Goedheid vir jou gut – rooibos en jogurt

Rooibos se ster skitter net al hoe helderder – nie net wil almal deesdae ‘n tikkie rooibos aan hul bas dra nie, maar dis ook ‘n bewese feit dat dit goed is vir jou gut, ‘n gewilde onderwerp wat almal deesdae aan die praat het. In ‘n onlangse artikel op Netwerk24: Dermgesondheid: rooibos en jogurt, skryf Denique Smith dat onlangse studies aangetoon het dat veral rooibos en jogurt verskeie aspekte van dermgesondheid en vertering kan verbeter, terwyl dit inflammasie en ongemak verlig. Carmién, bekend vir hul innoverende idees, het ook nou ‘n Gut-tee op die mark, wat prebiotics bevat wat hitte bestand is.

Goeie dermgesondheid is deesdae ‘n gewilde onderwerp en heelwat inligting daaroor het onlangs die lig gesien. Ook tereg so, want diegene wat dieetaanpassings gedoen het om hul dermgesondheid te bevorder, kan getuig van merkwaardige veranderinge in hul gesondheid.

Volgens Dr Hanel Sadi-Van Gijsen, ‘n senior navorser by die Sentrum vir Kardiometaboliese Navorsing in Afrika in die afdeling Mediese fisiologie aan die Universiteit van Stellenbosch is rooibos tradisioneel gebruik om ‘n verskeidenheid maag- en dermkwale te behandel, maar dit was tot onlangs nooit wetenskaplik bewys nie. Navorsing by verskeie universiteite, ook internasionaal asook wat deur die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging gedoen is, is bevind dat rooibos ‘n verskeidenheid aksies in die derm uitoefen wat nie net vertering aanhelp nie, maar ook algehele gesondheid verbeter en met siektebestuur help.

“’n Gesonde dermikrobioom (‘n versamelnaam vir alle mikro-organismes wat in ons kolon woon) help ons om voedingstowwe doeltreffend uit ons kos te onttrek, dit help met immuniteit, ondersteun dermversperringsfunskie, verminder dermontsteking, verbeter metaboliese funksie en beskerm selfs breingesondheid.”

Rooibos wat ryk is aan polifenol, het ‘n bewese prebiotiese effek wat die groei van voordelige dermbakterieë ondersteun, terwyl die dermbalans herstel en behou word. Polifenol in rooibos het die dubbele voordeel deurdat dit die groei van skakelike dermbakterieë inhibeer, maar ook die groei van voordelige dermbakterieë stimuleer. Dit kan ook inflammasie verminder en dus die risiko van siekte verlaag. Daarby het rooibos ook die voordeel dat dit die opname van glukose deur die ingewande belemmer en sodoende help met bloedglukosebeheer.

Nog ‘n produk waarvoor ek baie lief is en wat ook help met gutgesondheid, is jogurt. Met die maak van jogurt word die laktose in die melk tydens fermentasie in melksuur afgebreek. Dit verminder die laktose-inhoud van die jogurt en beteken dat diegene wat selfs laktose intolerant is, met veiligheid jogurt kan inneem.

Die gereelde inname van jogurt kan ‘n verskil maak in die verhoging van mikrobiese diversiteit en die vermindering van chroniese inflammasie wat ‘n verreikende uitwerking op die liggaam in die algemeen asook op jou geestelike welstand kan hê. Studies toon ook aan dat die gereelde inname van jogurt die risiko van vetsug, tipe 2 diabetes, hipertensie en kardiovaskulêre siektes kan verlaag.

Carmién, wat bekend is vir hul innoverende idees en aan die voorpunt is met die uitbring van nuwe tees, het natuurlik ook onlangs hul eie Gut-tee bekend gestel. Dit het ‘n groentee-basis en bevat vinkel, spearmint, sigoreiwortel, inulin asook probiotics wat hitte bestand is. So buiten vir die gutgoedheid wat rooibos reeds verskaf bevat dit nog ekstra bestanddele wat die gut ‘n verdere hupstoot gee.

In my huis word beide rooibos en jogurt weekliks sommer in groot maat verbruik. Ek’s nooit sonder ‘n pot rooibos wat êrens staan en trek nie, en soos ek kosmaak, kry van sop tot bredies of maalvleis, sommer so tussendeur ‘n goeie skoot rooigoud in.

As ek sop maak, wat gereeld beide winter en somertyd op tafel verskyn, maak ek deesdae die aftreksel met ‘n kombinasie van Carmién se heerlike verskeidenheid rooibostees. Vir ‘n speseryerige, soeterige sop, bv soos botterskorsiesop sal ek rooi rooibos verkies, dink Focus met sy heerlike kombinasie speserye, maar so iets soos bv spinasiesop, vra ‘n tee met ‘n groen rooibosbasis soos die Revive, ‘n tee uit die wellnessreeks en met brandrissie en gemmer by die groentee ingemeng. Ons geniet natuurlik boegoe en Carmién se Rescue, ook uit die wellnessreeks se boegoesmaak is nie te oordonderend nie. So ‘n sakkie of wat saam met die Revive is lekker hierby. Die nuwe Gut-tee, veral met sy vinkel- en effense spearmintsmakie, is natuurlik net so ‘n wenner om hier te gebruik.

SPINASIE-JOGURTSOP

Ek is mal oor spinasie en in hierdie sop is alles waarvan ek hou – tot bloukaas, maar jy kan ook cheddarkaas gebruik.

GENOEG VIR 4 MENSE
Bereiding: 20 min.
Gaarmaak: 30 min.

SOP
2 uie, gesny
2 preie (andersins ui), gesny
olyfolie
3 knoffelhuisies, fyngedruk
800 g babaspinasie of Swiss chard, die wit steelgedeelte uitgesny en dan fyngesny
1 liter Carmién rooibostee (gemaak met ‘n mengsel van 3 Revive en 3 Rescue of andersins 6 Gut)
100 g sterk verouderde Cheddarkaas, gerasper of andersins bloukaas
500 ml (2 k) romerige natuurlike jogurt
Bietjie basilie-olie (opsioneel)
Paar baba-spinasieblare vir garnering

1 Braai die ui en prei in ’n bietjie verhitte olie in ’n kastrol tot net sag. Voeg die knoffel by en roerbraai effens.
2 Plaas die spinasie in die pot en giet die teeaftreksel in, bedek en verhit sowat 15 min. of totdat die spinasie verwelk is. Laat effens afkoel.
3 Verwerk in ’n voedselverwerker tot glad.
4 Giet terug in die kastrol, voeg die kaas en jogurt by en verhit tot die kaas net gesmelt is.
5 Giet in bakkies en streep bietjie basilie-olie oor indien verkies. Rond af met ‘n paar baba-spinasieblare.

Leave a comment