Melksnysels; slinger om die spoel, soos die ouer garde dit genoem het, of soos my ma baie keer daarna verwys het: spätzle, om ons opnuut weer aan ons Hollandse afkoms te herinner, proe pure nostalgie. Op ‘n reënerige dag was dit baie keer aandkos. (Ma het nie gehou van pannekoek bak nie, eerstens was dit te tydrowend en tweedens was daar net te veel flops vir haar wiskundige brein om te verwerk). Ek onthou hoe sy die deeg in skoenveterdun repies gesny het, nogal met ‘n Minora-lemmetjie wat sy spesiaal eenkant in die spens gehou het! (was vir seker voor die tyd van Victorinox-messies).
In die middel van die plaaskombuis het ‘n skoongeskropte houttafel gestaan met ‘n brandmerk op die kant wat ‘n primusstofie eens op ‘n tyd daar gelaat het (dink my pa wou koffiewater kook). Die het sy lighands dik besaai met meel uit die nerfaf kolletjiesblik. Die deeg is vinnig aangemaak en daarna dun-dun uitgerol en opgerol in ‘n rolletjie. Dan het die snyery begin. Nadat sy so ‘n klompie gesny het, is hulle goed deur die kombuistafelmeel gevee en vanmekaar losgefrummel om fyn snyseltjies te maak wat dan netjies toegegooi is met ‘n kombuisvadoek. Op die stoof het die melk begin borrel. Die snyseltjies is handjie-vir-handjie in die melk ingeroer en dan stadig gekook tot hulle deurgaar was. Die eiers is vinnig deurgeroer en dan was dit opskeptyd. Elkeen het sy bakkie gekry, dik bestrooi met kaneelsuiker. Ons het dit klein lepeltjies-vir-lepeltjie geëet, bang dat die lekkerte sou opraak. Deesdae brou ek ook baie keer vir ons ‘n rooibos chai espresso (te kry by Carmién) wat ek dan by die melk ingooi om ekstra geurigheid daaraan te verskaf. Die tikkie chai-geure is onmenslik lekker daarby en dit bring soveel goeie herinneringe terug.
Rooibos chai espresso melksnysels Genoeg vir 4 mense Bereiding: 30 min Gaarmaaktyd: 15 min
- 60 ml (1/4 k) Carmién rooibos chai espresso
- 500 ml (2 k) kookwater
- 200 ml koekmeel
- 5 ml (1 t) bakpoeier
- 2,5 ml (1/2 t) sout
- 1,5 liter (6 k) volroommelk
- ekstra koekmeel vir oorstrooi
- 2 eiers
- 60 ml (1/4 k) suiker
- 5 ml (1 t) fyngerasperde suurlemoenskil (opsioneel)
- Kaneelsuiker vir oorsprinkel
- Gebruik ‘n teepot met ‘n siffie en giet die rooibos-espresso in die siffie.
- Giet die kookwater stadig oor en laat staan tot nodig.
- Sif die meel, bakpoeier en sout saam.
- Voeg ‘n bietjie van die melk by om ‘n stywe deeg te vorm. Meng goed en knie liggies tot die deeg effe glad is, nie lank nie.
- Rol die deeg baie dun uit op ‘n meelbestrooide oppervlak.
- Strooi ruimskoots meel oor die deeg.
- Rol die deeg in ‘n rol op, begin aan die lang kant en sny die rol in baie repies.
- Strooi baie meel oor die snysels en vroetel dit liggies met jou vingers los. Hou eenkant tot benodig.
- Giet die melk in ‘n groot kastrol en voeg die tee by die melk in die kastrol. Verhit tot net by kookpunt.
- Sprinkel die snysels in sonder om die meel af te skud.
- Verlaag hitte en roerkook sowat 10 minute.
- Klits die eiers en suiker saam tot lig en vou by die mengsel in.
- Laat net weer opkook.
- Skep in bakkies en sit voor met ‘n strooisel kaneelsuiker.
