Hoendersosaties en bergfietsry

Die afgelope naweek was die vyfde keer dat die Rooibos MTB deur Carmién vir bergfietsryers by De Tol op die Piekenierskloofpas buite Citrusdal aangebied is. Ons was daar, nie om self te ry nie, maar om heerlik saam te kuier, goeie wyn en roosterkoek te geniet en het daar ook die lekkerste keriehoender-sosaties geproe.

Dis ‘n fyn misreëntjie wat neersif toe ons vroegoggend by De Tol bo-op die Piekenierskloof buitekant Citrusdal stop. Maar dit demp geensins die geesdrif van die horders fietsryers wat aangetree het vir ‘n 80, 55, 30 of 18 km rit nie (selfs die kleintjies het ‘n beurt gekry om ‘n paar rondtes te ry!). Die gasvryheid en pragtige natuurtonele wat hulle op die verskeie roetes begroet, maak goed daarvoor op.

Ek het lankal reeds my fietsryskoene opgehang, maar tree aan vir ‘n kort wyn-en-tee-staproete wat jou deur die wingerde neem om ‘n paar van Piekenierskloofwyne te proe saam met ‘n passende Carmién-rooibostee, ‘n uniekheid tans eie aan Piekenierskloofwyne. Telkens is ek verras met die interessante geure wat die kombinasies na vore bring. By De Tol kan jy ook formeel wyn proe en daar is ook ‘n verskeidenheid ander drinkgoed, tot ‘n mooi opgetofte Carmién-jenewer saam met ‘n sakkie piramiedrooibostee by die buitekroeg beskikbaar. Selfs die kinders kan aansit vir hul eie unieke tee-en-happie pairing. Oral op die perseel staan halfdromme met vure waar die moeë ryers en hul maters hulself kan warm maak en veral die warm storte is ‘n groot bonus. Onder die tentdak kuier die mense gesellig saam en geniet die musiek.

Na ‘n vinnige draai in die De Tol deli in die mooie ou tolhuisie, waar jy van droëperskes direk van die plaas, rou heuning en vars brood kan koop, staan ek dadelik nader vir ‘n heerlike warm koffie saam met roosterkoek, goed uitgebak en dik gesmeer met tuisgemaakte appelkooskonfyt en ‘n strooisel kaas. Die ene nostalgie. My man kies ‘n hamburger-roosterkoek, gemaak met tuisgemaakte patties. Daar is ook allerhande ander wegneem-eetgoed soos pizza en wraps en dan natuurlik die geurigste hoendersosaties waaraan ons tog te lekker smul. Nou ja, ‘n sosatie word tradisioneel mos eintlik net met lamsvleis gemaak, maar vir dié liplekker sagte hoenderhappies in die saggespeseryde kerriesous, nes die wat jy saam met lamsosaties sou proe, verleen ek toestemming om hulle ook sosaties te doop.

Dié event beloof om ‘n groot jaarlikse instelling te word, nie net vir fietsryers nie, maar vir almal wat bietjie die mooi, lekker en gasvryheid van die platteland wil geniet. Die winter is beslis nog met ons, maar as die kombers op ‘n mooi dag lig en die sonnetjie skyn op die groenigheid oral, veral die pragtige groen graanlande in die agterveld (dis nou Eendekuil se kant toe) waaroor jy met ‘n arendsoog vanaf die berg kan kyk of as Sneeubergpiek aan die Sederberg se kant sy sneeukappie op het, is dit die mooiste prentjies wat jou vir ewig bybly. Stop sommer nou daar as julle een van die dae ‘n road trip wil maak om Namakwaland se blommeprag te gaan aanskou. Dit bly die mooiste mooi en ek is ewig trots om dit eintlik nog steeds “huis” te kan noem.

Vir meer info, gaan na www.detol.co.za

Hoendersosaties

Die resep vir lamsosaties het ek opgediep uit ‘n ou resepteboek, So eet ons aan die Kaap deur Helmine Myburgh. Die resep is geplaas net na die storie van die bekende Oom Samie se winkel op Stellenbosch. Heel gepas sou ek sê, want die hoendersosaties het ons ook geniet by die ou tolhuis wat vir jare moes waghou oor die Piekenierskloofpas en wat nou diens doen as ‘n padstal en deli.

Maak sowat 8-10 sosaties
Voorbereiding: 20 min
Marineertyd: minstens 24 uur
Gaarmaak: sowat 10 min

MARINADE

  • olie
  • 2 groot uie, gekap
  • 2-3 knoffelhuisies, fyngerasper
  • 10 ml (2 t) fyngerasperde vars gemmer
  • 10 ml (2 t) heel koljandersade
  • 10 ml (2 t) heel komyn
  • 10 ml (2 t) swartpeperkorrels
  • 10 ml (2 t) heel naeltjies
  • 15 ml (1 e) brejani-masala of kerriepoeier
  • 10 ml (2 t) borrie
  • 45-60 ml (3-4 e) vrugteblatjang of appelkooskonfyt
  • 3 lourierblare
  • 160 ml (3/4 k) appelasyn of bruinasyn (nie spiritus-asyn)
  • 125 ml (1/2 k) natuurlike jogurt

VLEIS

  • 1,5 kg hoenderborsfilette, in redelike blokkies gesny
  • Sout
  1. MARINADE: Verhit die olie en braai die ui, knoffel en gemmer tot die ui sag is. Kneus die heel speserye effens in ‘n vysel met ‘n stamper en voeg by die uiemengsel, braai tot geurig.
  2. Voeg die res van die bestanddele, buiten die jogurt by, bring tot kookpunt, verlaag die hitte en laat dan 10 minute prut tot geurig. Laat goed afkoel en roer die jogurt by.
  3. Plaas die vleisstukke in ‘n groot nie-metaalbak en giet die marinade oor. Meng goed, maak toe en plaas vir minsens 24 uur in die yskas. Meng die volgende dag weer deur. Geur goed met sout.
  4. Ryg die vleisblokkies lossies op houtpenne.
  5. Braai oor matigwarm kole tot gaar, maar nie droog. Sit voor in ‘n roosterkoek of saam met braaivleis en ‘n paar sambals.

Leave a comment