Eilandbekoring

Na 10 dae op see is daar groot opwinding om twee dae agtereenvolgens aan wal te kan gaan en twee eilande in die middel van die Atlantiese Oseaan te verken – Tenerife, die grootste van die Spaanse Kanariese eilande waar ons sy bekende dormante vulkaan, Mount Teide, wat ook Spanje se hoogste piek is, besoek. En dan is daar Madeira, die veelkleurige Portugese eiland met sy pragtige tuine, historiese geboue en kobbelsteenstraatjies waar ons op ‘n onvergeetlike straat-en-eetstaptoer die hoofstad, Funchal, platloop.

Vroegoggend vaar ons Tenerife se hawe, Santa Cruz, binne. Die geboue opmekaar gepak in die valleie en teen die bergpieke uit. Ons bustoer neem ons met ‘n dun soms angswekkende kronkelpaadjie (waar ons bus om ‘n haarnaalddraai moes terugstoot sodat ‘n ander een kon verby) eers deur die boomryke plantasies tot hoog bo die wolke na die wêreld se derde hoogte vulkaan, Mount Teide, op ‘n hoogte van 3,715 m, ook ‘n wêreld-erfenisgebied. Die velde swart vulkaniese klip en bykans geen plantegroei laat dit na ‘n maanlandskap lyk. Dit lok n verstommende 3 miljoen besoekers jaarliks.

Ons is ‘n klein groepie wat Funchai, die Portugese eiland, Madeira, se hoofstad, te voet verken. ‘n Staptoer wat ons die mees historiese geboue in die stad wys en ons deur die kobbelsteenstrate neem terwyl ons kort-kort stop om ‘n happie te geniet van Madeira se mees tradisionele kosse. Ons eerste proesel is Pastis de Nata, die bekende soet Portugese melktertjie. Daarna stop ons vir ‘n heerlike broodjie, Prego no bolo Caco, by ‘n straatkafee saam met hul bekende bier, Coral. Die pasgebakte panpitabroodjie is steeds stomend warm en gevul met ‘n geurige rafelvarkvleis wat in wyn saam met baie knoffel en tiemie gestowe is. Werklik geurig en heerlik.

Die nou kobbelteenpaadjies neem ons verder na die “downtown Funchai”, oftewel Rua de Santa Maria, die onderdorp van die stad met sy 500 jaar oue geboue. Voorheen was dit baie verwaarloos, maar nou is dit pragtig opgeknap met ‘n briljante projek van “the painted doors”  waar meer dan 200 ou verweerde straatdeure deur kunstenaars verfraai is. Met sy vele restaurantjies en straatkafees, tafeltjies en stoele wat die hele straat vol staan, het dit  ‘n groot toeriste-attraksie geword.

Dis ook hier waar ons aandoen by die 200 jaar oue fabriek- en winkel, Fabrica Santo Antonio, om die beroemde “Madeira sugar cane honey cake” te proe. Die heuning verwysend na die molasse wat van suikerriet, wat ‘n groot landbouverbouing op Madeira is, verkry word,  Die winkel is binne steeds ouwêrelds soos van ouds, maar die fabriek is darem al ietwat gemoderniseer. Die “heuningkoek” is klewerig en lekker gespesery met baie neute en rosyne. Laat my dink aan ‘n kombinasie van ‘n gemmer- en tipseytert, miskien selfs vrugtekoek. Die koek, wat tradisioneel met gis gemaak word, word meestal tydens Kersfees gebak, maar daar word dwarsdeur die jaar daaraan gesmul, want hoe langer dit staan, hoe lekkerder raak dit.

Die Funchai-kosmark is die ene bedrywigheid met oral groot uitstallings blomme en vars tropiese vrugte waarvan ons ook ‘n happie geniet: van verskeie soorte grenadilla tot dragonfruit en piesang en selfs ‘n tipe Delicious Monsterplant wat ‘n amperse piesangagtige vrug dra.

By die visafdeling in die mark, is daar buiten vir tuna en sardyne ook espada, ‘n lang grillerige diepseevis met lelike tande, wat pikswart word die oomblik as dit uit die water gehaal word. ‘n Groot delikasie in Madeira en Portugal en werklik glo heerlik. (Ons het ongelukkig nie ‘n proesel gekry nie).

Ons sluit ons toer af met ‘n demonstrasie van Madeira se gewilde drankie, Poncha. Dit word vinnig saamgeklits (gevryf tussen die handpalms) met ‘n soort houtkliter (herinner my aan die draad-en-houtklitser wat hier by ons gebruik word om tradisionele pap mee te roer) en gemaak met ‘n tipe rum, heuning, suurlemoen en suiker. Ons kry dit te drinke saam met ‘n bakkie grondbone en groen lusernsade. Heerlik om jou dors te les, maar het ook ‘n lekker skop.

Na ons toer het ons nog genoeg tyd om bietjie die strate verder te verken en gou ‘n paar geskenkies te koop – kurk-items en Madeira-teëls asook ragfyn borduurwerk is veral baie gewild. Met ons kopies onder die arm stap ons tevrede al kuslangs terug boot toe. Madeira sal ek beslis nog verder wil verken.

Leave a comment