Ek hou van spinasie, sommer baie. Nie net maak dit heerlike sop of souttert nie, dis net so lekker toegevou in ‘n degie. Dink spanakopita. Hier wys ek ‘n vinnige en maklike alternatief vir ‘n heerlike happie van spinasie in filodeeg toegerol.
Spinasie maak jou nie net sterk nie, dis ook superkos vir jou brein. Dit bevat onder andere baie yster wat essensieel is vir die bloedselle om suurstof in die liggaam te vervoer.
Net so is Carmien se splinternuwe BRAIN TEA, wat ginkgo biloba bevat, een van die oudste kruiemiddels wat bekend is om breingesondheid aan te help, ook onlangs bekendgestel. ‘n Koppie daarvan saam met ‘n spinasiehappie, gaan jou sommer supergefokus hou.
SPINASIE-FILOHAPPIES
Maak 12 happies
Bereiding: 20 min
Baktyd: 10 min
- 3 stingeluie, gekap
- olie
- 300 g spinasie, goed afgewas en fyngesny
- 3 – 4 huisies knoffel
- 100 g botter, gesmelt
- Handvol gekapte pietersielie
- 2 knoffelhuisies, fyngerasper
- 5 velle filodeeg
- 250 ml (1 k) gerasperde Cheddarkaas
- Sesamsaadjies vir bo-oor sprinkel
- Braai die stingeluie in bietjie verhitte olie tot sag. Voeg die spinasie by en verhit tot verwelk.
- Rasper die ongeskilde bol knoffel fyn bo-oor die pan – rasper sowat 3—4 huisies fyn. Hou eenkant om af te koel.
- Plaas ‘n vel filodeeg op ‘n skoon oppervlak.
- Meng die botter, pietersielie en knoffel. Verf oor die vel filodeeg en plaas ‘n volgende vel deeg bo-op. Herhaal met al die velle deeg (hou bietjie botter oor).
- Skep die spinasiemengsel teen die lang kant van die filodeeg.
- Sprinkel kaas oor die res van die deeg.
- Rol die deeg stewig op, verf weer gesmelte botter oor en sprinkel sesamsaad bo-oor.
- Sny in skyfies van sowat 1,5 cm dik.
- Pak die skyfies in ‘n enkellaag in die bak van die Airfryer.
- Bak by 190°C vir sowat 10 min of tot die filorolletjies mooi goudbruin is. Sit louwarm voor.
