Eetgenot by Shark Bay

Ons het onlangs ‘n eerste gevier by die mooi stylvolle Shark Bay boetiekhotel in Langebaan – ‘n paar vroue het ontdek hoe kos saam met goeie wyn en ‘n passende tee ,‘n geurontploffing in jou mond kan veroorsaak. Iets wat jy net weer en weer wil proe en ervaar. Vir elke happie van Sjef Dee se kos was daar ‘n passende Piekenierskloofwyn en komplimenterende Carmién-rooibostee om daarby te geniet.

Vandat die Shark Bay-boetiekhotel 4 jare terug sy deure oopgemaak het hier in Langebaan, geval die plek my. Dis waar ek gaan vir ‘n lekker spabehandeling, ontbyt nuttig as ek ‘n kuier-vergadering hou, koek-en-tee saam met my ma en graag aansit vir aandete saam met my familie. Die ligging is voortrefflik – in die geil bossieveld teen die rand voor op die water met ‘n onbelemmerde uitsig tot by Kraalbaai se boothuise en Churchhaven. Die dekor mooi en onopgesmuk Weskus. Stylvol.

Vir lank dink ons al daaraan om ‘n kos-tee-en-wyn geleentheid met Carmién Tea en Piekenierskloofwyne saam met sjef Dee van Shark Bay se kos aan te bied. Einde Mei het ‘n klompie vroue aangesit vir so ‘n unieke geleentheid wat vir meeste ‘n eerste was.

Tans is rooibostee die gonswoord van die oomblik, want nie net geniet al hoe meer ‘n koppie rooigoud op ‘n gereelde basis nie, maar is dit ook die nuutste kleur op die loopplank waar almal graag deesdae ‘n tikkie rooibos op hul klere vertoon. Vir Carmién is dit goeie nuus, want carmine beteken immers ook rooi.

Sjef Dee se ete het bestaan uit ‘n salmproehappie op croutons as lusmaker; daarna ‘n heerlike geurige nie te sterk Thaise hoenderkerrie met klewerige bruintjies ter afsluiting.

Ten einde te bepaal wat pas by wat het ons eerste die kos en wyn “gepair” en daarna die tee met die wyn “gematch”. Wanneer mens rooibostee saam met wyn wil proe, is dit baie belangrik om toe te sien dat die geur van die tee nie die wyn oordonder nie. Die tee moet ook nie te sterk wees nie – 2 sakkies pleks van 3 soos gewoonlik werk perfek. Maak ook seker dat die tee goed afgekoel is tot by 60°C en drink die tee sonder enige melk en suiker. As dit by die eetslag self kom, maak so: ruik en proe eers die tee, dan die wyn, dan neem jy ‘n happie van die kos. Drink weer die tee om die palet skoon te maak voor jy die volgende happie proe.

So hoe het ons te werk gegaan om te kies:

  • Seekos en enigeiets pienk, soos bv salm (en ook soesji) werk goed saam met die 2023 Piekenierskloof Grenache Rosé met sy bessie- en subtiele roosgeure. Daarby het ons ‘n LMC Vanilla & Rose rooibostee gekies wat die subtiele roosgeure in die wyn baie mooi opgetel het en ook die kompleksiteit van die wyn na vore gebring het. Aanvanklik het ek gedink dat Carmién se Turkish Delight perfek sal werk by die rosé, maar die roosgeure was net te sterk.
  • Saam met die romerige Thaise kerrie pas Piekenierskloof se Grenache Blanc wat die ene subtiele vrugtige geure soos peer en sitrus het saam met sagte blom-en- speserynote, baie goed. Die romerigheid in die kos bring die vrugtigheid na vore. As tee het ons besluit op Carmién se Orange Chamomile. Hierdie is ‘n groen rooibostee wat die grasserigeheid in die grenache blanc uitlig.
  • Volgens die vroue was die laaste gang, die soet, effe klewerige bruintjie saam met Piekenierskloof se Pinotage, die groot verrassing van die dag. Die Pinotage met sy donkerrooi kleur, wat tipies van die variteit is, met kassis, rooi vrugte en sjokolade op die neus, ferm tanniene en volronde tekstuur, pas perfek by die ryk sjokolade bruintjie. Hierby het ons die Very Berry van Carmién gekies wat veral die bessiegeure in die wyn na vore gebring het en die sjokolade in die bruintjie goed gekomplimenteer het. Aanvanklik het ek gedink dat Carmién se Floral Berry die ideale tee by hierdie kombinasie sal wees. Ja, afsonderlik werk dit goed by die bruintjie, maar saam met die wyn het die floral berry te veel suur navore gebring. Wys jou net hoe belangrik dit is om te proe en te eksperimenteer.

Shark Bay beplan om soortgelyke kos-wyn-en-tee-ervanrings voortaan gereeld aan te bied waarvoor gaste dan kan bespreek. Vir koek-en-tee wag daar ook interressante soetighede saam met ‘n passende Carmién-rooibostee wat binnekort hul verskyning sal maak.  Al wat ek kan sê: Lekker, lekker, lekker. Ekself kan nie wag om dit te probeer nie!  

Leave a comment