Nou ja toe, nooit eers geweet so ‘n woord of enigsins so ‘n konsep bestaan nie, maar hygge (uitgespreek “hoo-gah”) is ‘n Deense konsep wat alles daaroor gaan om vir jouself ‘n knus, warm omgewing te skep sodat jy ook tydens die kouer maande plesier kan put uit die eenvoudiger dinge van die lewe. Nou, met die winterkoue wat sy kloue so diep inslaan, is dit juis wat ons nodig het. Doen dit nie net deur ‘n wintervriendelike huisomgewing te skep nie, maar veral met dit wat jy te ete en te drink voorsit. Hier’s heerlike warm rooibosdrankies en kyk uit vir ‘n beesstertresep wat ek volgende week sal deel.
HOE SKEP MENS HYGGE IN JOU HUIS:
- Warm beligting: Skep warm, sagte beligting met kerse feettjies en lampe met warm getinte gloeilampe om ‘n knus ambians te skep.
- Gemaklike tekstiele: Omskep jou leefvertrek in ‘n knus, gemaklike omgewing met sagte komberse en kussings saam met oorgooide dekens. Kies materiale soos wol, katoen, en fleece.
- Natuurlike elemente: Inkorporeer natuurlike elemente soos hout, klip, plante en vars blomme om buite binne te nooi en so ‘n kalmerende effek te skep.
- Tikkies persoonlike elemente: Maak mooi met dinge wat spesiaal is vir jou, soos familiefoto’s, reis-soewenirs en handgemaakte goed. Dit gee warmte, diepte en persoonlikheid aan jou huis.
- Knus hoekies: Skep klein hoekies soos leeshoekies met ‘n lekker stoel en goeie beligting, of ‘n lekker sonhoekie met bonkige, knus kussings vir wanneer jy deur tydskrifte wil blaai.

- Laat dit lekker ruik: Daar’s niks wat ‘n plek so lekker knus laat ruik soos die reuk van varsgebakte brood of die kaneelgeur van pannekoek nie. Andersins steek lekkerruik kerse aan of gebruik essensiële olies. Geure soos vanielje, kaneel en laventel werk goed.
- Stilwordtyd: Prakseer intieme knus hoekies en ruim tyd in waar en wanneer jy kan stil word om te lees of brei, dagboek te hou. Hierdie vredige oomblikke vorm die middelpunt van die hygge leefstyl.

- Hygge aktiwiteite: Ruim gesinstyd in vir bordspeletjies of om jou gunteling fliek te kyk. Maak tyd om heilsame maaltye te kook, soos ‘n lekker bredie of sop. Natuurlik is dit dan die tyd om te teug aan heerlike warmmaakdrankies soos warm sjokolade en chia-melktee. Rooibos met sy natuurlike ryk aardse geur is ideaal om warmte en ‘n goedvoel-effek te skep.

Rooibos chai-melktee

Ek gee jul die basiese resep wat die SA Rooibos Council aan my verskaf het, maar dis eintlik doodmaklik om sommer van Carmien se chai-rooibostees te gebruik waar hierdie geure reeds gemeng is: Jy kan kies – daar is Carmien rooibos chai espresso (‘n los teemengsel) waarmee jy ‘n geurige espresso kan brou – teepotte met ‘n siffie in werk ook goed – of andersins kan jy die Carmien FOCUS rooibosteesakkies gebruik wat masala chai en ook borrie bevat, en dan is daar natuurlik ook die Carmien Citrus Chai, ‘n piramiedsakkie wat ‘n tikkie sitrussmake ook by het. Dan is dit nie eers nodig om al die speserye bymekaar te maak nie; brou net die tee en daar gaan jy.
Kyk hier
- 1 liter (4 c) water
- 4 rooibos-teesakkies (sien Carmien se opsies)
- 1 kaneelstokkie
- 4 heel naeltjies
- 2 steranys
- 4 cardamompeule, gekneus
- 1 stukkie vars gemmer, sowat 1 cm, in skyfies gesny
- 500 ml (2 c) melk
- 30 ml (2 tbsp) heuning
- Bring die water tot kookpunt in ‘n kastrol.
- Voeg die rooibossakkies en speserye by.
- Verlaag die hitte en laat prut 10 minute.
- Voeg die melk en heuning by en verhit tot warm (moenie laat kook nie).
- Giet in bekers en geniet.
Rooibos warm sjokolade
Carmien het ‘n klaargemengde Rooibos drinking chocolate bestaande uit rooibos, kakao, egte stukkies donker sjokolade saam met bietjie suiker en Kalahari-sout. Al wat jy hoef by te voeg is kookwater. Lekker maklik.
- 500 ml (2 c) sterkgebroude rooibos, gebruik so 3 sakkies
- 500 ml (2 c) melk
- 125 ml (½ c) donker sjokoladestukkies of opgekapte sjokolade
- 15 ml (1 tbsp) kakao
- 15 ml (1 tbsp) suiker of versoeter
- 5 ml (1 tsp) vanieljegeursel
- Geklopte room en kaneel vir afronding
- Plaas al die bestanddele in ‘n kastrol en verhit terwyl jy aanhoudend roer tot die sjokolade heeltemal gesmelt is.
- Giet in bekers en rond af met geklopte room en ‘n strooisel kaneel indien verkies.
Inligting, resepte en foto’s verskaf deur die SA Rooibos Council.
