Al meer mans kies rooibos

Al meer mans verkies om deesdae aan ‘n koppie rooibos te teug as ontspanning na ‘n dag se harde werk; dit as opstaandrankie te geniet en ook om dit as hidreerder tydens oefening te drink. Saam met ‘n lekker beskuitjie kan dit mos net heerlik wees. Ek span Carmién se rooibostees sommer in om die beskuit ook mee te bak.

In ‘n onlangse nasionale opname onder Suid-Afrikaanse mans (gedoen in opdrag van die Suid-Afrikaanse Rooibosteeraad), is ‘n paar fasinerende gewoontes, oa hul drankie-voorkeure, uitgewys.

Alhoewel 46% mans steeds koffie met opstaantyd geniet, verkies 30% deesdae rooibos. Interressant is rooibos bo-aan die lys as dit kom by ‘n ontspanningsdrankie na werk waar 32% mans rooibos verkies; dan bier (19%) met 12% wat ‘n koppie koffie verkies.

Om werksspanning te help verlig, drink meeste mans steeds water (96%); 16% koffie en 11% rooibos. Tydens oefening verkies 67% steeds water, met rooibos die tweede gewildste en ander kruiedrankies derde. Sportdrankies en elektrolietdrankies was onderskeidelik vierde en vyfde.

Tydens sosiale byeenkomste is bier en rooibos gelyk as die voorkeurdrankie teen 47% met swart tee en siders ‘n kortkop agter. Smaak was die belangrikste oorweging as dit by die keuse van ’n drankie kom, met die geleentheid (47%) en gesondheidsvoordele (39%) ook belangrik geag.

Rooibos is veral ‘n sterk aanspraakmaker as dit by warm drankies kom waar 45% mans koffie verkies teenoor 42% wat rooibos kies. Slegs 5% kies swart tee en sjokoladedrankies. Interressant het slegs 5% gevoel dat rooibostee oorwegend ‘n vrouedrankie is.

Vir 60% van die mans was gesondheidsvoordele belangrik. Rooibos bied ‘n wye verskeidenheid gesondheidsvoordele: sy unieke kombinasie van antioksidante help om inflammasie te bekamp en spanning te verlig, dit ondersteun ook hartgesondheid deurdat dit help om bloeddruk en cholesterolvlakke te verbeter, dit help ook met spierherstelling en verminder spierspasmas, bevorder slaapkwaliteit, help om diabetes te bekamp en help ook met gewigsbestuur en verbeter spermkonsentrasie en funksionering.

Samevattend het die opname getoon dat rooibos ‘n veelsydige en gesonde drankkeuse onder Suid-Afrikaanse mans is.

NEUTE-VOLGRAANBESKUIT

In my huis word daar graag ‘n beskuitjie of twee vir opstaantyd genuttig, maar ook saans net voor slaaptyd is dit net so lekker saam met ‘n koppie rooibos. My man is deesdae die slaaptyd-rooibosteemaker. Hy gebruik ‘n verskeidenheid van die Carmién-tees wat ek gemaklik naby die ketel in ‘n opslaandeksel-broodblik bêre.

Carmién se Calm, ‘n rooi rooibos gemeng met ‘n fraksie CBD (THC vry) by met sy subtiele geure van grenadella en suurlemoenbalsem is baie keer ‘n goeie keuse om te ontspan. Ek het hierdie tee ook ingespan om ‘n heerlike neuterige beskuit te maak wat mens binne ‘n ommesientjie aanmekaar slaan en wat nie eens eiers of melk inkry nie.

Maak 60—80 beskuitjies
Bereiding 20 min
Baktyd: 50—60 min
Uitdroog: oornag

375 ml (1½ k) witbroodmeel
10 ml (2 t) bakpoeier
5 ml (1 t) koeksoda
5 ml (1 t) sout
500 ml (2 k) volgraanmeel
250 ml (1 k) hawermout
160 ml (⅔ k) suiker
125 ml (½ k) sonneblomsaad
125 ml (½ k) pampoensade
250 ml (1 k) bosbessies
250 ml (1 k) gemengde neute, gekap
250 g klapperolie, gesmelt
375 ml (1½ k) louwarm Carmién Calm rooibos tea with CBD, passionflower & lemon balm, gemaak met 6 sakkies
15 ml (1 e) ongefilterde appelasyn

Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit ‘n oondpan met kossproei.
1 Sif die meel, bakpoeier, koeksoda en sout saam in ‘n groot bak. Voeg die res van die droë bestanddele by en meng goed.
2 Meng die klapperolie, rooibostee en asyn saam.
3 Voeg by die droë bestanddele en meng goed. Skep in die voorbereide pan en versprei eweredig in die pan.
4 Bak 50—60 minutee of totdat ‘n toetspen skoon uit die middel van die beskuit kom.
5 Laat effens afkoel in die pan en keer uit op ‘n draadrak. Laat heeltemal afkoel en sny dan in klein blokkies.
6 Pak in ‘n enkellaag op groot bakplate en droog uit by 90°C tot heeltemal droog. Bêre in ‘n lugdigte houer.
7 Sit voor saam met jou gunsteling koppie Carmién rooibostee.

Leave a comment