Avokado is nie net lekker op roosterbrood, in slaai of op pizza nie, dis selfs ideaal om te gebruik in soetgoed – ek probeer dit in sjokoladekoek en in mousse.
Ek kan net nie genoeg kry van avokado’s nie – heerlik op ‘n roosterbrood; vir my die perfekte afronding vir van slaai tot pizza en Mexikaanse disse met salsas en guacamole wat net so heerlik is saam met skyfies geroosterde tortillas, mielietjippies of selfs ryskoekies. Ander het lankal reeds, maar nou het ook ontdek hoe lekker dit in soetgoed is. Dit het ‘n neutrale smaak, maar verleen ‘n ryk romerigheid, so mens kan maar bietjie afkap op die botter en so.
Ek het ‘n resep of wat van die South African Avocado Growers’ Association nadergeskraap en sjokolademousse tot sjokoladekoek kry nou sy skoot avokado in. Gaan kyk op SAAGA se webtuiste vir meer inligting oor die goedheid van avokado asook die verskillende soorte avokado.
In ‘n neutedop kan ek noem dat avokado’s gesonde vette bevat wat goed is vir hartgesondeheid en bloeddruk en ook cholesterolvry is een ook lekker baie vesel in het. So ideaal om in te sluit as jy lekker en gesonder wil eet.
Wenk: Mens kry groenskil sowel as donkerskil avokado’s. Groenskil avokado’s se skil bly groen as dit ryp is, maar donkerskil avokado’s se skil verkleur na ‘n donkerpers.
SJOKOLADE AVO-KOEK

Hierdie is my geliefde sjokoladekoek, wat nou net lekkerder word met die byvoeging van avokado – agv die romerigheid wat die avokado verleen, word die oorspronklike hoeveelheid olie gehalveer. Die lekkerste is dat jy nou die versiersel ook met avokado kan maak! En boonop kry jy al die ekstra goedheid wat avokado’s verleen, ook sommer met ‘n happie koek in! Kan net nie lekkerder nie.
Genoeg vir 8 mense (enkellaagkoek)
Bereiding: 25 minute
Gaarmaak: 50 minute
375 ml (1½ k) koekmeel
45 ml (3 e) kakao
5 ml (1 t) bakpoeier
5 ml (1 t) koeksoda
Knippie sout
250 ml (1 k) bruinsuiker (ek gebruik selfs minder, sowat 180 ml)
45 ml (3 e) olie (ek verkies canola)
1 ryp avokado, fyngedruk
250 ml (1 k) louwarm water (ek gebruik graag van Carmién se rooibostee hier om ekstra goedheid en ander geure in te bring: dink very berry of selfs Turkish Delight)
15 ml (1 e) appelasyn
7.5 ml (½ e) vanieljegeursel
VERSIERSEL
2 avokado’s, fyngedruk
60 ml (¼ k) kakao
80 ml (⅓ k) esdoringgegeurde gouestroop
5 ml (1 t) vanieljegeursel
knippie sout
Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit ‘n 20 cm koekpan en voer die bodem uit met bakpapier.
1 Sif die droë bestanddele saam en voeg ook die suiker by. Meng.
2 Klits die olie, fyngedrukte avokado en vanieljegeursel goed saam met ‘n staafmenger tot geemulsifiseer. Roer by die droëbestanddele tot net gemeng. Skep in die voorbereide pan.
3 Bak 25 minute, verlaag temperatuur na 160°C en bak vir ‘n verdere 25 minute of tot ‘n toetspen skoon uitkom. Koel af in die pan.
4 VERSIERSEL Klits al die bestanddele met ‘n staafmenger tot goed gemeng en glad. Keer die koek uit en smeer die versiersel bo-oor. Stuif kakao oor indien verkies.
Wenk: Vir ‘n dubbellaagkoek (soos op die foto): verdubbel die resep en bak in 2 koekpanne, smeer ‘n derde van die versiersel (ook dubbel die resep) oor die onderste koeklaag, plaas die ander koeklaag bo-op en smeer die res van die versiersel bo-oor.
AVOCADO SJOKOLADE MOUSSE
Genoeg vir 4 mense
Voorbereiding: 10 minute
Gaarmaak: 15 min
250 g goeie kwaliteit donker sjokolade, gekap
2 groot ryp avokado’s, gehalveer en ontpit
120 ml melk (of minder)
1-2 eetlepes heuning (opsioneel)
GARNERING
Vars bessies
Gerasperde donker sjokolade
1 Plaas die sjokolade in ‘n vuurvaste bakkie en mikorogolf op medium vir sowat 30 sekondes, roer elke 30 sekondes tot gesmelt.
2 Skep die avokadovleis in ‘n voedselverwerker, voeg driekwart van die melk by en verwerk tot glad.
3 Voeg die sjokolade en heuning (indien verkies) by en verwerk tot goed gemeng.
4 Skraap die kante af en voeg meer melk by indien nodig, verwerk tot verlangde konsistensie. (dit sal verdik soos dit staan).
5 Skep in bakkies en garneer met vars bessies en sjokolade.
Wenk: Alhoewel die mousse goed sal bly vir 3-4 dae, is dit die lekkerste om dit varsgemaak te geniet.
