klits 3 ekstra groot eiergele en 2 ml (1/2 t) vanieljegeursel. Voeg by die melk. Sprinkel neutmuskaat oor en bak in gesmeerde bakkies in ‘n waterbad soos die vorige resep tot die vla amper gestol is. Baktyd sowat 25 minute.

Leave a comment