Weskus-winters

Wintertyd is die lekkerte tyd teen die Weskus met die mooiste sonsondergange, windstil meestal sonnige dae met groenigheid oral en die flaminke wat in bondels staan op die eilande. Boonop loop die snoek en tyd om die Weskusspesialiteit op die kole te gooi.

Toe ons nog in die Kaap gebly het, het ons meestal wintertyd binneland toe verkas, want die Kaap was net te koud en nat en triestig. Maar nou dat ons teen die Weskus woon, is dit eintlik nie meer nodig nie, want die dae is mooi en sonnig met reën wat meestal maar aan die skaars kant is. Die mis wat gereeld oorkom van die see se kant, sorg dat die veld tog te mooi groen skyn en ons vetplanttuintjie met plante wat hier aard, amper uitspattig groei en hul pragtige winterskleed met spatsels oranjerooi, ligte pers, bietjie geel, effe gedemp maar tog te mooi vertoon, in afwagting vir die lente-kleurspel wat binnekort in volle blom die omgewing poskaartmooi gaan tooi.

Ons manier van doen pas dan ook bietjie aan met die lagoon wat ons vir ‘n wyle verruil vir luilekker rit deur die Weskuspark of sommer net om Jacobsbaai se egte Weskusmooi te gaan geniet. Dis dan wat ons namiddae die Jimney pak met ‘n pieknieksak en een of meer voëlskuiling aandoen. Vredig en verkwikkend, mens verbeel jou amper jy het nie daardie kilometers en kilometers se ry nodig om net bietjie tot verhaal te kom in die een of ander wiltuin nie, alhoewel daai bly maar ons nommer een.

Vriend Abraham, wat koning is van visbraai, braai snoek oor die kole wyl ons rugby kyk Saterdagaand en tydens ‘n vinnige Sondagfamiliekuier op die agterste stoep maak ek egte winterkos saam met die braai: koolslaai-tartaar en patat-en-botterskorsie met ‘n Oosterse smakie (die resepte vir laasgenoemde het ek onlangs gedoen vir ‘n storie in Huisgenoot oor bykosse by die braai. (sien die uitgawe van 27 Junie om die resepte daar te kry).

Hier plaas ek die resep vir snoek soos ons dit meestal doen. Die gedagte van die neute bo-oor strooi, het ek by die kosfoendi, Christine Capendale, wat voorheen ook op Langebaan woonagtig was, gekry. Jy kan die vis ook oor die kole gaarmaak en dan net heel laaste die neute oorsprinkel net voor jy dit voorsit. Ek gee ook ‘n resep vir engelvis (ons kry dit nogals hier teen die Weskus te koop) met ‘n heerlike braaisous wat ek nog by Isabella Niehaus gekry het. Geniet die Weskus!

SNOEK MET PEKANNEURKORS

Ek het grootgeword met snoek oor die kole, trouens dit was al vis wat ons ooit gebraai het, en my pa was ‘n meester daarvan. As die snoeksmous omgekom het op die plaas met ingesoute snoek, het hy altyd ‘n paar mooies eenkant gehou vir braai en niemand moes peuter as hy doenig was voor die vuur nie. Woolies se snoek wat so liggies gerook is, is ook vir my wonderkos, net so is ek ook mos gek na neute. Kombineer die twee en jy het kos vir ‘n koningstafel.

Genoeg vir 4 mense
Voorbereiding: 10 min
Gaarmaak: 20 min

1 medium snoek, gevlek (kan effe gerook wees indien verkies)
Sout en peper
5 ml (1 t ) mosterdpoeier of Chinese 5-speserypoeier of visspeserye
80-125 ml (80-1/2 k) botter, gesmelt
4 knoffelhuisies, gekneus
Sap en skil van 2 suurlemoene
160 ml (2/3 k) gekapte pekanneute
125 ml (1/2 k) gekapte koljander of pietersielie
VOORSIT
Vinnige perske-blatjang (sien resep)

1 Geur die snoek aan die vleiskant met sout en peper en speserye.
2 Meng die botter, knoffel en suurlemoensap en –skil.
3 Plaas die vis met die velkant na onder op ‘n gesmeerde bakplaat.
4 Smeer die vis goed met van die bottermengsel en oondbraai 10 minute by 190°C.
5 Smeer die res van die bottermengsel oor, sprinkel helfte van die neute en kruie oor en bak ‘n verdere 10 minute of tot die vis net gaar is en maklik vlok met ‘n vurk.
6 Sprinkel die res van die kruie en neute oor en sit voor met die perske-blatjang.

VINNIGE BLATJANG

Soteer 1 gekapte ui en 2 gekapte knoffelhuisies in olie tot sag, sprinkel 7 ml (11/2 t) suiker oor en braai tot gekarameliseer. Roer 15 ml (1 e) druiwe-asyn en 4 gesnyde nektariens of pruime by en verhit tot die vrugte effe sag, maar nie stukkend gekook is nie.

ENGELVIS MET KNOFFEL-SOJASOUS

Genoeg vir 4 mense
Bereiding: 10 min
Gaarmaak: 10—12 min

KNOFFEL-SOJA-MARINADE
2 heel knoffelbolle
250 ml (1 k) suurlemoensap
250 ml (1 k) sojasous
250 ml (1 k) olyfolie
VIS
1—2 engelvisse of ‘n geelstert
Paar skeppe natuurlike jogurt

1 Rasper die knoffelbolle aan die growwe kant van die rasper sodat die skil agterbly. Voeg die suurlemoensap, sojasous en olyfolie by.
2 Marineer die vis 1 uur lank daarin.
3 Verwyder die vis uit die marinade en hou die marinade eenkant.
4 Plaas die vis in ‘n toeklaprooster en braak 10—12 minute met die vel na onder tot die vleis net-net wil verkleur. Verf dikwels met die marinade. Draai om en braai die vleiskant 2—3 sekondes of tot net bruin.
5 Kook intussen die oorskietmarinade af tot geurig en roer ‘n paar skeppe natuurlike jogurt deur en sit saam met die vis voor.

Leave a comment