As jy nes ek, mal is oor brood, maar bietjie probeer wegskram van gluten en baie koolhidrate is, is hierdie maaskaas-hawermoutbrood ‘n heerlike alternatief waaraan jy maar sonder skuldgevoel ‘n snytjie of twee kan geniet. Boonop bevat dit lekker baie proteïene en vesel en is ook supermaklik en eenvoudig om te maak – net meng en bak, geen knieëry nie. Ek doen sommer ook die bakwerk in die lugbraaier.
Maaskaas-hawermoutbrood
Alhoewel hawermout nou nie juis getel word as ‘n lae koolhidraat bestanddeel nie (1 koppie bevat 40 g koolhidrate), is dit nie die hoofbestanddeel in hierdie brood nie. Die maaskaas saam met die sade en eiers asook die hawermout wat self baie proteïene bevat (16,9 g per 100 g) maak daarvan eerder ‘n proteïenryke brood met ook baie vesel. Hawermout opsigself is glutenvry, maar omdat dit meestal in meulens verwerk word waar koring gemaal word, kan dit nie as heeltemal glutenvry beskou word nie – As jy dus gluten intolerant is, soek vir glutenvrye hawermout. Die olyfolie en sade verskaf goeie onversadigde vette. Die broodjie het ek in die airfryer getoets met een houer gladde en een houer korrelmaaskaas, maar ek verkies dat dit net gladde maaskaas is wat heeltemal inmeng by die res van die bestanddele.
Maak 1 medium broodjie
Bereiding: 10 min
Baktyd: 35 min
500 ml (2 k) hawermout
15 ml (1 e) bakpoeier
5 ml (1 t) sout
160 ml (2/3 k) gemengde sade (vlassaad, lynsaad, sesamsaad, pampoensaad en sonneblomsaad)
3-4 eiers 30 ml
(2 e) ekstra-suiwer olyfolie
500 ml (2 k) gladde maaskaas
Sade en hawermout vir oorsprinkel
Voorverhit die lugbraaier tot 190°C. Plaas ‘n vel lugbraaier-papier op die plaat van die lugbraaier.
- Meng die hawermout, bakpoeier en sout in ‘n groot mengbak. Voeg die sade by en meng weer goed.
- Klits die eiers in ‘n ander bak, voeg die olyfolie en maaskaas by en klits tot goed gemeng.
- Voeg die nat bestanddele by die droë bestanddele en meng liggies tot deeglik gemeng. Moenie oormeng nie.
- Plaas op die papier en vorm ‘n ovaalbroodjie, die grootte wat in ‘n lugbraaier sal pas.
- Sprinkel hawermout en sade bo-oor.
- Plaas die plaat van die lugbraaier in die laaitjie en sit die broodjie bo-op. Bak 30 minute lank tot gaar en ‘n toetspen skoon uit die broodjie kom, bedek met tinfoelie halfpad deur die baktyd indien die broodjie te donker bak.
- Verwyder die broodjie uit die lugbraaier, draai om met die onderkant na bo en bak vir ‘n verdere 5 minute of tot die onderkant drooggebak is.
- Geniet louwarm saam met botter of avokado. Net so lekker om te rooster.
