Familiekuiers

‘n Gesellige kuier saam met jou naastes bly maar altyd ‘n spesiale ervaring, veral as ‘n mens die voorreg het om dit nog met jou ma te kan deel. Ons het die allerheerlikste Sondagmiddag-eetervaring by die oulike eetplekkie, die Kleinvlei Bistro & Wine Stoep in Bokkomlaan, Velddrif, geniet.

Dit het heel toevallig so uitgewerk dat ek en my sibbes deesdae heelwat tyd inruim om ‘n bietjie meer saam te kuier. Meestal kan dit nou nie ons al vyf stuks wees nie, maar die wat kan, val in. Ek en Lodewyk moes laasnaweek uitmis op ‘n lekker kuier by my kleinsus op hul Karooplaas buite Graaff-Reinet, maar die besonderse eetervaring saam met my ma, tweelingsus en jongste broer aan Bokkomlaan in Velddrif se nuutste eetfonds, die Kleinvlei Bistro & Wine Stoep, het meer as genoeg opgemaak daarvoor.

Kleinvlei Bistro & Wine Stoep was deel van die nuutste In die Sop-oormaak-TV-program op KykNet waar Bertus Basson en Misi Overturf restaurante help regruk met ‘n nuwe spyskaart en dekor-opknap. En wat ‘n gem is hierdie klein familiebesigheid in vissershuis nr. 11 daar teen die waters van die Bergrivier nou nie! Velddrif is effe toegemis, maar ons word gul ontvang met ‘n tafel knus gedek langs die kaggelvuur naas die besonderse voëllewe-muurskildery in die hoek.

Die spyskaart klein en gefokus met peuselgoed en deelborde; die geregte eie aan die omgewing maar keurig vernuwe met heerlike vars geure, dink ‘n bietjie Yotam Ottolenghi-styl. Die wynlys, ‘n uitsoek-seleksie wyne meestal vanuit die omgewing wat ook ‘n goeie verskeidenheid Piekenierskloof-wyne insluit!

Vir die afskop kies ons vars oesters, focaccia-brood met plaaslike Kokerboom-kase en ‘n smullekker snoekkaaskoek. Daarna besluit ons nege stuks om elkeen ‘n hoofdis te kies en dan verskeie ander disse vir die tafel. Ons keuses val op geroosterde kruisskyf met chermoula; lamsribbetjie met kapokbos, murgpampoentjies met dukkah oorgesprinkel; mossels in ‘n Kaaps-Maleise klapperroomsous; harders ‘en papilote” en ceviche met labneh, salsa en avokado. Vir die tafel val ons keuse op gerookte snoek-viskoekies met lemoengeglasuurde patats; broccoli op labneh met gemmer en sojasous, aartappelskyfies met aioli asook heerbone met wortels, spinasie en tamatie. Ons smul en verlekker ons aan al die geure en teksture wat so goed praat met mekaar.

‘n Plekkie waarheen ‘n mens weer en weer kan terugkom om al die lekker en mooi te geniet!

Ter afsluiting verkas ons na die Columbine-koffie roastery langsaan vir ‘n wegneem-koffie en snytjie koek!

Ek gaan later in meer detail vertel oor Kleinvlei, maar vir eers is hier ‘n lusmaker-resep vir die geroosterde kruisskyf met chermoula.

GEROOSTERDE KRUISSKYF MET CHERMOULA
Die geurige vars kruiesous is heerlik oor gebraaide steak. Die mans was veral gek daarna.

1 kruisskyf per persoon
CHERMOULA
250 ml (1 k) vars pietersielie
250 ml (1 k) vars koljanderblare
4 knoffelhuisies, skoongemaak
5 ml (1 t) fyn koljander
5 ml (1 t) droë rooipepervlokkies
2,5 ml (1/2 t) paprika
2,5 ml (1/2 t) fyn gemmer
Kosjier-sout na smaak
Sap en fyngerasperde skil van 1 suurlemoen
Ekstra suiwer olyfolie

  1. Braai die kruisskyf tot die gaarheidsgraad van jou keuse. Sny op in dun skyfies en pak op ‘n bord.
  2. CHERMOULA: Plaas al die bestanddele vir die sous in ‘n voedselverwerker en kap goed fyn. Voeg genoegsaam olyfolie by om ‘n effe loperige sousie te vorm.
  3. Streep die chermoula ruimskoots oor die gesnyde skywe kruisskyf en sit voor.

Leave a comment