Nampo, hier kom ons

Ek was nog altyd gek oor enige landbouskou of boeredag en is superopgewonde om deel te wees van vanjaar se vroue-program wat by Nampo Kaap in Bredasdorp aangebied word vanaf 11—13 September. Ek kry van Woensdag, 11 Sept tot Vrydag, 13 September die geleentheid om in die “vrouetent” mense bietjie touwys te maak in my manier van kook. My tema: maak ’n kopskuif oor kos: eet lekker, maar gesonder sonder moeite. Ons gaan bietjie kyk watter geregte mens met ’n klaargaar hoender kan opdis; dan berei ons ’n paar ligter geregte soos brood en ’n vullende slaai en sluit af met ’n paar lekker soetgoed wat vinnig en maklik is om te berei. Hier is ’n lusmaker met ’n paar resepte soos ’n Thaise hoenderkerrie, pilaf met mentfeta en ’n vinnige appelkrummel.

HOENDERKERRIE MET AMANDELRYS

GENOEG VIR 4 MENSE
Bereiding: 10 min.
Gaarmaak: 30 min.

  • 30 ml (2 e) botter of klapperolie
  • 1 ui, gekap
  • 15 ml (1 e) gemmer-en-knoffelpasta
  • 1 rooi brandrissie, gekap
  • 5 ml (1 t) borrie
  • 10-15 ml (2-3 t) garam masala
  • 5 ml (1 t) elk fyn komyn en koljander
  • 1 x 400 g-blik gekapte tamaties
  • 1 x 400 g-blik klappermelk of helfte natuurlike jogurt
  • 50 g fyn amandels (opsioneel)
  • 1 gaar spithoender, in growwe stukke gebreek
  • ’n hand vol gekapte koljanderblare

RYS

SALSA

  • kersietamaties, komkommer, brandrissie en rooi-ui, in klein blokkies gesny
  • bruinasyn
  1. Verhit die botter of olie en braai die ui, gemmer en knoffel en brandrissie tot sag. Voeg die speserye by en roer deur.
  2. Voeg die tamaties by. Laat prut 2-3 min. tot geurig. Voeg die klappermelk by en meng deur.
  3. Voeg die amandels by (indien gebruik). Verhit 2-3 min. tot die sous effe verdik, roer die hoenderstukke by en verhit 5-7 min. tot warm. Sprinkel die koljanderblare oor.
  4. Dreineer die rys en kook sowat 15 min. in die water of rooibostee tot sag. Dreineer en vlok. Sprinkel ’n bietjie sesamolie oor, en dan die amandels.
  5. Meng al die bestanddele vir die salsa. Sit voor met die kerrie, rys en atjar (indien gebruik).

HOENDERPILAF MET MENTFETA

GENOEG VIR 4 MENSE
Bereiding: 15 min.
Gaarmaak: 20 min.

  • 2 uie, gekap (1 rooi, indien verkies)
  • 4 knoffelhuisies, fyngedruk
  • 1 groen soetrissie, in blokkies gesny
  • 1 rooi brandrissie, in stukkies gesny
  • ’n bietjie olie
  • 5 ml (1 t) karwysaad
  • 5 ml (1 t) elk fyn komyn en koljander
  • 2 heel kaneelstokkies
  • 1 steranys
  • 250 ml (1 k) langkorrel of basmatirys
  • sout na smaak
  • 500 ml (2 k) groenteaftreksel (ek gebruik meestal Carmien se groen rooibostee pleks van die aftreksel)
  • 1 x 410 g-blik pitmielies, gedreineer
  • ½ spithoender, met ’n vurk in stukke getrek

MENTFETA

  • 100 g feta
  • 60 ml (¼ k) gekapte mentblare
  1. Braai die uie, knoffel, soetrissie en brandrissie in ’n bietjie verhitte olie tot sag. Voeg die karwysaad by en braai 1-2 min.
  2. Roer die komyn en koljander deur en voeg die kaneelstokkies en steranys by.
  3. Voeg die rys by en geur met sout. Voeg die aftreksel by en laat prut tot die rys sag is en die aftreksel verdamp het.
  4. Roer die pitmielies en die hoender by en verhit tot warm.
  5. Breek die feta in stukke. Meng die ment by. Sit voor met die hoenderpilaf.

APPELKRUMMEL

Die hawermout, neute en klapper maak ’n heerlike kors en krummel vir hierdie appeltert wat met vars appels berei word. Ek bak sommer die tert in die Airfryer.
Maak 1 tert
Bereiding: 20 min
Baktyd: 30—40 min

KORS EN KRUMMEL

  • 125 ml (1/2 k) bruinsuiker
  • 500 ml (2 k) hawermout
  • 125 ml (1/2 k) fyn klapper
  • 50 g gemengde neute, grof gekap
  • 50 g pampoenpitte
  • knippie bakpoeier
  • sowat 160 ml (2/3 k) botter

VULSEL

  • 2 appels, ontkern, maar ongeskil in skywe gesny
  • 125 ml (1/2 k) bloubessies (bevrore)
  • 1 cm gemmerwortel, gerasper
  • gerasperde skil van 1 suurlemoen
  • 15 ml (1 e) heuning of bruinsuiker (opsioneel)
  • fyn kaneel

Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ’n ronde 20 cm losboom-koekpan of tertpannetjie.

  1. Meng al die droë bestanddele in die voedselverwerker tot die hawermout bykans fyn is, voeg die botter by en pols tot goed ingemeng.
  2. Druk sowat twee derdes vas in die pannetjie. Bak 5—10 minute.
  3. Meng al die bestanddele vir die vulsel en skep in die gebakte kors.
  4. Krummel die res van die hawermoutmengsel oor en bak sowat 30 minute of tot die krummel lekker bros is.

Leave a comment