Londen

Op ‘n blitsbesoek aan Londen verken ons die bekende strate en besienswaardighede per bus, te voet en met die moltrein, geniet Oosterse kosse en dim sum  in Chinatown en bubble tea by ‘n stalletjie buite Harrods, eet gesonder kitskos by Leon en die Tesco-expresswinkel met sy redelike verskeidenheid, raak ons laataand stopplek vir proviand waarmee ons sonder moeite ‘n voedsame eetdingetjie aanmekaar kon slaan.

Met vorige besoeke aan Londen het ons nooit veel tyd gehad om die bekende besienswaardighede te verken nie. Met die dat die boot ons in SouthHampton aflaai en ons van Heathbrow moet terugvlieg huis toe, is dit dus die ideale geleentheid om daardie plekke op ons bucket list afgemerk te kry.

By die besige Waterloo-stasie aangekom, besluit ons om weer eerder  te uber na ons hotel. Dié is lekker sentraal geleë na aan alle besienswaardighede met verskeie busse wat net onder die hotel stop en ook verskeie undergrounds in die omgewing om jou blitsvinnig te neem tot waar jy wil wees. Na ons heerlike bederfverblyf op die boot en ook in Winchester, kan ek dié eerder as ‘n opgezoozde koshuiskamer beskryf, maar toeganklikheid is hier wat eerder tel. Ons gaan immers nie veel tyd in die hotel spandeer nie.

Ons koop vir ons ‘n tweedag-kaartjie op die Tootbus waarmee ons via die groen, geel en blou roetes nie net die bekende besienswaardighede omry nie, maar ook ‘n rit op die Teems-rivier kry. Dit word een van ons groot hoogtepunte. By die ingang koop ons vir ons takeaways by een van die vele fish ‘n chips-stalletjies. Heel lekker, of is ons honger en koud. Vanaf die boot op die rivier kry mens baie van die besienswaardighede soos die Tower Bridge, Tower of Londen, Big Ben, Londens Eye en The Shard pragtig te sien. Met die dat ons ‘n baie “witty” gids het, leer ons heelwat.

In sentraal-Londen is daar nie ‘n tekort aan straatkos nie, veral Oosterse kosse is volop. Ek’s baie opgewonde toe ek ‘n LEON raakloop in ‘n klein winkelsentrum nie ver van die hotel nie. Dié kitskosgroep fokus daarop om kitskos te berei wat nie net lekker is nie, maar ook gesonder en beskostigbaar en hul dekor is ook heel “funky”. Vaag in my agterkop onthou ek dat ek selfs ‘n boek van hulle tuis het – Leon, fast vegan.

Dit val my op hoe baie plekke heeltemal “selfbestel, -help, en -betaal” is. Van Tesco’s tot ook hier by Leon en ons het nog nooit êrens ‘n sent kontant nodig gehad nie, nie eers toe ons die publieke badkamers wou gebruik nie. My dahl is werklik heerlik geurig en Lodewyk se hamburger glad nie sleg nie, die porsies net ietwat klein, maar saam met ‘n lekker sterk koffie is ons uitgesorteer vir die dag.

Dag 2 is ons besoeke aan die paleise: Ons ry met die bus tot by Trafalgar Square vanwaar ons na Bukingham Paleis wil gaan. Ons vertoef ‘n wyle voor Suid-Afrikahuis waar die vlag bo die springbok wapper. Agter ons bommel die motors en busse skielik op, ‘n hele verkeersopeenhoping, en ons wriemel tussen die verkeer deur op pad na ons busstop. Maar die pad is toegesit, erens is ‘n gaslek, so dus ook geen busse nie. Ons stap aan om ‘n volgende busstop te kry, maar dis toe nie so maklik nie, so vat maar later kortpad deur die tuine Bukingham-paleis toe. Daar is ‘n hele geroesemoes van mense wat “changing of the guards” kom kyk, ook in die hoop om ‘n koninklike of twee te sien vertrek, want die koninklike vlag wapper wat aandui die koninlikes is tuis. Wel, oral in die binnehof dwaal deftig gekledes rond en elke nou en dan kom daar ‘n lang swart motor statig deur die hekke gery en moet die klein skare terugstaan. maar of ek ‘n koninklike gewaar het aldan nie, kan ek rerig nie sê nie. Hiervandaan hoop ons om weer ‘n bus te vang na Kensington Paleis, maar geniks daag op nie. Na ‘n kilometer of wat se loop, uber ons uiteindelik tot by die paleis wat voorheen ook die tuiste van prinses Diana was. In die tuin is daar ‘n spesiale standbeeld by die “Sunken Gardens” deur haar seuns opgerig ter nagedagtenis aan haar. Ons drentelstap deur die paleistuine, later deur die lowerryke Hyde Park. Oral is bome in bot, lowergroen, tussen die grasse rinkink eekorinkies en op die meer swem swane swierig. Oral drentel mense op die looppaadjies.

Wat ‘n verligting toe ons uIteindelik weer ‘n Lootbus te siene kry wat ons kan terugneem Leicester Square en Chinatown toe. Na 15 km volgens my horlosie is ons voete seer en ons is doodhonger. In ‘n smal doolhoof in Chinatown lees ons op ‘n straatkafee-venster: Chinese food; eat as much as you like. Bietjie dodgy, maar ons stap in. En watse verrassing is dit toe nie. ‘n Selfhelp-eetplek met eenvoudige dog geurige Chinese kos waar jy kan skep waarvan jy hou en soveel soos jy wil. ‘n Bargain. (Vanaand sou ‘n enkele dum sum nie die ding gedoen het nie).

 Op dag 3 vat ons die Underground Harrods toe. Voorheen het ek nog maar altyd ‘n tube vermy, want ek hou nie baie van noutes nie, maar hierdie is by verre die vinnigste en goedkoopste manier van reis. Die hele tyd het ek nou al bubble tea-stalletjies gesien en die een voor Harrods geval my – ek bestel ‘n melkerige bloubessie en Lodewyk kies ‘n chai-speseryerige een. Lekker, maar soet en vullend.

Harrods se grondvloer is die ene ouwêreldse kosuitstalruimtes met klaargaarkosse – wat my opval is dat buiten vir die indrukwekkende sjokolade- en teekamer en ‘n reuse groot vis- en vleisuitstalrak, o ja, asook rakke en rakke sourdough, dit meestal Midde-Oosterse/ Mediterreense kosse is waar die mense toustaan om te koop. (Yotam Ottolenghi het beslis ‘n groot invloed hier).

Terug met die Underground drentel ons laatmiddag vir oulaas deur die besige Picadilly Circus, word weer kind in die reuse speelgoedwinkel, Hamleys met sy lewensgrootte Lego-poppe (ook die koninklikes), koop ‘n paar aandenkings en peusel aan ‘n geurige dim sum, nou wel amper’n plaas se prys maar uit en uit die moeite werd. Terug in die hotel, is daar nog genoeg van ons Tesco-proviand om vir ons ‘n lekker aandkossie aanmekaar te slaan terwyl ons ons tasse pak. Môre vlieg ons terug via Istanbul.

Leave a comment